WENBRIEF
Ons reënboogbaba
Ná 'n moeilike pad van vyf jaar was 'n maklike swangerskap ons grootste wens. Min het ons geweet dat die Here in die moeilikste tye genade gee. Nadat ons drie jaar lank gesukkel het om swanger te word en 'n jaar lank fertiliteitsbehandeling gekry het, vind ons einde 2020 uit ons verwag ons wonderwerk.
Maar toe doen ek covid op en ons dogtertjie word op 11 Junie 2021 dood gebore. Dit was, en is soms nog steeds, 'n baie moeilike pad om te stap.
Die dood is so algemeen, maar tog so 'n ingewikkelde proses om deur te werk.
Ons het ses maande lank weer natuurlik probeer swanger raak, maar sonder sukses. Toe is ons terug dokter toe en met rondte een was ons swanger!
Dankie Here, U is altyd getrou. Van dag 1 af was ek op al wat 'n medikasie en inspuiting is. Ek het vasgehou aan Spreuke - die krag van lewe en dood lê in die tong. En met elke inspuiting het ek gespreuk dat ons kind die slimste en oulikste sou wees, want mamma help dan nou met medikasie.
Op 33 weke het die dokter agtergekom dat my vrugwater min is en op 34 weke is ons engel-reënboogkind gebore, ons liefste Milané Fourie.
Die grootste wonderwerk was dat sy geen tyd in die waakeenheid deurgebring het nie, iets wat mamma en pappa geglo en gespreuk het van die oomblik dat ons uitgevind het sy sou vroeg kom.
Sy is nou al meer as 'n maand oud, en ja, natuurlik is sy die slimste en oulikste in mamma en pappa se oë!
Marilie Fourie, Hekpoort, Gauteng
Volg 'n bietjie saam
Ses jaar aaneen
Met ons eerste swangerskap het ek en my man voorgeboorteklasse by Irene Bourquin in Somerset-Wes bygewoon. Wat 'n voorreg! Ná elke klas was ek meer gemotiveerd om te borsvoed, maar in my kop was ook die gedagte "wat as ek nie kan nie?".
As ek nou terugdink, kan ek nie glo hoe vinnig die tyd intussen verbygegaan het nie. Ek borsvoed al ses jaar en drie maande lank.
Met ons eerste baba se geboorte in 2016 het ek dadelik begin voed. Soms het ek gesukkel, maar ek het net aangehou. Dit was partykeer seer, maar ek het aangehou; tot koolblare opgehad. Die melk was verskriklik baie. Ek was so dankbaar daarvoor. Alle eer aan ons hemelse Skepper. Ek is 'n grondslagfase-onderwyser en het vier maande kraamverlof gekry.
Ek het gewonder hoe ek sou uitmelk terwyl ek skoolhou. Alles was onbekend en ek het net my voorgeboorteklas-kennis gehad. Ek het ons skoolhoof gaan vra of ek 20 minute ekstra per dag vir uitmelk kon kry, en dan sou ek die res van die uitmelk in pouses of ná skool doen. My voorraad het vreeslik opgebou.
Ek het my leerders gewaarsku ek sou elke dag 10:00 'n kort blaaskans neem. Een dag het 'n dogtertjie na my tafel gekom en gesê: "Ma'am, it is 10 o 'clock and you didn't go for your break yet." Dit was so kosbaar.
In November 2017 was ek weer swanger. My dogtertjie het deur die swangerskap aanhou borsvoed. Sy het opgehou om haar melkies by die skool te drink en my voorraad was so baie dat ek aan Milk Matters begin skenk het. Dit red baie babas. Ek kon nie glo dat ek so 'n verskil kon maak nie.
'n Mens se liggaam is ongelooflik. Ons seun is op 28 Augustus 2018 gebore en ek het ons dogtertjie gevoed tot so vier weke voor ek moes kraam. Die melk het na kolostrum terugverander.
Boetie was drie weke oud en sussie twee jaar oud - al twee net op borsmelk, geen blikmelk nie.
Soms het ek gewonder waar ek die krag vandaan sou kry om aan te hou uitmelk. Skool is so besig. 'n Juffrou se werk hou net nie op nie, maar ek het vasgebyt.
