'n Paar jaar gelede het 'n groep Goudveldse vriende met die gedagte begin speel om Botswana met hulle woonwaens te gaan verken.
Dit het die groep - Pieter en Annette van der Merwe, Jurie en Adriana Blom, Sarel en Ester Griesel (almal van Riebeeckstad) en Callie en Santa de Jager van Hennenman - baie opgewonde gemaak, maar omdat die meeste van hulle nie gesoute reisigers in ons buurlande is nie, was hulle effens huiwerig om so 'n toer aan te durf.
Jurie het egter al vantevore só 'n reis onderneem en het aangebied om vir hulle 'n "sagter" toer deur Botswana saam te stel wat hulle sonder veel moeite met padwaens sou kon baasraak.

Die vriende het die daad by die woord gevoeg en begin planne maak - en die opwondenheid het tot in Montagu in die Wes-Kaap gestrek waar Jurie se suster Maretha de Wet en haar man, Francois, besluit het om saam te gaan.
Jurie en Adriana sleep 'n Sprite Swing met 'n Nissan Navara; Pieter en Annette kamp ook met 'n Swing wat hulle met 'n Ranger sleep; Sarel en Ester het 'n Gyspey Raven op hulle Chevrolet Trailblazer se haak; en Francois en Maretha sleep 'n Sprite Tourer agter hulle Toyota Hilux.
Die Hennenmanners het die enigste boswa in die groep: Agter hulle Hilux draf 'n Conqueror Companion.
In Junie laasjaar het die De Wets tot op Riebeeckstad gekom van waar die groep op hulle Botswana-avontuur vertrek het.
Jurie het die reëlings só getref dat hulle hoofsaaklik op teerpad sou ry.
Die uitsonderings was net hier en daar waar hulle met 'n grondpad of tweespoorpaadjie tot by hulle kampplek moes kom. Dit was darem nooit te veel vir die padwaens nie.
Uit die Noord-Vrystaat het die konvooi koers gekies Limpopo toe waar hulle eers 'n nag by Klein-Kariba oorgestaan het voor die toer in alle erns begin het. Pieter vertel…
Grens toe
Ons het ons spyskaarte vir die reis haarfyn uitgewerk en elke ete tot in die fynste detail beplan.
Dié beplanning gaan nog handig te pas kom, veral ná die dae waarop ons ver moet ry en dan nie tyd het om vir 'n braaivuur te wag om kole te maak nie. Vir daardie aande kon ons vinnig iets aanmekaarslaan.
Ons maak vir oulaas seker alles is gepak, groet Klein-Kariba en val dan in die pad na die Martin's Drift-grenspos toe.
Ons gaan nie vandag al Botswana binne nie, maar oornag by die Moriti-boskamp, minder as 10 km duskant die grens.
Dit is net die plek om te oornag as jy die volgende oggend vroeg by die grens wil wees.
Ons almal is dit eens Moriti is 'n juweel van 'n kampplek en nét die plek om ons boservaring in Botswana in te lei.

Tussen die reuse
Ons maak dit sonder voorval oor die grens en vorder tot by die Woodlands Stop Over buite Francistown.
Dit is 'n pragtige kamp met heelwat gras en bome en baie netjiese en moderne ablusiegeriewe.
Dis bedrywig hier, veral vroegoggend, maar kort ná sonop is die kamp feitlik verlate soos die mense weer na hulle onderskeie bestemmings vertrek.
Ons volgende bestemming is Elephant Sands naby Nata waar ons vir die nag gaan oorstaan.
Dis 'n besonderse ervaring - in die kamp is 'n groot watergat waar olifante rustig hulle dors kom les.
Hier is geen heinings of versperring tussen ons en die olifante nie, en 'n mens besef sommer gou in die teenwoordigheid van hierdie imposante diere hoe nietig jy is.
Elephant Sands se ablusiegeriewe is basies en die kampplek het nie elektrisiteit nie. As jy dus van krag afhanklik is, moet jy maar ná een nag weer in die pad val.
Ons is nie ingerig om heeltemal onafhanklik van elektrisiteit te wees nie en kies koers na Senyati, sowat 20 km duskant Kasane. Hier begin ons ware avontuur.
In die kampplek deel ons twee-twee 'n klein private ablusieblok en kombuis. Die oordmense stook donkies vir warm water en die geriewe is basies dog skoon - net reg vir 'n ware boservaring.
As jy gelukkig is, hoor jy snags 'n leeu brul of 'n jakkals huil. Die ervaring van 'n laatmiddagkuier met 'n koffietjie (of iets sterkers) by die watergat (teenaan die kamp) is 'n ongelooflike ervaring.
Skares olifante - in verkillende troppe en sommige op hulle eie, van speenoud tot stokoud - streep lui-lui nader vir die dag se lafenis.
Dit woel en maal, trompetter, stamp en stoot - te heerlik. Van die uitkykpunt af (sowat 10 m van die watergat af) is jy stil en voel oorweldig, amper asof jy deel van die trop is.
Soms is daar tot 50 grootvoete gelyk bymekaar.

Verken die wêreld
Van Senyati af kan 'n mens maklik op uitstappies gaan. As jy nie 'n 4x4-voertuig het nie, kan jy van operateurs gebruik maak wat jou teen 'n billike tarief met hulle voertuig vervoer.
Ons het dit gedoen en die gidse is goed opgelei, vriendelik en sorg dat toeriste waarde vir hulle geld kry.
Die Chobe-natuurreservaat met sy dik sandpaaie is net buite Kasane en is 'n ware wildtuinervaring, en omdat 'n groot deel van die roete langs die Choberivier loop, is dit ook 'n voëlkykparadys.
Visarende en troupante is amper so volop soos rooibokke in die Kruger. 'n Ware belewenis.
Ons het ook 'n bootrit op die Chobe gedoen en kan dit ten sterkste aanbeveel. Die rivier vloei breed, en om die diere van die water af te bekyk is iets wat ons nog nie ervaar het nie.
Dit wemel van die watervoëls, en die voëlkykers onder ons kon nie genoeg kry van dié stukkie weelde nie.

Teen laatmiddag is almal in verwondering oor die ongelooflike mooi sonsondergang wat die nag welkom heet.
As jy ooit in hierdie omgewing is, is 'n daguitstappie na Zimbabwe tot by die Victoriawaterval iets wat jy gerus by jou toerprogram kan insluit.
Bring 'n reënjas saam (of huur 'n poncho by die waterval).
Dis sowat 70 km van die Botswanagrens af, maar onthou, dis baie duur om 'n voertuig van Botswana af by Zimbabwe in te neem.

Prop dus soveel as moontlik van julle in 'n bussie.
'n Mens het skaars woorde om die Victoriawaterval te beskryf. Hier kom jy werlik onder die indruk van die wonder van die natuur.
Om te sê dis groots is regtig nie goed genoeg nie. Met ons besoek het die hoofwaterval byna 1,3 km breed gevloei. Een woord... ongelooflik.
Op die terrein van die waterval is 'n oulike restaurant, maar wees gewaarsku: Jy betaal in Amerikaanse dollar. Moet dus nie dink daardie ete vir twee jaag jou R42 uit die sak nie…
By die stalletjiesmark moet jy ook sterk wees. Op 'n kennigewingbord buite die mark word jy genooi om vriendelik te wees, maar sterk te onderhandel oor pryse.
As jy nie hou van kibbel en stry nie, bly dalk maar eerder weg.
Sielskos in die delta
Van Kasane af ry ons na die Okavangodelta toe. Die maklikste pad is deur die Zambesistreek, oftewel die Caprivi. Ons kamp twee nagte in die Kwandokamp langs die gelyknamige rivier - wat 'n besonderse ervaring.
Die ablusiegeriewe is rietskuilings sonder 'n dak, maar met heerlike warm water en spoeltoilette.
Die hoofgebou is luuks en daar's 'n houtdek waar jy droomverlore oor die rivier kan staan en kyk terwyl jy aan 'n koue drankie teug.
Iemand in ons groep sê dié oomblik is kos vir die siel… en ek kan nie méér saamstem nie.
Om van die Caprivi af na Botswana terug te keer moet jy ongelukkig 'n grondpad van 30 km trotseer - hy's lekker breed, maar goed skurf. Ons vat dit rustig… en dan is dit heerlik om weer met ons waens op teerpad te sleep.
Die volgende juweeltjie op ons pad is Drotsky's Cabin. Hier langs die Okavango lê seker een van die mooiste verblyfplekke wat jy ooit sal teëkom.
Dit is ook die plek waar jy vir 'n bootrit op die Okavango kan bespreek. Die grootsheid van die delta en die ongelooflike natuurskoon is oorweldigend.
As jy gelukkig is, sien jy 'n visarend… sommer hier langs die boot!

Uit 'n ander hoek
Die pad tussen hier en Maun is 'n gebedsaak. Dán is jy langs die pad, dán slinger jy om slaggate - en soms is al uitweg om sommer net stadig déúr die gate te kruip. Ná drie uur op die pad moet jy tevrede wees met skaars 105 km agter jou, maar kort daarna is alles weer normaal.
By Maun se Island Safari-lodge bly ons weer eens heerlik met genoeg en netjiese ablusiegeriewe.
As jy mooi gewerk het met jou geld, kan jy jouself hier bederf met 'n vliegtuigrit oor die Okavangodelta - jy vertrek van die Maun- internasionale lughawe af.
Ons het dit gedoen en ek kan eerlikwaar sê voordat jy nie die Okavango uit die lug gesien het nie, het jy nie werlik 'n idee hoe groot en wyd hierdie natuurwonder is nie.
Hierna kan jy kortpad vat Palapye toe vir 'n laaste oornagstop in Camp Ithumela voordat jy die laaste skof huis toe pak.
Laaste sê
Kan jy 'n sinvolle Botswanatoer aandurf en meestal teerpad ry? Ja, jy kan. Maar jy kan ook jou boswa flenters kom ry.
Alles hang af hoe jy dié land se padtoestande respekteer. Die paaie wissel van netjiese teerpaaie met geel strepe tot padverleggings en regtig slegte paaie met baie slaggate.
Die geheim om slegte paaie te oorleef is om jou spoed te beheer. Ry stadig, versigtig en beskaaf as padtoestande dit vereis, en jy sal geen probleem hê nie.
Die padwoonwaens in ons groep is ongedeerd terug ná 4 200 km en ons is reeds besig om ons volgende reis na die Weskus te beplan.
As jy Botswana met jou padwa wil verken, kan jy ons toer lag-lag binne 19 dae doen. Dit was die ervaring van 'n leeftyd.
Sal ek dit weer doen met my padwa? Maklik!
Hierdie artikel het oorspronklik in April 2019 verskyn. Feite en geite kon intussen verander het - laat weet gerus by digitaal@weg.co.za as jy iets raaksien.






