Volkswagen het groot planne vir 2025

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

'n Gedenkweergawe vir die Polo Vivo, 'n sakpas-Golf, twee nuwe T-Cross-modelle, die nuwe Tayron, 'n voorskou van die nuwe Transporter en Crafter, plus die jongste Polo Vivo Xpress, die amptelike inlywing van Ducati plaaslik, asook Volkswagen Motorsport se internasionale buiging. Dit was als op die agenda by Volkswagen Groep Afrika se onlangse produk-Indaba in Kariega.

Wyl Volkswagen-grootbaas Thomas Schäfer in Duitsland die pad vorentoe vir die sukkelende motorreus uitgespel het, onder meer met die belofte van 'n vol-elektriese ryding vir net sowat R400 000, het Martina Biene, Voorsitter en Besturende Direkteur van Volkswagen Groep Afrika, aangekondig dat die groep verlede jaar 'n rekord-getal Polo's na Europa en die Asië/Stille Oseaan-streek uitgevoer het.

Volgens haar is altesame 131 485 voertuie vanuit die Kariega-aanleg uitgevoer, teenoor 108 422 in 2019. Boonop het die fabriek, wat reeds vanaf 1992 voertuie vir die uitvoermark bou en vanaf 1996 Polo's produseer, ook 'n nuwe produksierekord van 167 084 voertuie opgestel, teenoor 161 954 in 2019.

Sy het egter bygevoeg dat voertuigproduksie vanjaar minder sal wees (sowat 160 000) omdat die Kariega-aanleg in gereedheid gebring moet word vir 'n derde model - 'n klein sportnuts - wat van aanstaande jaar plaaslik gebou sal word.

'n Blits-voorskou van die nuweling wat, soos die Taigo, in Brasilië en Duitsland ontwerp is (geen foto's toegelaat nie), het 'n interessante heuplyn, netjiese, dog tradisionele sportnuts-silhoeët en eenvoudige voorkant geopenbaar. Die kleiner sportnuts sal onder die T-Cross inpas.

Polo Vivo Edition 15

Die Polo, wat vanjaar sy 50-jaar herdenking vier (hoewel Suid-Afrika eers in 1996 deel van die Polo-wêreld geword het met die bekendstelling van die Polo Classic, gegrond op die Seat Cordoba), vaar steeds goed hier, maar dis die plaaslik-geboude Polo Vivo wat steeds die botoon in die segment voer met 25 914 wat verlede jaar in die land verkoop is.

Om Vivo-produksie sedert 2010 te vier, toe dié model die CitiGolf vervang het, het Volkswagen 'n herdenkingsmodel gewys, die Polo Vivo Edition 15 wat vanaf die derde kwartaal vanjaar beskikbaar sal wees. Net 1 500 eenhede in 'n keuse van twee kleure, diepswart-pêrel of die unieke kristalblou-pêrel, sal beskikbaar wees.

Die spesiale Vivo gedenk hierdie model se 425 000 verkope (oor twee geslagte) tot dusver, en unieke kenmerke sluit in 15-duim allooiwiele, swart dak- en kantspieël-afwerking (soos gebruik op die oorspronklike Vivo) 'n swart C-pilaar en Edition 15-logo's (met albei geslagte Polo Vivo daarop), ook op die skuurplate van die voordeure.

Benewens die Vivo Edition 15 het die handelsvoertuig-afdeling ook 'n nuwe Polo Vivo Xpress gewys. Dié model, in wese die opvolger van die eerste geslag-weergawe wat in 2016 bekend gestel is, sal waarskynlik deur 'n 1.4-liter enjin aangedryf word, en word ook in die derde kwartaal vanjaar verwag.

T-Cross-modelle

Die klein T-Cross is opgeknap en sal met nuwe enjinkeuses plaaslik te kry wees.
Die klein T-Cross is opgeknap en sal met nuwe enjinkeuses plaaslik te kry wees.

In 'n poging om met goedkoper kompakte sportnutse vanuit Sjina mee te ding, het Volkswagen twee nuwe intreevlak-weergawes van die nuwe T-Cross gewys - ‘n 1.0-liter (70 kW) model met 'n handratkas, en 'n 1.0-liter (85 kW) met basiese afwerking.

Toerusting in die 70 kW-model vir R400 700 sluit onder meer 'n digitale inligtingskerm, veelfunksie-stuurwiel, twee USB-sokke, sentrale sluiting, lugversorging, materiaal-afwerking vir die sitplekke, 16-duim wiele en 'n banddrukmonitor in.

Die 85 kW-model, met 'n verkoopsprys van R418 200, kry LED-hoofligte, LED-dagligryligte en LED-agterligte by, asook 'n sewegang-DSG-transmissie, elektriese kantspieëls, parkeer-afstandbeheer, elektroniese stabiliteitsbeheer en ander bestuurshulpstelsels.

Nuwe Golf en Tayron

Volkswagen bring eersdaags sy nuwe Tayron na Suid-Afrika. Die Tayron is die plaasvervanger vir die ou Tiguan Allspace, 'n sewesitplek-sportnuts, dus.
Volkswagen bring eersdaags sy nuwe Tayron na Suid-Afrika. Die Tayron is die plaasvervanger vir die ou Tiguan Allspace, 'n sewesitplek-sportnuts, dus.

