Die son se eerste strale syfer deur die deinserige, insekbelaaide lug van die Okavangopypsteel en kom lê oranje teen die stekelrige stam van die knoppiesdoringboom bo my. 'n Span rooibekkakelaars is reeds besig om die bas van 'n enorme jakkalsbessie met hulle skerp skeloranje snawels te deurpriem.
'n Kuifkophoutkapper hou als belangstellend dop, vere deurmekaar asof daar gisteraand huismoles was. Op die grond wip pylvlekkatlagters tussen die blare rond. Met my oggendkoffie in die hand stap ek 'n paar treë weg van my tent sodat ek die son teen my wang kan voel.
Dis vroegwinter en die lekkerste tyd in Botswana. Koel genoeg saans sodat jy goed slaap, maar die dae steeds warm genoeg vir 'n kortbroek en T-hemp. 'n Paradys, dus.
Ek kuier nou al 'n week of wat lank in die Shakawe-omgewing by wonderlike mense wat dié plek se ritme deel van hulle leefstyl gemaak het.
Kom saam, ontmoet hulle!

Van D'Kar tot hier
D'Kar is 'n kolletjie op die Botswana-kaart tussen Ghanzi en Sehithwa, maar vir Willemien le Roux was dit vir 'n groot deel van haar lewe die middelpunt van haar bestaan. In 1967 het haar ouers, Dirk en Pollie Jerling, uit Suid-Afrika na D'Kar getrek.
"Ons was Doppers. My pa, 'n boer, het 'n advertensie gesien in Die Kerkblad, wat gesê het hulle soek 'n plaasbestuurder vir 'n sendingplaas in Botswana," vertel Willemien.
Ons sit op die gras voor haar huis by Askiesbos, 'n boskamp, suid van Shakawe. Hier voor ons blink die rivier, en digte plate papirus kan tot in die verte gesien word na die ooste - die Okavangopypsteel is amper 10 km wyd hier.
"Hy het geboer op 'n verskriklike mooi stuk aarde naby Bronkhorstspruit, maar my pa het gesê: ‘Drieduisend hektaar Kalahariveld waar ek met beeste kan gaan boer, gaan beter wees as drieduisend hektaar mooigeit waarop niemand kan boer nie!'
"Hy het juis Botswana toe gekom vir die niks, maar dit was steeds 'n skok toe ons by D'Kar aankom. My pa se betaling was die feit dat hy sy beeste op die grond kon laat loop, en deel van sy verantwoordelikheid was die tagtig Boesmans op die plaas. Dié mense was vlugtelinge van ander plase waar hulle nie meer welkom was nie, en dan het hulle op D'Kar kom sit, want die kerk sou vir hulle sorg.
"Daar was 'n Tswana-sendeling, maar hy het binne 'n jaar opgegee. Tog het my pa besluit hy gaan aan met die kerkie, al was hy glad nie 'n dominee nie, hy was 'n boer." Willemien en haar vier sibbe moes skoolgaan op Gobabis, oorkant die grens in die destydse Suidwes-Afrika.
"Dit was tien ure se ry agterop die roomlorrie van Ghanzi af," onthou sy. "Dan was ons in die koshuis vir drie maande en ons kon nie eens huis toe bel nie, want daar was nie 'n telefoon op D'Kar nie."
Haar ouers het later as onderwysers op Gobabis gewerk om hulle inkomste aan te vul en die kinders universiteit toe te stuur. Willemien is Potchefstroom toe waar sy vir Braam le Roux ontmoet het.
Braam was 'n dominee en hulle trou kort daarna en gaan bly in Vanderbijlpark. Maar dit was nie lank nie, of Braam aanvaar 'n ander pos, dié slag na Botswana - D'Kar, om presies te wees!
Só keer Willemien as jong vrou terug na die Kalahari. Een van haar susters het intussen met 'n De Graaff van Ghanzi getrou, en haar broer werk in Gaborone as ambagsman.
