- 4 - eiers
- 250g - (310 ml) strooisuiker
- 280g - (500 ml) koekmeel
- 15ml - bakpoeier
- 250ml - louwarm melk
- 30ml - botter, gesmelt
- 5ml - vanieljegeursel
- - roomyshorinkies
- - kleurstrooisels
- VERSIERSEL -
- 500g - botter by kamertemperatuur
- 500 g-sak versiersuiker, gesif
- 5ml - vanieljegeursel
Laat jou kind se partytjie feestelik lyk en smaak met hierdie roomyskoek, maar wees rustig – hy gaan nie smelt nie!
Verhit oond tot 180 °C.
Voer drie 18 cm-koekpanne met bakpapier uit en spuit goed met kleefwerende kossproei.
Plaas eiers en strooisuiker in 'n groot mengbak en klits op hoë spoed tot 'n dik skuim, sowat 8-10 minute.
Sif meel en bakpoeier saam, voeg by eiermengsel en vou met 'n groot metaallepel in.
Voeg melk, botter en vanieljegeursel by en vou in.
Verdeel beslag tussen die drie panne en bak vir 20-25 minute of tot 'n toetspen skoon uitkom.
Laat afkoel in panne.
Versiersel
Klop botter met elektriese menger tot lig en romerig.
Voeg versiersuiker by en klits tot 'n romerige mengsel vorm.
Geur met vanieljegeursel.
Skep mengsel in spuitsak met 1 cm-stertuit.
Sit aanmekaar
Keer koek uit panne.
Gebruik riffelrandmes en sny elke koeklaag se bokant netjies reguit.
Plaas eerste koeklaag op opdienbord met gesnyde kant na bo.
Spuit nou klein klontjies van die versiersel oor die hele koek.
Plaas tweede laag bo-op met gesnyde kant na onder, gevolg deur klein klontjies versiersel.
Eindig met laaste koeklaag bo-op met gesnyde kant weer na onder.
Versier bokant van koek met nog klontjies versiersel.
Gebruik riffelrandmes en sny roomyshorinkies se agterkante af sodat dit 'n plat kant het.
Plak teen koek se kant met 'n bietjie versiersel en vul dan met versiersel sodat dit soos draairoomys lyk.
Sprinkel kleurstrooisels oor en sit voor.