Die nuwe Volkswagen Tayron is in wese die plaasvervanger vir die Tiguan Allspace. Die aantreklike sewesitplek-sportnuts, beskikbaar in Life en R-Line afwerking, word in die tweede helfte van die jaar verwag. Soos die Tiguan, is die Tayron goed toegerus, met onder meer gevorderde bestuurshulpstelsels en hoëdefinisie matriks-hoofligte en masseersitplekke as opsies.

Standaard-afwerking vir die R-Line-model sluit onder meer sportiewe Varenna-leersitplekke, leerafwerking binne, R-Line-buffers, 19-duim wiele, LED Plus-hoofligte (met draailigfunksie) en 30-kleur atmosfeerbeligting in.

Pryse vir die Tayron-modelle sal later bekend gemaak word.

Die Golf-tradisie in Suid-Afrika leef voort danksy, benewens die GTI, 'n stylvolle nuwe intreevlakmodel aangedryf deur die 110 kW 1.4-liter-enjin wat ook in die Tiguan gebruik word, gekoppel aan 'n agtgang-tiptronic ratkas, met Life, Life +, R-Line en R-Line+ afwerking. Dié model word al in Maart verwag.

Ook nuut is die nuwe, digitale inligtingskerm wat nou meer intuïtief is en hoë toerustingvlakke in veral die R-Line+-modelle het. Pryse vir die nuwe Golf 1.4 TSI wissel van R580 900 tot R688 100.

Nuwe Transporter en Crafter

Die Crafter is Volkswagen se paneelwa-reeks en sal in verskeie bakwerke plaaslik te kry wees.
Die Crafter is Volkswagen se paneelwa-reeks en sal in verskeie bakwerke plaaslik te kry wees.

Die nuutste geslag van die immergroen Volkswagen Transporter - die T6.1 - wat in die tweede helfte van die jaar verwag word, is 14 cm langer, asook wyer as sy T5-voorganger, met 'n langer asafstand vir meer pakruimte (drie Euro-palette kan ingepas word).

Die nuwe reeks sal aanvanklik uit 'n paneelwa met lang asafstand en 'n keuse van twee turbodieselenjins (2.0 TDI 81 kW, en 2.0 TDI 110 kW) en twee ratkaste ('n sesgang-handratkas en 'n agtgang-outo) bestaan.

Later sal 'n 125 kW-weergawe van dieselfde 2.0-liter-turbodiesel bekend gestel word, ook gekoppel aan 'n agtgang-outokas met 'n keuse van voorwieldrywing of 4motion-alwieldrywing.

LED-hoofligte, 'n groot digitale raakskerm, gevorderde inligtingstelsel met Apple CarPlay en Android Auto, baanhulp en ander bestuurshulpstelsels is alles standaard in die nuwe sewende geslag Transporter. Sy maksimum-vragdravermoë is nou 1,3 ton en die sleepwagewig is nou 2,8 ton (afhangende van die model) teenoor die vorige model se 2,5 ton.

Die nuwe Transporter sal beskikbaar wees in paneelwa, Crew Bus en Kombi-variante, met die afslaanbak-dubbelkajuit wat eers aanstaande jaar verwag word. Pryse sal later bekend gemaak word.

Die groot, imponerende en verbeterde nuwe Crafter, wat voor middel vanjaar bekend gestel sal word, kom nou standaard met 'n groot raakskerm met 'n verbeterde funksie-spyskaart, 'n veelfunksie-stuurwiel, lugversorging, en parkeergonsers voor en agter.

Altesame drie voertuiglengtes is beskikbaar - 5,9 m, 6,84 m of 7,39 m - en die paneelwa kom ook met drie verskillende dakhoogtes: 2,35 m, 2,59 m of 2,79 m.

Die nuwe-geslag Crafter is ook beskikbaar met voor- of agterwielaandrywing, 'n sesgang-handratkas of agtgang outokas, plus vierwielaandrywing.

Nuwe 2.0-liter TDi-enjins met kraguitsette van 103 kW, 120 kW of 130 kW, gekoppel aan 'n agtgang-outokas in die 50-variante, asook die lang asafstand-model van die 35 4Motion, doen nou diens in die Crafter.

Ducati onder VW-vaandel

Tertius Cronjé (Ducati SA) en Gherardo Morico vertel meer van die jongste Ducati-produkte wat na Suid-Afrika op pad is.
Tertius Cronjé (Ducati SA) en Gherardo Morico vertel meer van die jongste Ducati-produkte wat na Suid-Afrika op pad is.

Goeie nuus vir motorfietsgeedriftiges is dat Volkswagen Groep Afrika nou die kleinhandel-sake en invoer-bedrywighede van Ducati in Suid-Afrika oorgeneem het.

Sover is daar drie handelaarskappe in Gauteng, Wes-Kaapland en KwaZulu-Natal wat reeds vanaf Januarie onder die VW-vaandel sake doen.

Volkswagen beplan om die Ducati-modelreeks in die land uit te brei en meer handelaarskappe te open. Meer inligting oor die modelle, wat superfietse en avontuur-fietse sal insluit, sal later bekend gemaak word.

SPELETJIES VANDAG

CTA