En haar ouers sien wraggies kans vir nóg: Hulle kry 'n plaas wat grens aan die Sentraal-Kalahari-wildreservaat en tien jaar lank woon hulle daar onder 'n afdak onder 'n doringboom. "Dit was 'n pioniersbestaan," sê Willemien. "My ma het kos gemaak op 'n oop vuur, en haar kantoortjie was in 'n ou woonwa."
Intussen vat Willemien en Braam voor by D'Kar. Die erkenning en opheffing van die Boesmans in Botswana word vir hulle 'n lewenstaak. In 1998 trek hulle Shakawe toe waar haar ouers teen daardie tyd kom bly het.
Die naam Askiesbos is hoeka deur haar pa uitgedink. Hy het gedurig ‘askies!' vir die bome gesê as hy hulle moes afkap om plek te maak vir hulle huis. Die gejodel van 'n heuglinjanfrederik styg op uit 'n oewerboom.
"Nadat Braam in 2009 oorlede is, het ek begin fokus op bewaringsboerdery vir die gemeenskappe rondom my. Ek het in Wes-Zambië gesien hoe goed dit daar werk en het geglo dieselfde tegnieke sal langs die pypsteel ook suksesvol wees, want ons het dieselfde klimaat."
Willemien het die Pabalelo Trust gestig om die meestal kleinboere van die Hambukushu-stam in die omgewing te ondersteun. Pabalelo fokus daarop om boere se landerye ordentlik te beskerm deur dit met elektriese draad - wat met sonkrag werk - te omhein sodat olifante uitgehou word.
Olifante wat lande kom verniel en 'n oes oornag opvreet, is een van hulle grootste uitdagings.
Willemien se dogter, Hettie, en skoonseun, Dammann Kruger, kom sluit by ons aan.
Hulle drie kinders (Wilmien, Braam en Lianke) is in die huis besig met hulle skoolwerk. Hettie het op D'Kar grootgeword, en onthou hoe hulle in 'n stadium nes die Boesmans in 'n grashuisie gebly het.
Dammann is oorspronklik van Vryheid en hy en Hettie het mekaar op universiteit in Potch ontmoet. Hulle het eers in Centurion gewoon, maar trek toe einde 2016 Shakawe toe en begin om Askiesbos as 'n toerismeplek te ontwikkel.
Voor Covid-19 het hulle 'n eerste hupstoot gekry en kon met regeringsbefondsing twee safaritente oprig. Toe, later in 2020, bel 'n boer van Pandamatenga hulle uit die bloute en vra of hulle slaapplek het vir 25 mense.
Toe Hettie nee sê, bied die boer aan om 'n paar maande vooraf die volledige verblyfkoste te betaal sodat Hettie-hulle dit kan gebruik om geriewe te bou vir die gaste wat hy wou bring.
"Hy't letterlik vir my gesê: ‘Ag, jirlikheid, maak 'n plan!'" sê Hettie.
Dammann moes toe maar spring. "Kyk, toe ons nog in Centurion gebly het en die toilet lek, dan bel ons iemand, maar hier moet ons als self doen. Toe Dammann weer sien, moet hy 'n septiese tenk insit..."
"Ek het maar ge-Google hoe..." antwoord Dammann.
Hoewel vriende van hulle gereeld kom kuier, mis Hettie die sosiale aspek van hulle lewe in Centurion. "Ek mis cappuccino's en my vriende," sê sy.
"Maar dit is regtig fantasties hier. Op 'n Vrydagmiddag spring ons in die kar, elkeen vat 'n kampstoel saam en ons ry net 15 minute, dan is ons iewers waar jy kan gaan mokoro ry of sommer net die sonsondergang geniet."
Mielies, sorghum, pampoen, waatlemoen, spinasie en kool is gewilde dinge om langs die pypsteel te plant.

