Kos + wyn

Sorghumwortelkoek

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Foto: Misha Jordaan
Foto: Misha Jordaan
  • - Koek
  • - 625 ml (2½ k) bruismeel
  • - 5 ml (1 t) bakpoeier
  • - 2,5 ml (½ t) fyn sout
  • - 5 ml (1 t) fyn kaneel
  • - 2,5 ml (½ t) gemengde speserye
  • - 100 g geroosterde sonneblomsaad
  • - 50 g gekapte pekanneute
  • - 500 ml (2 k) gerasperde wortel
  • - 375 ml (1½ k) gaar heel sorghum
  • - fyngerasperde skil van 1 lemoen
  • - 4 ekstragroot eiers
  • - 250 ml (1 k) ligbruinsuiker
  • - 250 ml (1 k) olie
  • - Versiering
  • - 100 g botter, teen kamertemperatuur
  • - 60 ml (¼ k) geroomde maaskaas of gladde roomkaas
  • - 5 ml (1 t) vanieljegeursel
  • - 750 ml (3 k) versiersuiker, gesif
  • - 5 ml (1 t) suur­lemoensap
  • - ’n knippie sout
  • - Afronding
  • - gekapte pistachioneute of ander neute van jou keuse
  • - 1 lemoen, in dun ­skyfies gesny

Die sorghum gee die koek 'n ekstra neutgeur, en saam met die lemoen is dit lipleklekker.

Voorverhit die oond tot 180 °C. Voer die bodem van 'n 25 cm-koekpan met bakpapier uit en bespuit goed met kossproei.

1. Koek Sif die bruismeel, bakpoeier en sout saam in 'n diep mengbak. Meng die speserye by.

2. Voeg die sonneblomsaad, neute, gerasperde wortel, sorghum en lemoenskil by, en meng liggies.

3. Klits die eiers en suiker saam in 'n ander mengbak. Klits die olie by. Voeg by die meelmengsel en meng met 'n houtlepel tot nét gemeng.

4. Skep die beslag in die bereide koekpan en bak 50 min. in die verhitte oond tot gaar en tot 'n toetspen skoon uit die middel van die koek kom.

5. Laat die koek 15 min. in die pan afkoel, keer versigtig uit en laat verder op 'n draadrakkie afkoel.

6. Versiering Klits die botter met 'n elektriese handklitser tot lig en romerig. Voeg die maaskaas of roomkaas en vanielje by en klits tot goed gemeng.

7. Voeg die versiersuiker lepel vir lepel by en klits tot glad en romerig. Klits die suurlemoensap en sout by.

8. Afronding Sny die koek in die middel deur sodat daar 'n bokant en onderkant is. Smeer die helfte van die versiersel oor die onderkant en sit die bokant van die koek terug bo-op dit. Smeer dan die res van die versiersel oor die hele koek. Sprinkel die neute bo-oor en rond af met die lemoen­skyfies.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM