- 2kg - vars swartmossels (sien wenke)
- 500ml - witwyn
- 2 - suurlemoen- of lourierblare
- 3ml - heel peperkorrels (ons gebruik ’n mengsel pienk en swart)
- - ’n hand vol vars sagte kruie (ons gebruik ’n kombinasie vinkelblaartjies en pietersielie, maar basilie, kerwel en grasuie is ook heerlik)
- 30ml - botter
- 15ml - ekstrasuiwer olyfolie
- 2 - preie (net die wit gedeeltes), gekap
- 2 - salotte, fyngekap (of gebruik ’n klein wit ui)
- 6 - knoffelhuisies, fyngekap
- 200ml - room
- - gerasperde skil van 1 suurlemoen
- 30ml - vars suurlemoensap
- - sout
- - vars baguette, dun tjips en aïoli om voor te sit
1. Skrop die mosselskulpe met 'n stywe borseltjie skoon en verwyder die baard deur dit met jou vingers vas te gryp en uit te trek. Wikkel dit eenvoudig na die punt van die skulp om dit los te kry.

2. Sit die skoongemaakte mossels in 'n groot pot en voeg die wyn by, asook die suurlemoenblare, die heel peperkorrels en 'n strooisel van die sagte kruie. Bring tot kookpunt. Sit die deksel op sodra die vloeistof kook, draai die hitte laer en laat stoom die mossels vir 5 minute.

3. Dreineer die gaar mossels en behou die kookvloeistof apart. Ek hou gewoonlik die laaste skeutjie van die kookvloeistof terug vir ingeval daar 'n bietjie sediment agtergebly het. Gooi enige mossels wat nie oopgemaak het nie, weg.

4. Smelt nou die botter en olie saam in die pot en braai die preie en salotte saam tot glansend. Voeg die knoffel by en braai vir 'n minuut tot geurig. Roer die kookvloeistof van die mossels by die sous, bring tot kookpunt en roer dan die room by. Verhit tot net warm - moenie dat dit kook nie, want die sous kan skif. Skep die mossels terug in die sous en geur met die res van die kruie, suurlemoenskil, suurlemoensap en, indien nodig, 'n knippie sout.

Sit dit voor
Skep die mossels in individuele bakkies of kies 'n groot gemeenskaplike bak en giet die geurige sous oor. Sorg dat daar genoeg brood is om die heerlike sous op te veeg; bros tjippies en aïoli is heerlik daarby.
WENKE
• Kies vars mossels wat styf toe is en nie gebreekte skulpe het nie.
• Draai die mossels toe in klam kombuispapier wanneer jy tuiskom en hou dit in die yskas.
• Gebruik vars mossels op die dag dat jy dit koop. Voor jy die mossels kook, tik-tik op enige oop skulpe. As hulle nie weer toegaan nie, gooi weg - hulle is dood.
• Bevrore halfskulpmossels is reeds geblansjeer en 'n gerieflike plaasvervanger as jy nie vars mossels in die hande kan kry nie. Stoom dit vir 2 minute (pleks van 5 minute) in stap 2 en volg die resep soos hierbo.
