Maar Wandipa Adzina en Mothare Mohembo wou iets anders doen. Hulle plasie is geleë tussen Askiesbos en die Shakawe River Lodge.
Ek volg die sandpad soontoe en parkeer in die skadu op hulle werf, wat vol mooi blomplante en boompies in sakkies staan. Die grond waarop Mothare en Wandipa woon en boer, was oorspronklik sy pa s'n.
Mothare was jare lank in Botswana se weermag, en gestasioneer in Francistown, waar hy vir Wandipa ontmoet het. Buite Francistown het hulle ook oor naweke op 'n lappie grond geboer, maar Mothare wou terugkeer na sy grootwordplek.
"Dit is sowat 13 ha," sê hy. "My pa het na 'n ander stuk grond getrek, en al was hier net 'n ou ploegland, het ek en Wandipa kans gesien om dit te transformeer. Ons het navorsing gedoen en gekyk na aarbeiplase in Kenia en Pakistan en besef dat ons klimaat soortgelyk is.
"Willemien le Roux van Askiesbos het vir ons tien plantjies gegee, wat ons toe vermeerder het en in 'n gebied van 25 m x 25 m onder skadunet geplant het. Nou is daar duisende plantjies, en ons verkoop ook plante aan besoekers."
Hulle het in 2016 sak en pak saam met hulle kinders hierheen getrek. "Tydens Covid-19 was die plaas 'n wonderlike plek om te wees," sê Wandipa."Dit het ons nie gepla dat jy nie in die winkels kon kom nie," sê sy.

"Ons verbou soveel kos op die plaas. Behalwe vir aarbeie plant ons allerhande groente, en hier is hoenders en bokke, en perde vir die kinders om mee te speel." Sy lag. "Ek kan nou nog nie glo ons het perde vir die kinders as speelgoed gekoop nie!
"Maar dit was wonderlik om te sien dat ons van ons eie opbrengs kan oorleef. Dit gee jou 'n gevoel van vryheid om te besef dat jou harde werk letterlik vrugte afwerp, en dat jy later ook minder geld spandeer, want jy hoef nie so baie in die dorp te kom nie. Mothare sê gereeld hy wens ons het vroeër al hierheen getrek. Ons lewe is voller hier - ons is gesonder en het minder stres."

Ou Sam se mooi oë
Die Krokavango-krokodilplaas lê langs Askies-bos. My afspraak is met Ansie Gildenhuys - sy help met administrasie, en om die klein krokkies groot te maak. Voordat ons krokodille gaan kyk, ontmoet ek eers haar twee donkies, Klaas en Klara.
"Klaas is vreeslik lief vir mense," sê sy en druk haar gesig teen Klaas se wollerige neus. Dan kyk sy Klaas so en betig hom. "Ag, nee, Klaas, kyk hoe lyk jy van die grassade, jy was dan nou-nou so mooi skoon!"
Klaas en Klara is broer en suster, en hulle ouers was rescues. "Ek dokter al die village se diere, want hier is nie 'n veearts op die dorp nie," vertel Ansie. Klara staan eenkant en bekyk ons.
"Dáái merrie," sê Ansie en skud haar kop. "Sy is party dae só liefdevol, maar ander dae nie. Vanoggend wou sy nie dat ek haar borsel nie. Hulle het nou hulle lang winterhare, dit krul omtrent. In die somer is hulle weer mooi glad." Ansie en haar man, Lance, albei oorspronklik van Pelgrimsrus, is al meer as 20 jaar in Botswana.
Maar hulle het eers in 2010 Shakawe toe getrek. Kort daarna het Ansie werk gekry by Krokavango. Die plaas het soms tot 12 000 krokodille, maar toeriste kom gewoonlik om die reus genaamd Sam te sien.
Op pad na Sam se kampie vertel Ansie sy verhaal. Sam kry sy naam van die Samochima-nedersetting hier naby. Sam het blykbaar kleinvee gevang - dalk ook selfs mense. As probleemdier het hulle by natuurbewaringsowerhede toestemming gekry om hom te vang.
"Nou het die ou oom hier kom aftree," sê Ansie. "Hallo, ou Sam!" sy roep na waar die enorme krokodil van byna vyf meter soos 'n gevalle stomp lê. "Hy het die mooiste groen oë, jy moet kyk..."
Sam is dalk al 'n honderd jaar oud, niemand weet regtig nie. "Sammo," praat Ansie met hom. "Sammo, is jy lus vir eet?" Sam word vandag gevoer sodat ek 'n aksiefoto kan neem. Ek probeer sy mooi oë sien, maar Sam lyk nie lus vir flikkers gooi nie.
Die opsigter, Amos Kativa, is nou binne die kampie en stap versigtig nader. "Toemaar, daar was nog nooit 'n insident nie," sê Ansie toe sy sien ek lyk bekommerd. 'n Homp vleis is aan die punt van 'n la-a-ang stok vasgemaak en Amos hou dit bo Sam se kop.
Hy ignoreer dit geheel en al. Amos wikkel die stok sodat die vleis op en af wip soos 'n grusame pakkie aan die punt van 'n boemelaarstok. "Ag, Sammo, kom nou!" moedig Ansie aan. "Dit is lekker vars vleis, hier's 'n ou donkie dood in die village. Die ander krokodille vreet meestal hoender, maar Sam verkies donkie."
"Come, my friend, come eat," sê Amos rustig, en dan gryp Sam skielik die homp en pluk dit los van die stok. Soos 'n verveelde kind wat die hoeveelste gebraaide malvalekker outomaties vat en eet, begin Sam amper toe-oë kou en sluk.
Nadat ek saam met Ansie deur die res van die krokplaas gestap het, beduie sy na waar haar en Lance se huis is. Dis net af in die sandpad en links. Lance kan soos min ander mense met sy hande werk. Hy maak messe, meubels, swepe, papiruspapier, ystergoed, kleigoed, kunstige goed, praktiese goed, móói goed.
"Hierdie werkswinkel het maar die laaste paar jaar gematerialiseer," vertel hy wanneer ons by sy werkstafel sit en gesels.
"Baie daarvan kon ek bou deur middel van ruiltransaksies. Ek doen werk vir iemand en die ou kan my dalk nie betaal nie, maar ek kry ou conveyor belts by hom, en daarmee het ek die vloer gemaak. En daai container is ook danksy 'n job wat ek gedoen het."
Lance vertel dat hy van kleins af reeds goed met sy hande kon werk. Hy het as jong man 'n hoër diploma in meganiese ingenieurswese verwerf.
"Maar ek was nog nooit 'n ingenieur as sulks nie," sê hy, "maar ek het al trekkers gebou, sweiswerk gedoen - oral waar ek kom, is ek hands-on, nie in die kantoor nie."

