- - DEEGDOPPIES
- 250 g - botter, by kamertemperatuur
- 200 ml - versiersuiker, gesif
- - 1 eier
- 2,5 ml - vanieljegeursel
- 780 ml - koekmeel
- - VULSEL
- 2 blikke (385 g elk) - kondensmelk
- 30 ml - gouestroop
- 125 ml - gesmelte botter
- - ’n knippie soutvlokkies
Foto Greg Cox
1 Klits die botter en versiersuiker vir die deegdoppies saam tot lig. Voeg die eier en vanielje by en klits tot net gemeng. Sif die koekmeel oor en meng nou met die hand tot die deeg net glad is. Vorm die deeg in 'n plat, ronde skyf, bedek met kleefplastiek en laat rus in die yskas vir 30 minute. Dit verstewig die deeg sodat dit makliker uitrol en nie inkrimp in die oond nie.
2 Voorverhit die oond (Oondtemperatuur: 180 °C)
. Rol die deeg sowat 5 mm dik uit op 'n meelbestrooide werkvlak. Druk met 'n koekiedrukker 12 tot 16 sirkels uit - groot genoeg om die holtes van 'n vlak muffinpan uit te voer. Bring elke keer enige oortollige deeg bymekaar en rol weer uit tot al die deeg opgebruik is. Prik die doppies met 'n vurk en bak vir 12 minute of tot ligbruin en gaar. Laat afkoel op 'n draadrak.
3 Vir die vulsel, sitdie kondensmelk, stroop en botter in 'n klein kastrol en roer oor matige hitte tot die mengsel verdik en 'n ligte karamelkleur het. Dit neem ongeveer 15-20 minute en moet heeltyd geroer word sodat dit nie aanbrand nie. Ek gebruik 'n houtspaan met 'n plat punt om die bodem van die pot deurgaans te skraap.
4 Sodra die karamel na jou sin is, giet dit dadelik in 'n mengbak sodat die oortollige hitte in die pan nie die karamel laat aanhou kook nie. Roer 'n knippie sout by en skep die vulsel in die voorbereide doppies. Garneer as jy wil met 'n ekstra knippie sout op elkeen en laat afkoel. Ek gebruik laventelsout vir 'n kinkel, of kies Maldonsoutvlokkies.















