- - Vulsel
- - 1 klein botterskorsie, geskil, ontpit en in klein blokkies gesny
- - 2,5 ml (½ t) droë knoffelvlokkies
- - sout en varsgemaalde swartpeper
- - olyfolie, soos nodig
- - 2 uie, in skyfies gesny
- - 375 ml (1½ k) gaar heel sorghum
- - ’n hand vol vars koljanderblare, fyngekap
- - 2 wiele feta, grof-gekrummel of in klein blokkies gesny
- - Pasteie
- - 500 g skilferkorsdeeg
- - ’n bietjie meel vir uitrol
- - 1 eier, geklits
- - 15 ml (1 e) papawersaad (opsioneel)
- - Jogurtsous
- - 250 ml (1 k) natuurlike volroomjogurt
- - sap van 1 suurlemoen
- - 30 ml (2 e) gekapte vars grasuie
- - 30 ml (2 e) gekapte gemengde kruie
- - ’n knippie sout
Voorverhit die oond tot 180°C. Bespuit 2 bakplate goed met kossproei.
1. Vulsel Versprei die botterskorsieblokkies op een van die bakplate en geur met die knoffelvlokkies, sout en peper. Drup 'n bietjie olyfolie oor en meng goed deur.
2. Rooster 25-30 min. in die verhitte oond tot die botterskorsie gaar en liggies gekaramelliseer is. Roer die botterskorsieblokkies af en toe sodat dit eweredig gerooster word. Laat die botterskorsie eenkant staan tot heeltemal afgekoel.
3. Verhit intussen 'n bietjie olie in 'n pan en braai die uie oor matige hitte tot sag en gekaramelliseer. Skep uit die pan en laat eenkant staan tot heeltemal afgekoel.
4. Sit die afgekoelde botterskorsie en uie in 'n mengbak. Voeg die res van die vulselbestanddele – sorghum, koljanderblare en feta – by en meng liggies.
5. Pasteie Rol die deeg op 'n meelbestrooide oppervlak uit en sny in 6-8 sirkels van ongeveer 10-12 cm. Verf 'n bietjie van die eier om die rand van elke deegsirkel en skep 'n hopie van die vulsel in die middel van elkeen.
6. Vou die deeg om die vulsel sodat elke pastei soos 'n halfmaan lyk. Seël die kante met 'n vurk.
7. Pak die pasteie in 'n enkellaag op die bereide bakplaat en verkoel minstens 15 min. in die yskas.
8. Verf die bokant en sykante van elke pastei liggies met die eier. Sprinkel die papawersaad oor, indien gebruik, en sny 'n kepie in elke pastei.
9. Bak die pasteie 20-25 min. of tot goudbruin, gaar en bros.
10. Maak die jogurtsous deur die jogurt, suurlemoensap, grasuie, kruie en sout goed te meng en sit voor saam met die pasteie.





















