Daar is seker nie 'n ander klas voertuig vandag waarin 'n mens sou wou belangstel - as jou begroting oneindig was - as dié van 'n lekker groot sportnuts nie.
Dit besef 'n mens net weer eens as jy 'n paar dae agter die stuur van so 'n groot, gemaklike ryding deurgebring het. Soos ons toetsvoertuig die afgelope week, Volkswagen se nuwe Touareg.
Die Touareg het sy lewe in die vroeë 2000's begin as 'n hardebaard-veldryer. Want dit was wat die vervaardigers destyds gedink het die kopers wou hê in so 'n voertuig. Die Touareg, en sy verlangse nefie, die Porsche Cayenne, was albei in hul eerstegenerasie-weergawes eintlik indrukwekkende veldryers. Toegerus met 'n goeie grondvryhoogte, sluitewenaars voor, middel en agter, en selfs 'n laestrekratkas, kon hierdie "deftige" nutse enige plek ry.
Mettertyd het die vervaardigers besef die mark soek bloot 'n stasiewa wat hoog bo die grond sit, luuks is, en baie krag het. Effense veldryvermoëns is 'n bonus, soos dat hy 4x4-aandrywing sal hê. Maar geen laestrekratkaste, veldrybande of sluitewenaars nie.
Vandag se Touareg is dus 'n deftige ryding, met die gerieflike rit en al die geriewe aan boord van wat jy 20 jaar gelede net in 'n topklas-sedan sou gevind het.
Ek hou van die stilering - stemmig sonder om te flambojant te wees - en die afwerkings binne is ook skoon en eenvoudig, maar met 'n sterk moderne ondertoon, soos gesien kan word in die groot digitale raakskerms, aansitknop, elektroniese handrem en die lae, breë rathefboom.
VW gebruik steeds sy bekende 3.0-liter-turbodiesel in die Touareg. Die enjin werk sag, en dis net met die aanskakel wat jy soms die dieselgedreun sal waarneem. Op die oop pad is hy 'n plesier. Wil jy verbysteek, plant jy die voet en al daardie wringkrag laat die Touareg vorentoe skiet. Ry jy beskaafd beloon hy jou met 'n lae verbruiksyfer (ek het maklik 8,5 liter gehandhaaf).
Klagtes? Nie veel nie. Jy gaan nie met sy standaardbande die boendoe wil invaar nie. Hy's gemik op stadsgebruik. Maar die Touareg is weelderig, gemaklik en stil, selfs op vaart. Dis 'n puik langpad-voertuig waar jy iets wil sleep, baie krag wil hê en nie wil sukkel met 'n leë tenk elke 10 treë nie.
Volkswagen het mooi raakgevat met hierdie jongste Touareg.




















