Reis

Hoe Nata-voëlreservaat Toast Coetzer se hart gesteel het

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Dis reeds dertien korhaanroepe ná sewe, maar ek was al voor sonop staande en besig om my tent af te slaan, op te rol en weg te pak in die kampterrein hier by die Nata Bird Sanctuary.

Van die kampterrein af is dit sowat 7 km se ry tot hier waar ek nou sit, onder die grasdaksambreel van 'n oulike houtpiekniektafel en bankie wat uitkyk oor Sowapan, die oostelike deel van die Makgadikgadi-panne.

Op pad hierheen het ek blouwildebeeste en volstruise afgeneem, asook witvlerkkorhane. Laasgenoemde verskaf die oggend se klankbaan hier teen die soom van die panne, tesame met kleiner voëltjies soos lewerike.

My nuwe ketel (gekoop by 'n netjiese buitelewewinkel op Modimolle toe ek twee weke gelede uit Suid-Afrika na Botswana vertrek het) het ook reeds klaar gesing op die Cadac, en nou drink ek koffie uit my blikbeker.

Dis lekker koffie wat 'n vriendin anderdag vir my uit Viëtnam gebring het. Daarin doop ek, kort op mekaar se hakke (want beskuite hét hakke), die laaste twee beskuite wat ek by my ma gekry het toe ek in Januariemaand by haar op die plaas gekuier het.

Vir iets souts: 'n Skyf oorskietpizza wat ek gister by die Panda Rest Camp in Pandamatenga gekoop het. Vir ekstra skop kry elke skyf twee druppels rissie-olie, 'n gevaarlike nommertjie wat uit Rwanda kom (danksy my vriend Erns Grundling wat gereeld dié land besoek).

Dis vroeg in Maartmaand en ek is op pad terug Suid-Afrika toe ná 'n toer deur Botswana wat in Kasane teen die Choberivier gedraai het. Oor twee dae is ek terug in die republiek, maar vir nou sloer ek en loer in by van my gunsteling-plekke in dié uitgestrekte land, soos hier by die Nata Bird Sanctuary.

Dit was 'n slegte somerreënjaar - langs die Choberivier is die bos reeds aan't verdroog, en in Pandamatenga se droë lande staan hartseer mielies, sonneblom en boontjies en verdor in die son. Selfs die Panda Rest Camp se boorgat het opgedroog, en hulle moes inderhaas die sonpomp verskuif na 'n ander gat 'n entjie weg. Die pan hier voor my lyk op die oog af waterloos.

Dis net wanneer jy met 'n verkyker of lang zoemlens die westelike horison bespied dat jy die bewerige blou lyntjie water gewaar, en daarop die pienk spikkels van flaminke, waarvoor jy eintlik maar jou verbeelding moet gebruik. Verlede jaar toe ek op hierdie selfde plek gesit het, was die water skaars 200 m van die oewer van die pan, en kon 'n mens maklik na die flaminke stap om foto's te neem.

Ek was ook al in 'n goeie jaar hier, wanneer die water in klein golfies teen die oewer aanspoel en jy kan swem, met die water wat amper tot by jou heupe kom. Die panne se onvoorspelbaarheid gee jou goeie rede om weer en weer te kom, juis omdat sy watervlak fluktueer.

Dis gewoonlik droog, ja, maar wanneer jy oor die jare heen vir 'n tweede en 'n derde en 'n vierde slag terugkeer, sal jy een of ander tyd gelukkig wees (solank jy laatsomer kom) en die water weldra soos 'n wafferse Gariepdam aantref.

Dán sing 'n mens, vir die mirakel daarvan, vir die stomme geologie wat oor die millennia gesorg het dat hier eens 'n binnelandse plas water was so groot soos vandag se Victoriameer. 'n Sterk oostewind stoot teen my aan. Hier staan nie veel bome nie, net 'n paar doringbome, maar dié roer nou met stywe takkies. Op die vlaktes langs die pan staan kort, stekelrige gras wat in die soutgrond aard.

Ook dié vibreer nou soos die pennetjies van 'n krimpvarkie. Ek merk nou vir die eerste keer 'n groot roofvoël in die top van 'n doringboom, sowat 200 m van waar ek my Jimny geparkeer het. Dit lyk soos 'n swartborsslangarend, maar kan seker 'n breëkoparend ook wees.

Vir oulaas verskyn iets verrassends hier uit die skynbare niks van die panne: Vyfstuks blouwangbyvreters roep en draai met hulle skerp vlerke die landskap rondom hulle dronk van al die kleur.

Dan tel die wind skielik die byna leë pizzaboks op, en ek moet spring om dit te red voordat dit van hier oor die panne waai - niemand wil 60 km hiervandaan by Kubu-eiland my pizzaboks teen 'n kremetartboom aantref nie…

Die tweede koppie koffie is klaar, en dit word tyd om op te pak. Hiervandaan na Francistown, môre Palapye, en daarna oor die Limpopo by Groblersbrug en terug Pretoria toe, waar vriende wag, en verdere koppies koffie, en hopelik beskuite ook.

‘Op pad hierheen het ek blouwildebeeste en volstruise afgeneem, asook witvlerkkorhane. Laasgenoemde verskaf die oggend se klankbaan hier teen die soom van die panne, tesame met kleiner voëltjies soos lewerike.'

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM