Buitelewe

Pak slimmer & reis lekkerder

Thule RoundTrip 55 liter-buissak

Ek het dié outjie in 'n gelukstrekking by 'n fietsresies gewen en sedertdien is dit die reissak wat ek inspan as ek vir 'n paar dae weggaan.

Eerstens is dit 'n fietsryer se droomsak, want dit het genoeg ruimte vir drie tot vyf dae se fietsry-toebehore, met spesiale kompartemente vir jou valhelm en al jou hemde, sokkies en broeke.

Dit het selfs 'n spesiale seilvakkie vir jou skoene, wat maklik skoongemaak kan word. Die opening van die sak maak lekker wyd oop sodat jy alles kan sien as jy vinnig jou windjekker moet vind.

Jy kan vuil klere in 'n aparte sak in die boonste flap bêre, en daar is plek vir jou energiestafies en klein toerustingstukke in die voorste sak. Die sak kan ook vir ander uitstappies gebruik word, en die vakkies kan op 'n verskeie maniere gerangskik word sodat dit geskik is vir 'n langnaweek.

én dit pas in die oorhoofse bagasieruim van 'n passasiersvliegtuig.

Prys R3 499, thulestore.co.za

Olive Tree- 7-stuk-bagasiestel

Wanneer jy langer as 'n week weggaan en nood-gedwonge met 'n groot tas reis (en daaruit leef), is dié stel net die ding sodat jy nie jou humeur verloor vir 'n paar ontwykende sokkies nie.

Takealot bied 'n magdom van keuses, maar hierdie netjiese nylonstel van Olive Tree bied goeie waarde vir geld. Die bokant van elke groot sak is van gaas sodat jy maklik jou broeke van jou hemde kan onderskei, en daar is aparte sakke vir jou onderklere, skoene en vuil klere, asook 'n badsakkie.

Rekbande met gespes hou alles netjies in plek. Dis beskikbaar in swart, grys en bruin.

Prys R419, takealot.com

Weg-kamerasak

Jou kamera moet altyd binne reikafstand wees op reis, want jy weet nooit wanneer daai jagluiperd 'n springbok hier reg voor jou gaan plattrek nie. Boonop is jou kamera en sy lense waarskynlik van jou kosbaarste besittings.

Daarom kort dit 'n ordentlike sak. Hierdie een is spesiaal volgens ons behoeftes vervaardig: Jy kan die kompartemente aan die binnekant verstel (nes met die Thule-buissak hierbo), en jy bêre jou ekstras soos 'n notaboekie en geheuekaarte in die ritssakkie in die boonste flap.

Dit het ekstra kantsakkies, asook 'n lang sak met 'n ritssluiter voorlangs vir 'n foon, beursie en 'n blikkie Zambuk. Die binnevoering is sag sodat jou toerusting nie gekrap word nie, en die wande stewig.

Die buitenkant is gemaak van sterk seilmateriaal. Gebou om te hou. Nes jy!

Prys R790, winkel.weg.co.za

M&M-skouersak

'n Goeie skouersak is meer as net 'n handsak vir mans. Die dae waar jy jou bultende beursie propvol strokies, 'n bos sleutels wat alles van jou Fortuner tot die pakkamer moet oopsluit en jou slimfoon met die ekstra-groot skerm by jou PT-broek se sakke kon inprop, is lankal verby.

Hierdie sak is gemaak van sterk katoenseil met soliede bronsritssluiters en stewige gespes. Binne-in is verskillende kompartemente om alles - foon, beursie, Leatherman, notaboek en 'n selfs 'n moersleutel - netjies georden te hou.

Dis nie net prakties nie, maar mooi genoeg vir mans én vroue.

Prys R1 599, safarioutdoor.co.za

Naturehike 50 liter- opvoubare ammokis

Noudat al jou persoonlike besittings mooi georden is, gaan jy die motor moet begin pak. En as jy langpad ry, weet jy ammokiste is onontbeerlik om jou kamptoerusting, kos en kombuisware in te stoor.

