Alles begin met 'n scoby
Kombucha word gemaak van tee, water, versoeter en 'n kombucha-"scoby". Scoby staan vir "symbiotic colony of bacteria and yeast". Dit lyk soos 'n stuk jellie en is die lewende tuiste van die bakterieë en gis wat die tee laat fermenteer en verander in die gewilde soet-suur vonkeldrankie. Dis soortgelyk aan 'n gisplantjie vir bak - ná elke brousel kombucha vergroot die scoby-moeder sodat baie mense sê dit "maak 'n baba". Dis dié ekstra scoby wat jy net soos 'n gisplantjie kan weggee.
Die scoby wys ook of alles wel is met jou eerste fermentasie. As dit nie vergroot en 'n baba maak nie, het iets skeefgeloop - gooi weg en begin met 'n nuwe scoby.
Beginstelle met al die instruksies, 'n broufles, tee-bestanddele en 'n scoby is by gesondheidswinkels en aanlyn te koop. Probeer Theonista van faithful-to-nature.co.za.
Doen 'n bietjie navorsing vooraf
Koop en proe 'n paar kombuchas van verskillende handelsmerke sodat jy 'n verwysingsraamwerk het van hoe die drankie smaak voor jy jou eie begin brou.
Onthou
Was jou hande deeglik voor jy die scoby hanteer en steriliseer die lepels en bottels wat jy gebruik terwy jy brou - net soos wanneer jy konfyt kook. Bly ook weg van plastiek, en metaal wat met die sure kan reageer.
Eerste fermentasie
WAT JY NODIG HET
- 3,3 liter kookwater
- 200g (250ml) suiker
- 8 Ceylon-teesakkies*
- 1 scoby
- sowat 500ml ongegeurde klaar kombucha (gekoop as dit jou eerste brousel is, of hou 'n botteltjie van jou vorige brousel in die yskas vir dié doel)
* Kies 'n swart tee wat kafeïen bevat.

1 Roer die suiker in die kookwater in 'n kastrol tot opgelos, haal die kastrol van die hitte af en voeg die teesakkies by. Laat dit goed trek, verwyder die sakkies en giet die tee in die broufles. Laat dit heeltemal afkoel tot kamertemperatuur. Voeg die scoby by, asook die ongegeurde kombucha.

2 Maak die fles toe met skoon, styfgeweefde lap (of 'n koffiefilter) en hou dit in posisie met 'n rekkie of tou. Dit hou onsuiwerhede uit jou brousel. Laat staan dan vir 6 tot 10 dae om te fermenteer in 'n donker plek soos 'n kas of op 'n spensrak waar die temperatuur konstant gaan wees.
Die omgewingstemperatuur speel 'n groot rol: te warm sal 'n vinniger reaksie tot gevolg hê en te koud sal maak dat die kombucha nie reg fermenteer nie. 'n Gemaklike kamertemperatuur (sowat 21°C) is ideaal. Proe ná 6 dae met 'n strooitjie - die kombucha moet 'n aangename, asynagtige suur smaak hê. Hoe langer dit fermenteer, hoe minder soet sal dit word namate die suiker in die proses opgebruik word.

3 Tydens fermentasie kan die scoby bo-op die oppervlak, onder in die fles of op sy kant iewers in die middel dryf. Solank dit ná 'n paar dae 'n nuwe roomkleurige laag op die oppervlak begin maak, verloop die proses reg. Dis gewoonlik vas aan die moeder-scoby, maar as dit los van mekaar is, is daar nie noodwendig fout nie. Daar kan ook draderige stukkies dryf en sedimente onder in die fles vorm (dis normaal, net soos wanneer jy met gis gemmerbier brou).
Borreltjies om die scoby wys dat die fermentasie gesond is. Sodra die smaak vir jou die regte balans van soet en suur het, kan jy botteleer. Verwyder die scoby uit die fles met skoon hande en hou dit in 'n bietjie kombucha in 'n fles vir jou volgende sarsie.
Tweede fermentasie
WAT JY NODIG HET
- glasbotteltjies wat lugdig seël
- kombucha-tee van jou eerste fermentasie
- geurmiddels soos 30ml vrugtemoes of -sap, 'n skyfie lemoen of suurlemoen, 'n paar teelepels heuning of 'n skyfie verglansde gemmer per bottel

4 Dit is tydens die tweede fermentasie dat die kombucha borreltjies maak en vonkel. Giet jou eerstefermentasie-kombucha deur 'n tregter in skoon glasbotteltjies (syg eers deur 'n doek as jy nie enige sediment wil hê nie), maar moenie die bottels oorvol maak nie. Voeg nou by elke botteltjie die soet geurmiddels van jou keuse - dis vir die smaak, maar ook om die goeie bakterieë in die tee die nodige energie te gee om borreltjies te maak. Laat staan nou vir 3 tot 10 dae op 'n donker plek of uit direkte sonlig teen kamertemperatuur.
Onthou Sodra 'n drankie karboneer (dit wil sê vonkel), bou daar druk op in die bottel en kan die glas bars. Maak af en toe die bottels oop om die druk te verlig en proe dan sommer ook hoe dit vorder. Hou in die yskas sodra dit na wense vonkel en smaak - dit gaan nie ophou fermenteer nie, net stadiger fermenteer weens die koue. Drink dit binne 1 maand op.

Tjorts!
Die aanbevole daaglikse hoeveelheid kombucha wissel van persoon tot persoon. Begin met 'n porsie van 150 ml per dag. Jy kan dit net so drink of kombineer met vrugtesap en kruie vir 'n feestelike drankie tydens 'n laatontbyt. Ek is mal oor 'n kombinasie van gemmergegeurde kombucha en net soveel beetsap, met 'n paar rooi bessies en eetbare blommetjies vir die mooi; of ewe veel lemoensap en kombucha; of garneer dit met mentblare en skyfies gemmer en komkommer.
Is daar alkohol in kombucha?
Net soos by tuisgebroude gemmerbier kan 'n neweproduk van fermentasie 'n klein bietjie alkohol vorm, maar dis gewoonlik minder as 1%.
Bronne liveeatlearn.com; traditionalcookingschool.com; mindfulmomma.com; thekitchn.com


















