Teen dié tyd weet jy al dat jou peuter nie altyd 'n logiese, diepdenkende wesentjie is nie. As daardie koppie eers uitgehaak het, gaan al jou argumente en onderhandelinge niks help nie. Een of twee slegte harewas-ervarings (soos 'n piepklein druppeltjie water in sy oog) is al wat nodig is om boetie so steeks soos 'n donkie te maak.
Dan sit jy met jou hande in jou hare oor die kind wat gek is oor spat in die swembad, maar nooit as te nimmer gaan toelaat dat 'n bottel sjampoe of stortkop naby hom kom nie.
'n Waslap wat hy self oor sy oë hou, kan help met sjampoe wat brand
STAP #1
BLY KALM EN FERM
Jy is die ouer en jou kind is fyn op jou emosies ingestel. As dit lyk of jy gaan weifel, het jy klaar die stryd verloor. Hou voet by stuk en moenie gemanipuleer word nie. Harewasdag mag nie in 'n magstryd ontaard nie. Praat kalm, ferm en saaklik, maar steeds liefdevol en met respek. Jou konsekwentheid oor die saak is baie belangrik - as jy sterk staan, sal jou kind makliker aanvaar dat hare was nie onderhandelbaar is nie.
STAP #2
WYS EMPATIE
Onthou, al die drama is vir jou kleinding ook nie lekker nie. Hy is nie besig om stout of aspris te wees nie. In sy wêreld is skoon hare net nie so belangrik soos sy gemak op daardie oomblik in die bad nie. Dis vir volwassenes maar moeilik om kinders se vrese te verstaan, maar dit beteken nie hul emosies oor die saak is ongeldig nie. Moet jou kind dus nie net hardhandig in die bad platdruk nie, dit sal sake net vererger.
STAP #3
VERLAAG JOU STANDAARDE
Jy hoef regtig nie elke tweede dag sy hare te was nie. Een keer per week is genoeg en in die winter wanneer jou kind minder sweet, kan jy dit selfs tot elke 10 dae rek. Kyk na sy kop en kopvel en as dit skoon is, los hom uit.
STAP #4
IDENTIFISEER DIE PROBLEEM
Watter deel van hare was veroorsaak die probleem? Is dit die aanvanklike natmaak, die aanwend van sjampoe of die afspoelslag? Gesels met jou kleintjie daaroor - dalk wanneer julle in die motor ry en rustig is - sodat jy kan agterkom wat hom pla.
Party kinders het 'n vrees vir die gevoel van water op hul gesig of vir verdrinking, by ander is die probleem weer ogies wat brand en sommiges is so bang vir 'n stortkop soos vir 'n kobra. In watter stadium begin jou kind protesteer?
Dit sal jou 'n idee gee van waar die probleem lê sodat jy 'n alternatief kan bedink. As jou kind nie van die stortkop of beker hou nie, sal hy dit dalk verkies om plat in vlak water te lê. 'n Waslap wat hy self oor sy oë hou kan help met sjampoe wat brand, of koop 'n harewas-ring by die apteek.
STAP #5
SPAN 'N STRATEGIE IN
HOU 'N KOMPETISIE As jou kleintjie 'n mededingende geaardheid het, kan dit help. Julle kan byvoorbeeld kyk hoe vinnig julle die harewassery kan afhandel. Stel 'n kookwekker en kyk of julle dit kan klop. Of stel aan hom 'n uitdaging soos dat hy net ses keer mag protesteer of kerm, en dan tel julle af.
BAD OF STORT SAAM Dis vir meeste peuters heerlik as ma saam in die bad spring. Die meer ontspanne atmosfeer en die feit dat jy dáár is en nie oor hom toring nie, kan dit makliker maak om die daad gedoen te kry. Julle kan ook beurte maak en hom die kans gee om jou hare te was sodat hy kan voel hoe dit werk. Jy kan ook probeer om hom saam met jou in die stort te neem - dit werk vir sommige kinders beter, veral as jy dit aan hom verkoop as 'n groot bederf of avontuur.
FANTASIE Sit 'n pop saam in die bad en demonstreer eers presies hoe julle hare gaan was. Gee jou peuter ook 'n beurt met die pop. Julle kan ook swemspeletjies speel of snaakse haarstyle met die sjampoeskuim in sy hare prakseer.
BELONINGSKAART Sodra julle vordering gemaak het, kan jy met 'n beloningskaart begin. Vir elke dramalose harewasslag kry jou kind 'n plakker en as hy vyf plakkers het, gaan eet julle roomys.
BONUSWENKE
- Gebruik die sagste sjampoe wat jy kan, maar onthou dat selfs dié sjampoes ogies brand.
- Werk saggies met jou vingerpunte; kinders se koppe is sensitief.
- Maak badtyd pret met speelgoed en lekker samesyn.
- Plak 'n spieëlteël langs die bad op, want dit kan hom help om meer in beheer te voel as hy kan sien wat aangaan.





















