Landbou

Sorghum is ’n wonderlike gewas

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Reggie Mchunu
Reggie Mchunu

Daar is baie voordele daaraan om sorghum te verbou - veral as jy in ag neem hoe maklik hy in verskeie weersomstandighede aanpas.

Reggie Mchunu van Pannar deel meer oor hierdie gewas deur die volgende vrae te beantwoord:

1. Waarom is sorghum 'n goeie gewas om te verbou?

Ons almal sien hoe weerpatrone heeltyd verander - iets wat dit al hoe moeiliker maak om te boer.

Sorghum is 'n maklike gewas om te verbou, aangesien dit droër weer verkies en kan oorleef tydens droogtetoestande. Dit kan egter ook oorleef as dit vir 'n tydperk in water staan.

Boonop groei dit in 'n verskeidenheid van grondsoorte, selfs grond waarin ander gewasse soos mielies, sojabone of sonneblom nie floreer nie. Om sorghum in jou gewasmengsel in te sluit, is 'n goeie manier om risiko te bestuur en jouself 'n beter kans te gee op 'n winsgewende seisoen.

Dis ook 'n belangrike manier om tot voedselsekerheid in ons land en op ons vasteland by te dra.

2. Is daar verskillende tipes sorghum?

Ja, daar is. Graansorghum is vir menslike verbruik en voersorghum word vir dierevoer gebruik.

In Suid-Afrika verbou ons twee tipes graansorghum: soet en bitter. Soet sorghum word hoofsaaklik verwerk vir meel, rys en gemaal vir pap (grits), terwyl bitter sorghum gebruik word vir die brou van tradisionele bier.

Hoewel voersorghum spesifiek vir diere is, verskaf graansorghum ook kaf wat vir veevoer gebruik kan word.

3. Is sorghum gesonder vir mense as mielies, koring of rys?

Verskillende graansoorte het verskillende eienskappe, so jy kan nie eenvoudig sê dat een beter as die ander is nie. Sorghum het egter voordele wat dit baie gesond maak. Dit bevat hoë vlakke van dieetvesel wat goed vir die gesondheid van jou spysverteringstelsel is. Dit bevat ook antioksidante wat jou liggaam help om kanker en hartsiektes te beveg. Sorghum bevat geen gluten nie, wat beteken dat dit ook deur mense met allergieë gebruik kan word. Dit is ook ryk aan proteïen wat ons liggame benodig, en is 'n tipe koolhidraat wat bloedsuikervlakke stabiel hou - 'n gesonde keuse vir diabete.

Een van die grootste voordele van sorghum is dat dit verskeidenheid tot jou dieet toevoeg, wat op sy beurt ook gesondheidsvoordele inhou.

4. Is dit duurder om sorghum te verbou as mielies?

Dit kan wees, bloot omdat ons 'n beter opbrengs van mielies op sekere grondsoorte kry.

Jy kan egter sorghum in grond kweek waar jy nie mielies kan plant nie, en sorghum kan onvoorspelbare weerpatrone beter as mielies weerstaan.

Sorghum is minder vatbaar vir plae en siektes; daarom het jy dikwels minder gewasbeskermingsprodukte nodig.

Ons raad is om verskillende gewasse te kweek sodat jy die sterk punte van elke gewas tot jou voordeel kan gebruik.

5. Wat moet boere in gedagte hou om sorghum suksesvol te verbou?

Sorghum hou van hitte: Die grondtemperatuur moet bo 18 °C wees vir die sade om te ontkiem, wat beteken jy kan in die meeste dele van die land in Oktober begin plant. Die plante groei die beste tussen 25 °C en 30 °C. Goeie opbrengste is moontlik by baie hoë temperature, maar sorghum kan nie koue verdra nie.

Graan- en voersorghum groei albei goed in byna enige grond, van sand tot klei. Dit verkies grond met 'n pH van 4,5 (kaliumchloried/KCl) tot 5,5 (KCl), maar kan selfs brak grond in 'n sekere mate hanteer. Hoewel sorghum goeie opbrengste selfs in swak grond kan lewer, reageer dit baie goed met goeie bemesting, veral stikstof.

Heksegras is soos gif vir sorghum - moenie die gewas in grond plant wat deur hierdie onkruid oorval is nie.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM