Ouerskap

Pa se stem: ’n Baba op 40!

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Getty/Gallo Images
Getty/Gallo Images

Ek het my Harley-Davidson al uitgekies gehad. Die Sportster XL 1200 Custom. In my prysklas en goed genoeg om by te hou by my vriende wat reeds motorfietse het en langpadritte aanpak.

'n Tweedehandse een, maar goed opgepas en perfek vir die langpad. Ek was reg om een van daardie ouens te word. Reg om my middeljarekrisis met 'n ysterperd op te saal en die naweke waartoe my vrou instem, die snelweë van ons land te deurkruis.

'n Paar jaar tevore het ek reeds die baskitaar opgeneem en saam met 'n paar kamerade 'n rockgroep, Soms Wen Die Wolf, op die been gebring - daardie item op die aftiklysie was dus reeds in die sakkie. 'n Harley was die vanselfsprekende volgende stap op pad na die veertigs.

Dit was 'n gewone oggend toe ek met een van my vriende buite my vrou, Karin, se oogkundepraktyk staan en gesels. Sy kantoor is langs haar praktyk en ek het Conrad toevallig op die parkeerterrein raakgeloop nadat ek 'n pakkie gaan afgee het.

Karin het toe al 'n paar weke lank met 'n ongemak in haar buik gesukkel en was op pad dokter toe toe sy ons groet en in haar motor klim en ry. Die dokter se spreekkamer is baie naby en ek en Conrad het nog gestaan en gesels toe my foon lui.

Dit was Karin, wat my dokter toe ontbied het. Die ergste het deur my gedagtes geflits. 'n Buikinfeksie. Kanker. 'n Terugkeer van ander mediese kwale. Vroeg in ons verhouding is Karin weens endometriose geopereer en ons het voor ons troudag al geweet dat kinders nie in die toekoms wag nie. Ons was, en is, lief vir mekaar en was gelukkig en tevrede met die twee straatkatte wat ons aangeneem het, die maltees wat die huis regeer en die Chinese keeshond wat snags op die ongerieflikste tye 'n rondloperkat bespeur en aan die blaf raak. Ons huishouding was volkome voldoende.

Ek het koud geword en haar gevra om asseblief oor die foon te sê wat fout is, al het ek reeds my karsleutel uitgehaal om die twee minute na die spreekkamer af te lê. En toe kom daai woorde: "As jy jou babatjie op die monitor wil sien, moet jy jou alie roer."

Ek was stomgeslaan om die minste te sê en het my dadelik verskoon sonder om iets aan Conrad te verklap en die twee minute in een afgelê. En daar, in die dokterspreekkamer, is dit bevestig. Ondanks uitsprake wat deur mediese kennis onderskryf is, is 'n babatjie vir my en Karin bestem. My google-algoritme was 'n paar dae verward met die skielik omswaai van Harley's na stootwaentjies. Selfs meer verward met die soektogte na die beste raad oor die bors-vs.-bottel-debat en wat 'n vierde trimester beteken. Ons sou eers later uitvind dat dit 'n dogtertjie is wat ons in ons huisgesin sou verwelkom.

Die meisiekind wat voor haar eerste dag buite ma se baarmoeder haar pa van 'n middeljarekrisis genees het. Die klein dingetjie wat my heeltemal oorweldig het met emosies wat ek nie ken nie toe ek die eerste keer daardie vinnige hartkloppie op 'n sonar hoor. Die dogtertjie wat haar opwagting op my 40ste verjaardag sou maak.

En ek is reg vir haar. Verskrik, maar reg.

James Kemp

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM