Neem byvoorbeeld fotoalbums: Dit roer iets in jou binneste wanneer jy een van hulle van die boekrak afhaal en begin deurblaai. Dit gebeur feitlik sonder uitsondering dat 'n mens dan foto's sien waarvan jy al vergeet het en wat dan opnuut herinneringe van goeie tye oproep.
Dis altyd goeie tye, want wie neem nou foto's van die slegtes? 'n Reeks digitale foto's op 'n rekenaarskerm het nou maar eenmaal nie dieselfde bekoring nie.
Dalk is dit maar net omdat digitale foto's 'n relatiewe nuutjie is en die werklike ou goed - soos die keer toe oom Frans en tannie Babsie met die Kombi vol beskuit en biltong kom kuier het - nog net as tasbare afdrukke in 'n album beskikbaar is. Dit klink soos 'n cliché wanneer mense praat van foto's as 'n rekord van hulle lewe, maar dis presies wat dit is.
Ek het onlangs deur 'n paar albums geblaai en dit tref my toe soos 'n minibustaxi sonder remme op hoeveel foto's daar 'n tent of karavaan in die prentjie is.
Kyk, dit maak nie saak hoe hard jy probeer nie, elke mens het mos maar sekere eenvoudige dinge wat jy nooit kan onthou nie, soos hoe lank 'n mens eiers moet kook; kom die blink kant van die foelie binne of buite; of aan watter kant sit jou kar se petrolflappie.
Dan is daar ander dinge wat jy nooit sal vergeet nie, soos die keer toe Yolanda van Staden jou agter die opslaanklaskamers gesoen het en hoe Gerrie Meiring, haar kêrel, jou agter die einste klaskamers half kreupel gefoeter het. 'n Mens onthou ook die eerstes in jou lewe: jou eerste fiets, jou eerste kys, jou eerste kar en, as jy 'n kampeerder is, jou eerste tent.
Ek kan nie presies sê wanneer ek die eerste keer in 'n tent geslaap het nie, maar ek het 'n vae herinnering aan 'n tent by Mosselbaai, lank gelede - ek dink ek was vier jaar oud. Sedertdien het ek sekerlik meer aande in tente en woonwaens geslaap as wat Schabir Shaik in 'n tronksel deurgebring het. Ek kan beslis nie almal onthou nie, maar tog, as ek mooi daaroor dink, is daar 'n paar wat uitstaan.
Daar was die keer, toe ek seker omtrent agt jaar oud was, toe ons met my pa se eerste karavaan, 'n Gypsey Caravette, by Caledon se warmbron gekamp het. Dit was lank voor dit 'n casino-kompleks geword het met al die kunsmatige dinge en simpel reklame wat daarmee saamgaan.
Destyds was dit net 'n paar terrasse met staanplekke, sonder krag as ek reg onthou, en 'n paar swaaie en 'n wipplank aan die een kant. Op die plek se webwerf adverteer hulle deesdae die "restorative powers of the mineral-rich hot springs" en die "breathe (sic) taking views", maar die woonwapark is weg.
Ek onthou ook die keer op hoërskool toe my beste vriend saamgekamp het by Ou Skip, en ek onthou die woorde van die popliedjie wat ons daardie naweek oor en oor gesing het.
Ek kan nie onthou wat is die name van die blonde boetie en sussie met wie ek daardie naweek maats gemaak het nie, maar ek weet ons het in die karavaan kaartgespeel toe dit begin reën. Die foto's wat my ma geneem het, is ook in my album.
Ek onthou ook die keer op hoërskool toe my beste vriend saamgekamp het by Ou Skip, en ek onthou die woorde van die popliedjie wat ons daardie naweek oor en oor gesing het.
Daar's 'n paar ander ook, soos die keer in die weermag toe ek saam met 'n paar vriende op 'n plaas langs die Komatirivier gekamp het terwyl die seekoeie ons bedags uit die water dopgehou en saans so "grrrts-grrrrts" al om die tent kom wei het.
Ons het daai naweek op 'n hoë noot afgesluit toe Natuurbewaring die Sondagmiddag 'n krokodil moes kom haal wat homself in 'n hok laat vang het - skaars 10 m van ons tent af.
En dan was daar die kere as 'n platsak student by die KKNK, die keer in Engeland op Wimbledon Common die aand voor die tennistoernooi en die keer in die sandduine langs die Kunenerivier toe ons die volgende oggend 'n slang in ons bagasie gekry het.
Daar was blou tente en geel tente, koepeltente, huistente, daktente, army-tente, seiltente, nylontente en soms was daar geen tente nie, net 'n warm aand, 'n kampvuur en baie sterre.
Wat ek egter die heel beste onthou, is my eerste tent. Ek het dit vir my verjaardag gekry. Ek dink my pa-hulle het die skimp gevang en besluit dis tyd vir my eie tent toe ek een aand in die voortuin gaan "kamp" het met 'n flits, my beddegoed en 'n plastiekrewolwertjie vir selfverdediging.
Kort daarna het die tent sy opwagting gemaak. Dit was 'n liggroen nylon-tweemantentjie, beswaarlik die ding waarmee jy 'n alleenreis om die wêreld sal aanpak, maar in my oë was ek reg om skouers te skuur met ouens soos Robert Falcon Scott en Roald Amundsen, van wie ons kort tevore in aardrykskunde geleer het.
In die foto-album is daar ook 'n foto wat my ma die volgende oggend geneem het, waarop ek trots op 'n kampstoeltjie voor my tent sit en graanvlokkies uit my blikbord eet.
'n Man kan darem nie op 'n leë maag kamp nie, en met verrassende toeval kry ek toe vir my verjaardag by my tannie 'n eet-en-kookstelletjie vir kampeerders, en 'n waterbottel by my suster. Dit was alles wat 'n ontluikende avonturier nodig het om die wildernis van 'n voorstedelike agterplaas te verken.
Ek het mos toe al 'n ekspedisie ná donker na die voortuin aangepak. (Die feit dat die bure intussen navraag gedoen het oor my welstand - en my ouers se tugmetodes - het dalk ook 'n rol gespeel.)
Ek het my tent op die agterste grasperk opgeslaan en daardie aand gedroom hoe ek in Allan Quartermain se voetspore gaan volg, want ek het toe nog nie gesnap hy is net 'n denkbeeldige karakter nie.
In die foto-album is daar ook 'n foto wat my ma die volgende oggend geneem het, waarop ek trots op 'n kampstoeltjie voor my tent sit en graanvlokkies uit my blikbord eet.
Ek het egter nie die foto nodig om die tent te onthou nie, want al sal my voete nou ver by die tentflappe uitsteek as ek daarin probeer slaap, lê hy nog steeds netjies opgerol in sy slopie agter in my kas.
Sentiment is mos 'n ding wat jou nie laat los nie en ook nie toelaat dat jy ander goed laat los nie. Ek sal nooit die tent waarin ek my eerste "alleen" kamp gehad het, kan verkoop nie.
Ek weet dit was nou wel net in die agterplaas en al het ek daardie aand "gekroek" en skelm deur die sitkamervenster geloer na Die man van Intersek op TV, geld dit beslis as my eerste volwaardige kamp.
Ek wed jou David Livingstone het ook 'n proeflopie of twee tussen sy ma se affodille gehad voor hy Afrika aangedurf het.
Hierdie rubriek het oorspronklik in Wegsleep#38 verskyn. Feite en geite kon intussen verander het - laat weetgerus by digitaal@weg.co.zaasjy iets raaksien.