Plaaslike maatskappye soos Frontrunner en Tentco is bekend vir hulle sterk ammokiste, maar Naturehike bied nou 'n gawe alternatief.

Die maatskappy het vinnig 'n gevolg onder stappers en fietsryers opgebou vir sy liggewig tente en staptoerusting wat nie veel plek opneem nie. Hierdie kis is geen uitsondering nie.

Dis gemaak van 'n sterk plastiek wat 20 kg kan stoor, en jy kan nog 60 kg se ander kiste bo-op hom stapel. Die boks self weeg net 3 kg en - die beste van alles - hy vou maklik op tot 'n kompakte vorm as jy hom nie gebruik nie.

Daar is ook 'n luik aan die kant van die kis as jy nie die bokant wil of kan oopmaak nie. O ja, jy kan dit ook as 'n koelboks gebruik - dis veronderstel om bier en koeldrank vir 80 ure koud te hou.

Prys R999, naturehike.co.za

Tentco AmaBox-binnesakke

As jy hou van kamp en op safari gaan, sal 'n Tentco-katalogus jou soos 'n jakkals in 'n hoenderhok laat voel. Jy gaan nie weet waar om eerste jou tande in te slaan nie.

Dié Suid-Afrikaanse maatskappy is bekend vir sy tente en toerusting wat van sterk Ripstop-seil gemaak word. Hierdie stel van drie sakke is ontwerp om mooi binne-in 'n standaard-ammokis te pas.

Jy kan van bo af sien wat binne-in is sodat jy nie élke sak hoef oop te rits op soek na die blikkie kondensmelk nie.

Verskeie konfigurasies van binnesakke is in verskillende groottes beskikbaar.

Prys R310, tentco.co.za

Tentco AmaBox-buitesakke

As jy in iets soos 'n Suzuki Jimny of 'n kortgat Land Rover Defender ver gaan toer, is ammo-kiste op die dakrak 'n gegewe as jy nie iets wil sleep nie. Hierdie Ripstop-seilsakke is perfek om stof, sand en reën uit te hou.

Jy kan hulle in 'n enkel-, x2-, x3-, x4- en x8-konfigurasie aanskaf. Die binnekant is met PVC uitgevoer sodat jy dit maklik kan skoonmaak, en die sak maak met 'n ritssluiter en Velcro-stroke toe.

Hierdie x2-sak wat mooi netjies op 'n Jimny se dak pas, is 'n belegging in gemoedsrus.

Prys R620, tentco.co.za

Front Runner Stratchits

Vergeet nou eers van daardie bungy-fietsrekke met die vieslike hakke wat altyd teruggeskiet en jou oor die kneukels geraps het as jy jou skooltas agterop jou fiets moes vasmaak.

As jy eers hierdie voorste rekke van Front Runner getoets het, gaan jy nie gou iets anders wil gebruik om jou ammokiste of branderplank bo-op jou dak vas te maak nie.

Dis asof 'n sperstrop en 'n bungy-rek 'n kind gehad het en dit Stratchit genoem het. Die rekke, wat in stelle van twee verkoop word, absorbeer spanning en dis doodmaklik om hulle met die hand styf te span.

Ek bêre altyd 'n ekstra stel of twee in my motor se mossienes net ingeval iets êrens vasgemaak moet word.

Prys R455, frontrunneroutfitters.com

Leisure Quip- opvoubare vullisblik

Dis verbasend hoe vinnig rommel kan ophoop wanneer jy in die middel van nêrens kamp. Blikkies, kartonhouers, bottels, plastiek en ander oorskiet moet netjies bymekaar gehou word, want jy gaan dit waarskynlik moet wegry tot by 'n vullisblik in die beskawing.

Hierdie opvoubare "vullisblik" kan jy maklik karwei aangesien dit klein opvou, maar stewig staan as jy dit eers opgeslaan het. Reis sommer met twee, want die ander een werk goed as 'n houer vir vuil wasgoed.

Prys R329, outdoorwarehouse.co.za

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM