Weet voor jy waai

Ganse snater steeds koning
Daar is geen beter vulsel vir 'n slaapsak as gansdons nie. Nie net is dit een van die beste isolasiemateriale in die wêreld nie, maar dit is ligter en rol kleiner (en makliker) op as slaapsakke met sintetiese vulsels.
Jy betaal wel duur daarvoor, en as dit nat word, is daar perde. Maak dus seker jou slaapsak se buitelaag is behandel met DWR (durable water repellent) sodat dit waterwerend is.
Daar is ook etiese oorwegings siende dons 'n diereproduk is. Soek na die Downmark- of die Responsible Down Standard (RDS)-plakker om te verseker die dons in jou slaapsak is eties bekom.

Wat beteken die syfers?
Die vulselkapasiteit of fill power is die dons se vermoë om uit te sit. Dit word gewoonlik met 'n syfer tussen 300 en 900 aangedui. Hoe hoër die syfer, hoe meer sit die dons uit sodat die slaapsak ligter, warmer (en duurder) is. As jy op jou volgende staptog in die herfs of winter buite gaan slaap, moet jy nie laer as 600 mik nie.
Die meeste vervaardigers sal ook 'n temperatuurgradering in °C aandui. Let eerder op die gemaksgradering of comfort, en ignoreer die uiterste (extreme) gradering. As die sak byvoorbeeld 'n gemaksgradering van 5 °C het, is dit die temperatuur waarteen jy snoesig (sonder ekstra klere) gaan slaap.
Die uiterste gradering sê dalk -15 °C, maar dit beteken jy gaan die volgende oggend net-net nog asemhaal.
In ons Suid-Afrikaanse toestande soek jy 'n somersak met 'n gemaksgradering van 5 °C, en 'n wintersak van 0 °C (dis sommer ook jou somersak as jy hoog in die berge gaan stap). In die winter soek jy 'n gemaksgradering van ten minste -5 °C as jy tussen die spitse gaan slaap.
First Ascent Amplify Down 900

Suid-Afrikaans vervaardigde slaapsakke lê heel gemaklik saam met van die beste in die wêreld, soos hierdie 1,7 kg bielie van First Ascent. Dis een van die duurste, swaarste en dus ook warmste slaapsakke wat ons getoets het.
Dis nou maar wors dat jy swaarder gaan dra aan 'n warm slaapsak. Alles in die Amplify is daarop gemik om hitte te behou, van die 650 donsveervulselkapasiteit tot die noupassende vorm wat soos 'n Egiptiese mummie se sarkofaag om jou pas.
Die ritssluiter skuif nie heeltemal tot onder oop nie; daar is 'n handige sakkie binne-in om jou foon en flits te bêre en elastiese rekke om die kappie en kraag styf om jou nek en kop te trek - alles om jou in temperature onder vriespunt warm te hou.
Die gemaksgradering van -3 °C maak dit geskik vir herfs- en winteravonture.
Prys R5 299 by firstascent.co.za
K-Way Kilimanjaro 3 Thermashift

As jy beplan om die Bell Traverse in die Drakensberg in Junie te stap, gaan jy bly wees jy't die Kili saamgepiekel wanneer jy laatmiddag in die Twins-grot nesskop. Dit weeg dalk 1,75 kg, maar die vulselkapasiteit is 700 en die gemaksgradering is -8 °C.
Jy kan die dons in die gestikte buise rondskuif na gelang van waar jy koudkry, en 'n poliësterbinnelaag hou vog weg van jou lyf af sodat jy droog bly. As dit regtig koud en eensaam word, kan jy 'n linkerkantsluitersak aan jou stapmaat se regter een vasrits sodat julle mekaar kan warm broei.
Prys R4 299 by capeunionmart.co.za
Naturehike CW400

Hierdie is tans my gunsteling-donsslaapsak as ek in die lente, somer en vroegherfs gaan stap of vir 'n paar dae grondpaaie op my fiets gaan ry. Nie net weeg dit 'n skrale 915 g nie, maar die liggewig nylon kan in 'n klein bolletjie saamgepers word om pakplek te spaar.
Anders as die sakke in dié artikel, het die CW400 'n meer tradisionele koevert-ontwerp. As jy aan engtevrees ly, is hierdie 'n veel gemakliker slaapsak as die mummie-ontwerpe. Dit, en die feit dat die vulselkapasiteit net 400 en die gemaksgradering 5 °C is, maak dit in ons klimaat uiters geskik vir amper alles behalwe winteravonture.
As dit te warm word in jou tent, kan jy die slaapsak boonop heeltemal ooprits en dit as 'n duvet gebruik.
Prys R3 399 by naturehike.co.za
Vango Microlite 200

Ons is groot aanhangers van Vango se een- en tweemantente, maar dis die eerste keer dat ons een van sy slaapsakke toets. Amper die hele slaapsak word van waterwerende herwinbare materiale gemaak, en dit sluit die sintetiese vulsel in.
Soos met die Naturehike CW400 regs weeg hierdie sak minder as 1 kg en kan dit in 'n kompakte bondeltjie opgevou word.
Die gemaksgradering is ook 5 °C, maar die mummie-ontwerp wat so snoesig om jou lyf toevou, beteken dat jy vinniger gaan warm kry in die somer. Dis lekker vir die onverwagte koeler aande, maar jy gaan dit wil ooprits as die humiditeit toeneem.
Prys R2 499 by driftersshop.co.za
Tentco Tundra

Jy't jou vakansie só beplan dat jy hoogsomer saam met die kinders by Klein-Kariba vir 'n week of twee gaan kamp. Pa en Ma slaap in die woonwa, en Boet en Sus en elkeen se bestie slaap in die tent op draagbare beddens.
Wil jy nou regtig duisende rande op slaapsakke vir die jongspan bestee? Ons sou ook nie. Dis hier waar Tentco en die Tundra tot jou beursie se redding kom.
Dis 'n lekker ruim ouskoolse slaapsak, 'n koevert-ontwerp gemaak van poliëster en gevul met holvesel. Die gemaksgradering is 15 °C, perfek as jy ieder geval die meeste van die aand bo-op pleks van binne-in gaan slaap.
Aan die einde van die vakansie kan jy al die slaapsakke boonop net so in die wasmasjien gooi. 'n Goeie wenk is om daarna jou slaapsakke nie te styf op te rol nie, maar eerder in 'n kussingsloop te bêre sodat hulle hulle pof behou.
Prys R450 by campandclimb.co.za
