Lance het ook gewerk aan die Mohembo-brug wat in 2022 voltooi is. Hierdie brug verbind die westelike oewer van die Okavangopypsteel met die voorheen afgesonderde oostelike oewer. Op die tafel is 'n pragtige handbyltjie, en ek vra hom daaroor.
"Die Hambukushu se kapteins het in die verlede sulke seremoniële byltjies gehad wat hulle gesag aangedui het," sê Lance. "Die tradisie het begin vervaag. Ek het nou byltjies gemaak vir die kapteine van Mohembo en van Shakawe. Uiteindelik sal ek graag soortgelyke artefakte vir die toeristemark wil maak."
Lance probeer iets van als, want dit is nie maklik om 'n lewe te maak op Shakawe nie.
"Dis een ding om hier te kuier, of af te tree," sê hy. "Die realiteit is egter dat als ver is, en dit beteken jou vervoerkoste is dubbel. En jy praat dalk met iemand oor die foon wat op Maun sit en verduidelik watter part of stuk gereedskap jy soek en as dit hier kom, is dit die verkeerde ding, dan moet jy dit weer terugstuur, en wéér vervoerkoste betaal!"
Lance werk ook met mense van die omgewing wat wil leer om swepe, meubels of enige van die artikels in sy werkswinkel te maak. "Ek probeer vir mense die waarde van die natuurlike hulpbronne van die omgewing leer," vertel hy.
Papirus word byvoorbeeld dikwels in die winter saam met die riete langs die rivier aan die brand gesteek. Maar deur papiruspapier te maak kan jy 'n inkomste verdien." "Ek hou daarvan om goed te maak wat hóú," sê Lance.
"Hierdie stoel waarop ek sit, is meer as 25 jaar oud. Jy kan 'n goedkoper stoel gaan koop by Furnmart, maar jy sit hom binne 'n jaar stukkend. My gawe is om te maak. Ek praat nie eintlik nie; ek maak."

