Tuisbly se karretjie
Ons wil nou nie pessimisties klink nie, maar dit lyk tog of ons in 2022 dalk weer baie by die huis gaan sit. As jy dit verkies om jou kleinding uit die speelskool of kleuterskool te hou, kan jy gerus in 'n program belê wat seker maak dat jou kind sonder 'n skooltjie steeds blootstelling kry aan aktiwiteite wat ontwikkeling op alle vlakke bevorder. Onthou, die eerste 1 000 dae is wanneer die fondament gelê word vir meer formele opvoeding. InHome Montessori is 'n tuisprogram wat beloof om goed te pas by jul alledaagse bestaan en wat nie vir jou stresvol is nie. Gaan na inhomemontessori.com om meer uit te vind.
RAAKGEKOOP

Eco-Ella se houtspeelgoed vir peuters is nie giftig nie en word van volhoubare houtbronne gemaak. Hierdie hoender-en-eier-stapelstel is ideaal vir 'n peuter. Dit kos R480 by ecoella.co.za.

Mighty Small se Hook and Pine-voertuie (R255) van hout verskaf ure se pret. Die hout is veilig en kom uit plaaslike, volhoubare bronne. Gaan na mightysmall.co.za vir nog speelgoedidees.

Het jy al ooit vir 'n kat 'n pil probeer ingee? Dis amper so moeilik as om vir 'n onwillige peuter medisyne te gee! Safety 1st kom tot die redding. Die stel gee jou drie opsies om die medisyne in te kry. Daar is 'n drupper met 'n morsskerm, 'n spuit en 'n spesiale medisynelepel. Dit kos R94,99 by Baby City en everyshop.co.za.
OP DIE UITKYK VIR OUTISME
Volgens Wendy Bowley, 'n Kaapstadse ma wat self outisme het asook 'n outistiese seuntjie, is die vroegste waarop 'n diagnose gemaak kan word teen so drie jaar oud.
Hou jou oë vir dié tekens oop: jou kind vermy oogkontak, reageer nie op sy naam nie en kyk nie eens in die rigting van die een wat roep nie. Let ook op na 'n gebrek aan gesigsuitdrukking of taalgebruik. 'n Kind met outisme se emosies kan baie vinnig intens word. Hulle wys soms ook min empatie vir ander.
Wendy noem haarself 'n "sosiale transformeerder oor outisme" en op haar platform Knowing Autism wil sy inligting deel sodat neurotipiese mense dié op die spektrum beter kan verstaan. Volg haar by @knowingautism of besoek haar webtuiste, wendybowley.co.za.





















