PEUTER | Daaaaaar trek sy!

Getty Images
Getty Images

Dis elke ma se nagmerrie dat jy jou kind in 'n winkelsentrum of ander besige openbare plek sal verloor. Jy dink dalk dit gebeur net met onverantwoordelike ma's, tot jy jou woorde moet sluk as jou peuter skielik uit jou hand losruk en soos 'n blits tussen die mense verdwyn. Vir sommige peuters is dit bloot 'n prettige speletjie om in 'n besige winkelsentrum van hul ma af te probeer weghardloop, maar daar kan ook ander redes wees waarom hulle koers kies. Baie peuters begin vreemd optree in winkelsentrums, waarsku die Pretorianer Esta Hansen, 'n opvoedkundige sielkundige en fasiliteerder by die ouerskapsorganisasie Doelgerigte Ouerskapsleiding (D.O.L).

"Party hardloop weg terwyl ander temerig en huilerig raak. Ander sal selfs begin kruip of sit en weier om verder te loop." Die helder en kunsmatige lig, aanhoudende musiek en al die mense, kleure en geure stimuleer die peutertjies se sintuie sonder ophou en dit raak gou vir hulle oorweldigend.

"Volwassenes wat oorweldig voel deur die bedrywige sentrum kan kies om buitentoe te loop of 'n stiller hoekie te soek, maar kinders moet teen wil en dank saam met hul ouers inkopies doen.

"Die oorweldigende, intense en aanhoudende stimulasie kan hulle hulpeloos en buite beheer laat voel, en dit beïnvloed hul gedrag." Onthou ook dat peuters inherent nuuskierig is en 'n winkelsentrum 'n hele nuwe wêreld bied om te verken.

"Een van hul belangrikste ontwikkelingstake is om die wêreld te ondersoek en uit te vind hoe dinge werk. Hulle is egosentries en nie in staat om hulle voor te stel hoe bekommerd hulle hul ma en pa maak nie. Hulle kan net op hulleself en die bevrediging van hul eie behoeftes fokus," sê Esta.

Keer voor dit gebeur

Die ideaal is om die kleingoed liewer tuis te laat as jy baie inkopies moet doen, veral as jy meer as een kind het. Maar vir baie ma's is dit nie prakties moontlik nie. Wat staan jou dan te doen? Berei jou kind goed voor op 'n winkeluitstappie, is Esta se raad.

"Dit begin by eenvoudige fisieke voorbereiding deur te sorg dat jou kind nie honger of moeg is wanneer julle winkels toe gaan nie. Hoe beter jou peuter voorberei word op presies wat gaan gebeur en wat van hom verwag gaan word, hoe beter is die gedrag wat jy kan verwag."

Esta stel voor dat jy die dag vooraf al noem dat julle die volgende dag winkels toe gaan. "Verduidelik dan al vir jou kind dat dit jou werk is om hom op te pas en dat dit net moontlik is as jy hom kan sien en hy vir jou luister. Maak dit vir jou kind maklik deur jul gedrag te skets en saam 'n praktiese plan op te stel, soos: ‘Terwyl ons in die winkel is, moet jy asseblief aan die trollie vashou. Dan weet ek jy is naby my en kan ek jou mooi oppas.' Of: ‘Jy moet mamma vra as jy na iets wil gaan kyk, dan sal ek saam met jou gaan.' Dit is belangrik dat hierdie plan ouderdomsgepas moet wees."

Dit help verder om jou kind soveel moontlik deel te maak van die proses. "Gaan deur die inkopielys en vra of jou kind aan iets kan dink wat op die lysie moet kom. Hulle kan self 'n lysie maak van twee of drie items (gebruik prentjies uit tydskrifte) wat hulle kan help soek, soos brood of wortels. As hulle 'n lekkertjie mag kry, kan hulle dit ook op die lysie plak."

In die winkel

As jou kleinding in die winkel nie by jul afgesproke reëls hou nie, help dit om te kniel tot jy op haar vlak is, oogkontak te maak en haar emosies terug te kaats, sê Esta. "Laat haar sien jy verstaan hoe frustrerend inkopies kan wees. Sê mooi duidelik dat jy kan sien dat sy hierdie warboel nie meer kan hanteer nie en net wil weghardloop, of dat sy nie meer kans sien om aan te gaan nie en eerder net wil sit. Herinner haar aan wat julle besluit het, byvoorbeeld dat sy teen die trollie moet loop of moet vra as sy na iets wil gaan kyk en gee haar 'n duidelike aanduiding van hoe lank dit nog gaan duur. As sy steeds sukkel om te luister, moet jul plan hersien word om seker te maak dit is ouderdomsgepas."

SPELETJIES VANDAG

CTA