Een van die mense wie Lance geïnspireer het om messe te maak, is die vriendelike Amerikaner Andrew Beckendorf. Andrew, sy ouer broer, Aaron, en hulle ouers, Lisa en Tim, woon naby Askiesbos.
Die Beckendorfs is al sedert 2005 in Botswana. Tim is 'n Bybelvertaler en werk al jare lank aan 'n Khwedam-weergawe van die Bybel. Khwedam is die taal wat deur die Khwe-Boesmans gepraat word.
Eers ontmoet ek net vir Andrew en sy ma. Andrew is netjies aangetrek en dra 'n kakiehemp en keps waarop "Beckendorf Blades" geborduur staan. Sedert hy as agtjarige sy eerste mes leer maak het, het hy sy werk aanhou verfyn - deesdae verkoop hy messe aanlyn, of by markte op Maun.
Soos die Kruger-kinders langsaan, kry die Beckendorf-seuns tuisonderrig. "As die skooldag taai was," vertel Andrew, "is dit lekker om later 'n bietjie te kom ysters slaan!" Hy haal een ná die ander mes uit. Daar is biltongmesse, jagmesse, dolke.

"Dié een is gemaak met staal wat uit een van my pa se Hilux-bakkie se ou vere uit kom," sê hy. "Dis terapeuties om te sien hoe 'n mes mettertyd uit 'n stuk metaal te voorskyn kom."
"Ons gebruik sonkrag," verduidelik Lisa. "Daarom, as Andrew elektriese masjiene moet gebruik, dan werk hy tydens die dag aan sy messe, hoewel dit meestal oor naweke sal wees. Daar is altyd tyd om skoolwerk in te haal."
Lisa het as kind van sendelinge in Papoea-Nieu-Guinee grootgeword en was al 18 toe sy Amerika die eerste keer besoek. Sy besef dit sal vir haar seuns nét so 'n aanpassing wees om eendag na die VSA terug te trek.
"As ons hier weggaan, sal ek dit baie mis," sê sy. "Hier word jy nie met onnodige dinge gebombardeer nie. Ons is baie onafhanklik, en doen wat ons wil, wanneer ons wil."
Andrew het hier grootgeword, en behalwe vir kort besoeke aan die VSA, is die Okavangopypsteel sy wêreld. Tim daag op en vertel van die Bybel-vertaling waaraan hy werk. Dit word 'n panoramiese Bybel genoem, wat die mees instruktiewe dele van die Ou en Nuwe Testament bevat.
Tim het Khwedam aangeleer en hoewel hy dit nie goed praat nie, kan hy dit vlot lees en skryf. Met sy agtergrond in klassieke Bybeltale soos Hebreeus en Grieks speel hy 'n oorhoofse rol om seker te maak die vertaling klop met oorspronklike tekste.
"Khwedam is moeilik om te leer omdat dit meer van 'n spreektaal as geskrewe taal is," vertel hy. "Maar ek het dit vinnig aangeleer toe ek aanvanklik van nedersetting na nedersetting gereis het en veral met die ouer mense sit en gesels het.
Die stories wat hulle vertel het, en die transkripsies wat ek daarvan gedoen het, het deure begin oopmaak."
Wat sê die mense?

Piet Scheepers, Bestuurder, Drotsky's Cabins "Ek is oorspronklik van Tosca, Bray se wêreld in Noordwes, maar woon en werk sedert 2001 hier teen die Okavango, en vir die meeste van dié tyd by Drotsky's. Shakawe het baie verander.
In die begin was hier nie 'n vulstasie nie en ons moes 100 km ry na Etsha 6 vir brandstof. Hier was ook net 'n algemene handelaar op die dorp, en ons moes twee keer per maand die 400 km - en terug - na Maun ry om vars voorrade vir die lodge te koop!"

