Hier is geen grensdrade rondom die nasionale parke en ander reservate nie - die leeus, olifante en ander gevaarlike diere loop dus net waar hulle wil. En jy wil nie graag tussen 'n span olifante sit en 'n lemoen skil nie.
Dinge gaan nie goed uitdraai nie - nie vir jou óf jou lemoene nie.Dit help as jy met aandag ry. Ja, hier op die A3 tussen Maun en Gweta moet jy wel ook in die pad kyk, want slaggate is hier genoeg van.
Maar jy hou ook die ruigtes en grasvlaktes langs die pad dop. Olifante sien jy gewoonlik van ver af reeds. Jy sál 'n paar gewaar, want hier lek een of ander pyplyn op plekke, en dié water lok dors grootvoete (wat nie noodwendig eers links, regs en weer links kyk voordat hulle oor die pad stap nie...).
Vandag is ek nie haastig nie. Ná 'n paar rustige dae op Maun moet ek vandag net voor donker by my slaapplek naby die dorpie Nata uitkom. Om die waarheid te sê, ek ry so lekker dat ek nie wil hê die pad moet ophou nie.
Het jy al ooit só gevoel? Om net vir ewig te wil ry, stadig, met 'n glimlag op jou bakkies?
Deur die veeartsenyhek, dan verby die afdraai na Motopi en nou raak dit selfs wilder rondom my. Suid van die pad lê die Makgadikgadi-panne- nasionale park, en noordoos die Nxaipan- nasionale park.
Dan verskyn die bultjie waarvoor ek op die uitkyk was: 'n toe-gegroeide duin wat jy maklik miskyk as jy haastig is. Ek klik die flikkerhefboompie van die Suzuki Jimny en draai af na links.
Hier is 'n skaduboom waar jy kan uitklim. Voordat ek vanoggend uit Maun weg is, het ek eers by 'n koffiewinkel genaamd Hilary's stilgehou om 'n geroosterde toebie met hoendermayonnaise te koop.
Nóú is dit tyd om dit te eet. Hier, in die paradys.
Waar? Langs die A3 tussen Maun en Gweta, omtrent 21 km oos van die Motopi-afdraai (35 km wes van die afdraai na Nxaipan- nasionale park).