Ek het elke dag vir myself gesê: Jy kan dit doen.
My man het 'n groot rol gespeel, asook van my kollegas by die skool. Ek het elke dag aanhou uitmelk. Party dae was so besig dat ek in die motor op pad huis toe gepomp het terwyl my man bestuur. Dit was soms baie moeilik, maar ek moes deurdruk, want blikmelk is in elk geval baie duur. Die besparing het my ook gemotiveer.
Toe kry ons 'n groot verrassing - 'n derde baba is op pad. Ek het aanhou voed, maar ons seun gespeen sodat ek drie maande voor die geboorte kon rus. Dit was maar 'n uitputtende swangerskap.
Boetie is in April 2021 gebore en ek voed hom steeds. Deesdae roep hy sommer: "Mamma, melkies" en dan trek hy aan my hemp! Dis 'n ongelooflike voorreg om te borsvoed en daardie lyfie vas te druk en te koester. En glo my, dit maak 'n groot verskil ten opsigte van gesondheid.
My droom is om eendag 'n doula te word. As ek nou terugdink, is ek geweldig dankbaar vir my man, my familie, ons kerk en kollegas by my werk. Alle eer ook aan ons Hemelse Vader, wat daagliks vir my krag gee.
Ek help graag ander vroue met raad. My wenke vir borsvoeding:
As jy te veel raad by baie mense kry wat wil voorskryf, besluit na wie jy gaan luister en hou daarby.
Wees rustig as baba net aan een bors wil drink. Hulle het 'n gunsteling. Melk die ander een elke drie uur uit, maar hou aan om te probeer voed.
'n Paar druppels borsmelk werk tussen 0 en 3 maande vir 'n toe neusie.
Vries jou borsmelk in ysbakkies met deksels. Dit hou tot ses maande.
As jou tepels seer voel, smeer vroegtydig Bennetts se tepelroom aan, drie keer per dag. Dis veilig vir baba.
Sê elke dag vir jouself jy kan!
Druk deur, moeilike dae gaan ook verby. Koester elke kosbare oomblik.
Louise Smith, Gordonsbaai, Wes-Kaap

Ek was verniet so bang
Ek was my hele swangerskap deur senuweeagtig oor die gedagte aan 'n natuurlike geboorte. Die nag van 30 Desember het ek wakker geword en gedink ek het kontraksies. My man het dadelik die stophorlosie op sy selfoon gebruik om die kontraksies te meet. Ons het gewag tot hulle 'n uur lank elke vyf minute kom en 'n minuut lank duur, soos ons geleer is. Vieruur die oggend is ons hospitaal toe.
Daar aangekom, het die verpleegster my aan 'n monitor gekoppel. Ek het 30 minute lank net een kontraksie gevoel en ons is huis toe gestuur. Die ongemak het egter gebly en ek het gesukkel om te sit of lê.
My man het gesê hy neem my liewer terug hospitaal toe. Ek wou eers nie en het gesê ek wil nie hê die verpleegsters moet dink ek is neuroties nie. Ons is egter terug. In die saal het die verpleegster my een kyk gegee en gesê sy gaan 'n inwendige ondersoek doen. Ek was 9 cm ontsluit! Ek het dus reeds die epiduraal-boot (5 cm) misgeloop!
My man is ontvangs toe gestuur en die dokter is gou-gou ontbied. En vier drukke later is ons baba gebore, heeltemal natuurlik! Gelukkig was my man toe al terug. Dit was glad nie so pynlik soos ek verwag het nie!
Sonja Booysen, Durban, Kwazulu-Natal


Wen 'n geskenkpak van Pure Beginnings ter waarde van R2 500!
Pure Beginnings het die perfekte reeks organiese velsorgprodukte wat vir die mees delikate en sensitiewe vel ontwerp is. Hul Baby Bum Cream is 'n moet vir elke doeksak en heeltemal veilig vir enige en alle boudjies. Die tandejel is 'n natuurlike, nie-medisinale formulering wat organiese soethout, heemswortelekstrak en kamille bevat om die ongemak van tandekry te help verlig. Suiwer vel, reg van die begin af. Oral te koop. Gaan na purebeginnings.co.za vir nog inligting.















