- Vir die sous -
- 375ml - (1½ k) kookwater
- 250ml - (1 k) suiker
- 30ml - (2 e) botter
- Vir die deeg -
- 280g - (2 k) koekmeel
- 10ml - (2 t) bakpoeier
- 125g - (½ k) botter of margarien
- 2 - eiers, geklits
- 62,5ml - (¼ k) melk
- 125ml - fyn appelkooskonfyt
Ek is dol oor hierdie poeding wat my ouma Marie al maak vandat ek kan onthou. Dit is een van daai resepte waarsonder 'n mens nie kan klaarkom nie.
Ek sit dit graag met roomys en/of vla voor. Die lekker pofferige, bros rol met konfyt is iets wat ook die meeste Sondae op die tafel was. En natuurlik met meer as een keuse van bygereg. Ons praat hier van vla, roomys en ekstra stroop bo-oor.
Teen daardie tyd was almal al so versadig, maar 'n mens maak mos maar altyd plek vir 'n bietjie poeding, nie waar nie? Dan gaan almal 'n "bietjie skuinslê".
Vir die sous
Meng die kookwater, suiker en botter saam.
Voorverhit die oond tot 180 °C.
Vir die deeg
Sif die meel en die bakpoeier saam.
Vryf die botter met jou vingers in tot dit soos growwe broodkrummels lyk.
Voeg die geklitste eiers by en genoeg melk om 'n stywe deeg te vorm.
Rol die deeg dun uit in 'n reghoekige vorm en smeer appelkooskonfyt in 'n dun lagie daaroor.
Rol dit dan op in die lengte en sit in 'n langwerpige oondvaste bak.
Jy kan ook die rol in skywe sny en die skywe regop langs mekaar in die bak sit.
Gooi die sous bo-oor en bak dit vir sowat 1 uur tot ligbruin en gaar.
Die sous trek lekker in die rol in.
Sit voor met vla en/of roomys.
Uittreksel uit 'Onthoukos' deur Tiaan Langenegger (Lapa Uitgewers, R360*)
*Prys onderhewig aan verandering sonder vooraf kennisgewing.




















