Buitelewe

Reistoerusting: Die Weg-span se gunstelinge

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Foto: Gettyimages.com
Foto: Gettyimages.com

Cape Mohair-sokkies

Daar is party mense wat onderlangs brom as hulle sokkies as 'n Kers- of verjaardaggeskenk ontvang. Maar as jy al ooit in jou lewe lang ente gaan stap het, gaan jy nooit nee sê vir 'n paar sybokhaarsokkies van Cape Mohair nie!

Suid-Afrika is die grootste produsent van sybokhaar in die wêreld, en Cape Mohair maak al meer as 30 jaar sokkies, kouse en klere van die "edelste van alle veselstowwe".

Die voordele van sybokhaar bo gewone wol of sintetiese stowwe is legio: Deur vog in die atmosfeer natuurlik te absorbeer en vry te stel, het jou sokkies sy eie natuurlike lugverkoelingstelsel en sweet jou voete nie; Dis sag en irriteer of krap ook nie jou vel soos party wolsokkies nie; Dis liggewig, en dus kan jy maklik drie of vier pare inpak op 'n veeldagstap, dis warm in die winter en duursaam.

Jy gaan hárd en lank moet stap om 'n paar sybokhaarsokkies deur te loop.

Prys R150 by https://destinationsoutdoor.co.za/?s=cape+mohairdestinationsoutdoor.co.za

Jim Green African Ranger-stewels

Noudat jy weet watter sokkies om te koop, is dit tyd om 'n ordentlike paar leerstewels aan te skaf. Jim Green Footwear het 'n fabriek in Pietermaritzburg, en het die afgelope drie dekades kultusstatus onder Suid-Afrikaanse stappers, boere en bouers bereik.

Hierdie is behoorlike "dans-kerk-en-werk-stewels" waarvan elke paar met die hand uit 100% plaaslike materiale gemaak word.

As jy ernstig is oor stap, kan jy iets soos die Monster Waterproof (R2 700) oorweeg, maar my gunsteling is die African Ranger (foto's) vir alledaagse gebruik en dagstappe. Jim Green se mense het eers 'n hele lys vrae aan veldwagters gestuur om te hoor wat hulle van 'n skoen verlang.

Natuurlik was gemak, duursaamheid en bekostigbaarheid boaan die lys, maar ook goed soos die sool wat van 'n sagter rubber gemaak is om stiller deur die veld te kan loop, is by die ontwerp van die Ranger ingewerk.

Dubbellae leer is rondom die toon, hak en veterogies ingespan om die skoen nog langer te laat hou. En ja, jy kan jou African Rangers hersool.

Jim Green werk nou saam met die Veldwagtersvereniging van Afrika, en vir elke tien pare Rangers wat verkoop word, word een paar aan 'n veldwagter geskenk.

Prys R2 150 by https://jimgreenfootwear.co.za/jimgreenfootwear.co.za

Lula Handmade-toksak

Afgeleefde T-hemde, rokke, jeans, handdoeke - ag, enige ou stuk lap - hoef nie op die ashoop te land nie.

Marla van der Merwe en haar span by Lula Handmade op Somerset-Wes gebruik waar moontlik herwonne materiaal om 'n reeks byderwetse en praktiese produkte soos reissakke, potplanthouers, grimeersakkies en veel meer te maak.

Hierdie groot toksak, bekend as die Green Jean, is perfek as jy beplan om die naweek weg te breek na 'n selfsorghuisie aan die Weskus.

Die rateltaai denimmateriaal aan die buitekant gaan nie deur seelug en sand verrinneweer word nie terwyl die sagte binnevoering jou waardevolle artikels beskerm. Daar is vier sakke aan die kante en nog twee rits-sluitersakke binne-in.

As jy terugkom by die huis, kan jy die dra-strop verwyder en die hele sak in die wasmasjien gooi. En vir die prys kan jy sommer twee koop!

Prys R400 by https://lulahandmade.com/collections/duffel-bagslulahandmade.com

Slater & Dutch - Die Gentleman

MC van der Merwe is 'n sesde geslag skaapboer van Steytlerville, maar deesdae maak hy naam danksy sy leerprodukte wat met die hand gemaak word.

Slater & Dutch se winkel op Graaff-Reinet (Somerset-straat 63) is een van die moetsienplekke as jy die dorp besoek.

"Die sewe jare lange droogte was erg, en ek moes 'n plan maak om ekstra geld te verdien. Sowat ses jaar gelede het ek met leer begin werk, en sedertdien het die besigheid net gegroei," vertel hy.

Die Gentleman is 'n bladsak en 'n voorbeeld van hoe mooi en noukeurig Slater & Dutch se artikels geskep word. Dis gemaak van beesleer, uitgevoer met varkleer en geen masjien word in die proses ingespan nie.

Alles wat jy gedurende die dag gaan nodig kry (selfoon, bril, 'n A5-dagboek, beursie, sleutels en jou blikkie ZamBuk) pas netjies hierin. En as jy oor die naam gewonder het: Slater is die nooiensvan van MC se ma.

