Liefste Seuntjie-seuns,
Ek skryf hierdie brief vir julle op 'n vlug sowat 10 000 voet bo moederaarde, tussen Johannesburg en Kaapstad. Nog vroeg op die vlug, aan die verkeerde kant van Welkom. Verkeerd, want dit is ver weg van julle.
Drie dae gelede het ek julle haastig gegroet by die kombuisdeur, in julle ma Catharien se arms. Gelukkig is ek nou weer onderweg na ons huis in Kenridge, my veilige hawe en die plek waarheen my hart gedurig met 'n punt trek. Oor twee dae is julle nege maande oud, dus langer buite as binne die baarmoeder. (Julle het in elk geval, soos ek, vroeër aangemeld vir lewensdiens. Wou nie wag nie.)
Die afgelope week of twee kyk ek en julle ma verstom na hoe julle sin vir verwondering en waarneming verskerp, en hoe julle soos twee skilpaaie wat Red Bull gedrink het deur die huis kruip. Plek-plek begin julle staan, veral by die muur van babadoekbokse wat Catharien by die trappe gebou het.
Julle blink ogies, groot glimlagte wat twee tande in elke mond en kuiltjies in die wange wys, opgewekte brabbeltaal en geskree wat gereeld soos twee Velociraptors uit Jurassic Park klink, laat my hardop lag. Deur julle dop te hou leer ek om meer in die oomblik te leef. En die klein dinge, die alledaagse, dit wat werklik saak maak, opnuut te waardeer. Maar van lekker lag kom lekker huil.
My wens is om 'n veilige ruimte van vertroue te skep waarbinne julle die vrymoedigheid sal hê om te deel, om vir ons betyds te sê as die binnebloukolle die oorhand begin kry of die ou Swart Hond aan julle enkels hap.
Al hierdie nuwe aksie en ontdekkings sorg natuurlik vir nuwe beserings. Veral bloukolle, soms aakliges van koppe stamp teen mure, deure, vensterbanke, vloere, boekrakke, tafelpote en verskeie ander plekke wat ons tevergeefs probeer beveilig.
Henry, jy het vroeër die week al kruipende 'n spoedhobbel getref en vir die eerste keer bloed op jou bolip geproe terwyl jy hartstogtelik gehuil het. Dit breek elke keer my hart, selfs al herinner Catharien my daar is met goeie rede 'n been tussen die voorkop en brein wat jy die skedel noem.
Maar steeds stry ek intern met 'n groot besef: Hoe graag ek ook al wil, kan ek julle nie teen die lewe se bloukolle beskerm nie. En selfs al kon ek, sal sit nie reg wees as ek dit doen nie. Julle móét self hierdie pad stap, of kruip. En deel van die pad is val en seerkry, en hopelik weer opstaan. Elke keer.
Selfs al is die einas groot. 'n Mens kry ook bloukolle van binne. Julle sal nog sien. Hulle vat soms baie lank om gesond te word. Hierdie bloukolle kan jy nie met die blote oog sien nie. Jy voel hulle. 'n Blou gevoel. Wat later - en soms vinnig - so blou kan raak dat dit depressie genoem word. Julle stamboom, in al sy vertakkings, is goed bekend hiermee.
Ook wat dit betref het ek weinig beheer, geen kans om te keer. Dit is selfs onvermydelik dat ek met dade - of gebrek aan dade - tot daardie bloukolle gaan bydra. Al wat ek kan probeer doen is om wakker te slaap, op die uitkyk te wees vir simptome - by myself en julle - en bewustelik te leef. Mindful, soos hulle in Engels sê.
My wens is om 'n veilige ruimte van vertroue te skep waarbinne julle die vrymoedigheid sal hê om te deel, om vir my en Catharien betyds te sê as die binnebloukolle die oorhand begin kry of die ou Swart Hond aan julle enkels hap. Want daar is hulp en hoop. Ek dink ek gaan hier halt roep.
Genoeg diep gedagtes vir 'n Vrydagmiddag, veral op 'n vliegtuig se knap middelsitplek met 'n blikkie gin & tonic in my lyf. Buite die venster van Ry 29 strek die lug eindeloos blou. Doer onder lê die Karoo. So wyd soos die Heer se genade, volgens Eugène Marais. Elders is dit mooiweer en warm, met miskolle op die platorand. Nie bloukolle nie.