Otto Xanda, Kampplekbestuurder, Drotsky's Cabins "Suid-Afrikaners kom vang graag vis by ons, veral tydens die sogenaamde barbel run van Augustus tot Oktober. Die riviervlak is dan laag, en die babers veroorsaak 'n beroering al teen die papirus langs.
Dít laat die kleiner vissies skrik en uit hulle wegkruipplekke vlug, en dis dán wanneer die tiervis toeslaan. Intussen moet jy regstaan met jou Rapala-kunsaas van die boot af!
"Hier is puik voëlkykgeleenthede - die kans is goed dat jy 'n visuil sien op 'n riviervaart by Drotsky's, en gaste kan ook saam met my in die bos gaan stap. Ons sien dikwels swartwangkatlagters of bruinvuurvinkies."
Kethamile ‘Fish' Mokwasha, Vryskutgids "Toe ek net ná skool by 'n visplaas op die dorpie Nxamaseri begin werk, kon die eienaar nie my naam lekker uitspreek nie, toe word ek sommer ‘Fish', en dis nou nog my bynaam!
"Ek het lank by Nxamaseri Island Lodge gewerk, maar doen nou my eie ding - ek neem toeriste uit op mokorovaarte, of ons ry na die Tsodilokoppies. In die stil tye sorg ek vir my tuin - ek het al bome geplant soos pruim, moerbei, koejawel en avokado. Ek gaan werk ook soms vir 'n week of so op ons familie se beesplaas verder weg van die rivier.

"Die rivier is die groot attraksie vir toeriste. Die mokorovaarte is stil en jy kom nader aan die voëls - jy vaar in vlak water, op die vloedvlaktes. Met bootvaarte is jy weer in die hoofstroom van die Okavango, en daar sien jy seekoeie en krokodille."
Kontak Fish by 00 267 73 943 068.
Bly hier

Shakawe River Lodge
Dié gewilde plek suid van Shakawe is in 2022 opgeknap. Hier is 10 kampplekke, en 10 chalets.
Kontak 00 267 68 404 03; info@shakawelodge.com

Askiesbos
'n Wonderlike, weggesteekte plek. Twee van die safaritente is in die bos en drie kyk uit oor die rivier. Maaltye beskikbaar.
'n Groot huisboot (tot 10 mense), Delta Belle, kan bespreek word (maaltyd-opsie ook beskikbaar). Behalwe vir bootvaarte, visvang en dagtoere na Tsodilokoppies bied hulle ook verrykende kulturele uitstappies in die gemeenskap.
Kontak 00 267 73 505 193 (Hettie); samochimabushcamp.com

Drotsky's Cabins
Dis een van Shakawe se bekendste plekke en gewild onder hengelaars en voëlkykers. Daar is kampgeriewen en diegene wat by die chalets oornag, kan ook etes bespreek. Hulle het drie verskillende bote beskikbaar vir hengelaars (4, 8 of 12 mense) - vra oor pryse.
Kontak 00 267 683 0226 (Piet); drotskys.com

Xaro Lodge
By hierdie luukse lodge suid van Shakawe voel dit asof jy in die delta is. Pryse sluit ontbyt en aandete in. Jy word per boot soontoe geneem - lekker!
Kontak 00 267 72 807 476; xaro-lodge.com
Nxamaseri Island Lodge
Hierdie mooi, luukse plek is verder suid naby die dorpie Nxamaseri (Ncamasere). Visvang is gewild hier, en veral vlieghengel. Kontak hulle direk vir tariewe.
Kontak 00 267 71 326 619; nxamaseri.com
Swamp Stop
Hierdie gawe plek is naby die dorpie Sepupa. Hier is ses kampplekke teen die rivier, asook lugverkoelde kamers en safaritente.
Kontak 00 267 72 610 07; swampstop.co.bw
Nguma Island Lodge
Dié lodge is net noord van die dorpie genaamd Etsha 13, op die oewer van die Guma Lagoon.
Kontak 00 267 73 560 120; ngumalodge.com
Guma Lagoon Camp
Ook naby Etsha 13 - die toegangspad is slegs vir 4x4-voertuie. Hier 16 safaritente wat oor die water uitkyk.
Kontak 00 267 77 570 658 (WhatsApp); 00 267 75 446 244; guma-lagoon.com
Carmine Rivercamp
Hierdie kamp is 44 km suid van Mohembo, maar op die oostelike oewer van die pypsteel - jy gebruik die nuwe brug by Mohembo.
Kontak 00 267 74 334 337 (Charlie); info@carminerivercamp.com
Tsodilo Hills
Hoewel dit 35 km wes van die pypsteel geleë is, is Tsodilo se byna mistieke rotstekeninge 'n móét om te sien.
Kontak 00 267 680 0419