Haar voorouers het in 1820 op die seilskip Aurora van Engeland in Suid-Afrika gekom. Dutch verwys na die herkoms van MC se pa.

Die skip Aurora is in Slater & Dutch se logo verewig.

Prys R1 850 by https://slateranddutch.com/slateranddutch.com

Carma Quip Scout-slaapmat

Foto: Ronel Steyn
Foto: Ronel Steyn

Sedert Weg se ontstaan in 2004 het die span al baie selfopblaas-matrasse getoets, en is dit eens: Daar is nie 'n gemakliker en taaier matras as die een wat Marius la Cock van Carma Quip in sy werkswinkel in Durbanville maak nie.

Marius was op sy dag 'n Oranjeriviergids, en daardie jare se ervaring in die veld is sigbaar in al sy produkte. Die enigste jammerte was dat die opgerolde selfopblaasmatrasse net te groot was om op 'n veeldagstap saam te dra of op jou grondpadfiets of motorfiets vas te maak.

Dus was ons opgewonde om Carma Quip se nuwe Scout-slaapmat te toets. Ons het bevind die Scout is veral geskik vir veldmotorfietsryers. Dit word van dieselfde hoëdigtheidskuim en dik PVC-buitelaag gemaak as die ander matrasse, maar dit weeg 2 kg en rol in 'n kompakte 50 cm x 16 cm x 16 cm op.

As jy hom uitrol, is dit 1,8 m lank, 50 cm breed en 4 cm dik. Dit maak net mooi genoeg verskil tussen 'n aand van rondrol op koue klippies en duwweltjies en 'n goeie aantal ure se slaap.

Dit word verkoop met 'n taai bêresak, 'n strop met twee stewige gespes en 'n vierjaarwaarborg. 'n Nóg kleiner, ligter weergawe spesifiek gemik op fietsryers en stappers wat nie swaar wil dra nie, word binnekort bekend gestel.

Prys R995 by https://carmaquip.co.za/carmaquip.co.za

Core Merino-T-hemp

Ek het my eerste Core Merino-langmoutop agt jaar gelede by die Two Oceans Marathon-ekspo in Kaapstad vir byna R800 gekoop en toe gedink: Vrek, dis duur, maar kom ons kyk hoekom die goeie atlete in my hardloopklub die lof van hierdie produk besing. En net daar word ek 'n aanhanger!

Deesdae stap ek of ry ek meer fiets as wat ek hardloop, maar in alle gevalle is my eerste en baiekeer ook my tweede laag klere gemaak van merinowol.

Net soos in die geval van sybokhaar, is merinowol 'n natuurlike vesel wat sag en lig is en boonop maklik asemhaal sodat jy warm voel in die koue en koel in die hitte. En ná 'n lang dag se stap gaan mense nie neus optrek as jy langs hulle by die vuur neerplons nie!

Core is in Gqeberha gesetel en al sy wol kom van Suid-Afrikaanse boere wat toegewy is tot die welstand van hulle skape en die omgewing.

Kledingstukke wat beskadig of uitgedien is, word in buisserpe omskep, papier en karton pleks van plastiek word in Core se verpakking gebruik en as jou Core-hemp of -broek 'n skeurtjie het, kan jy dit aan hulle stuur om reggemaak te word.

En ná agt jaar is my langmouhemp steeds een van die eerste goed wat ingepak word wanneer ek op reis gaan.

Prys R1 350 by https://coremerino.com/coremerino.com

AR Gaiters-mini-kamaste

Foto: Ronel Steyn
Foto: Ronel Steyn

'n Korreltjie sand, 'n stokkie of selfs net een grassaad in 'n skoen kan jou Baviaans Camino al op Dag 1 pynlik ontspoor. Dis hier waar 'n ordentlike stel kamaste (oorkouse) jou voete en jou vriendskappe gaan red.

Van die beste en oulikste word deur die gedugte ma-en-dogterspan Liz en Lisa de Speville van George gemaak. Lisa, 'n ultramarathon-atleet, het amper 20 jaar gelede begin om eers vir haarself en toe vir haar vriende hierdie mini-kamaste te maak om oor haar veldlooptekkies te pas.

Bestellings het begin instroom (deesdae van reg oor die wêreld heen) en haar ma, Liz, het ingespring om te help. Vandag maak hulle 'n verskeidenheid kamaste met die hand vir stapstewels, veldloopskoene en vir atlete wat aan avontuurwedlope deelneem.

Die AR Mini pas oor alle groottes skoene. Aan die voorpunt haak die kamas aan jou skoenveter vas, terwyl ‘n strokie Velcro wat jy op jou skoen se hak plak (dit word verskaf) die agterkant in plek hou.

En rekke in die twee kantsome span die kamas knap bo-oor jou skoen en rondom jou skeen gespan. Daar is 'n magdom van ontwerpe om van te kies.

Prys R270 by https://argaiters.co.za/argaiters.co.za

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM