Jy kan my onder 'n wip vang met 'n romerige sampioenrisotto.
Dié gereg word dikwels met spoggerige restaurante geassosieer, maar dit is eintlik Italiaanse huiskos en verspot maklik om te maak.
Meet al jou bestanddele vooraf, dan sal dit jou net 20 minute neem om te berei.
Die beste sampioenrisotto is ryk en romerig, met 'n wynparfuum en die umami-smake van parmesaan en sampioene. Dit is die soort gereg wat in 'n diep bakkie opgedien en met 'n groot lepel geniet moet word.
Geheimevir 'n goeie risotto
Rys: Die soort rys vir die maak van risotto is baie belangrik, want die romerigheid van die risotto kom van die rys se stysel wat stadig deur die roer-en-kookproses vrygestel word. Jy moet risotto-rys gebruik en kan nie gewone rys of rys soos jasmyn of basmati gebruik nie.
Risotto-rys bevat die perfekte hoeveelheid stysel wat nodig is om die romerige mondgevoel aan die risotto te verleen. Gewone rys het nie genoeg stysel nie.
Aftreksel: Hulle beveel aan dat jy die beste aftreksel gebruik, maar ek gebruik sommer goedkoop blokkies en dit werk net so goed. Die aftreksel moet warm wees, anders koel jy jou pot af en vertraag dus die kookproses. Maak die aftreksel met kookwater net voordat jy wegspring en begin dit dadelik gebruik.
Geurmiddels: Gebruik vars tiemie, knoffel, parmesaan en 'n skeut suurlemoensap om die gereg te balanseer. En dan 'n tikseltjie vars pietersielie om dit mee voor te sit.
Wyn of vermoet?: Vir tradisionele risotto word wyn gebruik, maar ek het by Jamie Oliver geleer om soet, wit vermoet (vermouth bianco) te gebruik. Dit verleen 'n unieke aromatiese parfuum aan die risotto en ek hou nou permanent 'n bottel in my huis net vir risotto.
Kry al die bestanddele gereed: Dit is van kardinale belang vir 'n goeie risotto. Gedurende die kook-en-roerproses moet jy nie van die pot wegkyk nie.
Wanneer is die risotto gaar? Dit neem so 20 minute om gaar te word, maar die beste manier om dit te bepaal is met jou oë en jou mond. Kyk eers na die pot Z die risotto moet romerig (effens loperig) wees, maar nie te dik nie. Neem dan 'n happie Z die rys moet sag wees, maar met 'n ligte byt (nie heeltemal al dente nie).
Sit dadelik voor
Hoe langer die rys staan, hoe meer vog absorbeer dit. As jy later wil eet, roer 'n bietjie water by wanneer jy dit opwarm.
Groete uit my kombuis
Anél

Sampioen-en-vermoet-risotto
Genoeg vir 6
Sampioene
- 300 g sampioene van jou keuse, gesny
- botter en olyfolie vir braai
Risotto
- 2 e elk botter en olyfolie
- 1 groot ui, fyngekap
- blare van 4 tiemietakkies (opsioneel)
- 1 knoffelhuisie, fyn gerasper
- 400 g risotto-rys
- 125 ml wit vermoet (vermouth bianco)
- 1,4 l groente-aftreksel (of hoenderaftreksel)
- 50 g parmesaankaas, gerasper
- 2 t suurlemoensap
- 1 e botter
- ½ t sout en varsgemaalde swartpeper of meer na smaak
Vir voorsit
- gekapte pietersielie, gerasperde parmesaankaas en 'n bietjie olyfolie
Só maak mens
Sampioene:Braai die sampioene oor hoë hitte bietjies-bietjies op 'n slag in die botter en olyfolie.
Risotto: Verhit die botter en olie in 'n groot pot saam. Braai die ui, knoffel en tiemie tot sag en deurskynend. Voeg die rys by en roer goed deur. Giet die vermoet by en laat dit oor matige hitte afkook terwyl jy aanhoudend roer. Gebruik 'n groot soplepel om die aftreksel lepel vir lepel by te voeg. Roer aanhoudend. Elke lepel moet eers afkook voordat jy die volgende lepel byvoeg. Hou aan om die aftreksel by te voeg totdat die rys verdubbel het en sag genoeg na jou smaak is (dit behoort sowat 20 minute te neem). Roer die sampioene, parmesaankaas, botter, suurlemoensap, sout en peper deur. Proe en geur met nog sout en peper indien verkies. Sit voor met pietersielie, parmesaankaas en 'n paar druppels olyfolie.
Risotto met rooster-tamaties
Genoeg vir 4
- 3 e olyfolie en ekstra vir voorsit
- 1 groot ui, fyngekap
- 1 ½ k risotto-rys
- 2 knoffelhuisies
- 1 k rosé (droë rosé, nie soet nie)
- 4 middelslag-tamaties, gekap
- 1 liter warm hoenderaftreksel
- 100 g parmesaankaas, fyn gerasper
- 15 basiliekruidblaartjies, geskeur
- sout
- swartpeper
- Garnering
- (Maak dit voordat jy die risotto maak.)
- 10 babatamaties, middeldeur gesny
- 2 e olyfolie
- sout
Só maak mens
Garnering: Sprinkel die olyfolie en sout oor die tamaties en rooster by 200 °C vir so 10-15 minute tot gaar.
Risotto: Braai die ui oor matige hitte in die olyfolie. Voeg die rys by, roer goed deur en braai vir nog 2 minute. Voeg nou die knoffel, wyn en tamaties by. Laat prut oor matige hitte en roer totdat dit die meeste van die vloeistof geabsorbeer het. Gebruik 'n groot soplepel om die warm aftreksel lepel vir lepel by te voeg terwyl jy aanhoudend roer. Elke lepel moet eers afkook voordat jy die volgende lepel byvoeg. Ná sowat 20 minute behoort die aftreksel geabsorbeer en die rys die volmaakte graad van gaarheid te wees. Haal van die stoof af en roer 75 g van die parmesaan en die geskeurde basilie bly. Proe nou en geur met sout en swartpeper na smaak. Ek het sowat ¾ t sout en ½ t swartpeper gebruik.
Voorsit: Skep in opdienborde en garneer met geroosterde tamaties, die res van die parmesaan en 'n bietjie olyfolie.









