Reis

Wanneer die natuur sy plek terugneem: Ou Palapye se rustige

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Uit die ooste roer 'n koel luggie - dit moet laasnag iewers doeriekant toe gereën het. Dit het ampertjies hier ook gereën, maar die spore van die enkele druppels is vanoggend moeilik om in die sand te vind, só min was dit.

Gister was bloedig warm - by die 40 °C - en dalk word vandag ook 'n kraaigaper. Maar vir eers is die oggend sag en goedgunstig. Vroeg reeds het 'n paradysvlieëvanger uit die maroelaboom langs my tent gefladder om 'n goggatjie te vang.

Twee haastige bosveldpapegaaie is ook al verby, en tussen koppie koffie nommer een en twee het 'n gevlekte lyster met sy kordate stappie sy paradegrond kom patrolleer.

Van waar ek sit en tik - by 'n netjiese houttafel onder 'n 4 m x 5 m-grasdak - kyk ek van die kampplek onderdeur die takke van vaalbome na 'n klein, geploegde landery waar 'n span kroonkiewiete opmetingswerk tussen die kluite doen.

Verder staan 'n huis met 'n bruin watertenk op 'n stellasie langsaan. Nie 'n JoJo-tenk nie, want Botswana maak sy eie en noem dit 'n Mokoro-tenk. Hier woon, onder andere, 'n man genaamd Tendai wat my gistermiddag by die Aqua Nature Farm verwelkom het. Die eienaar van die plaas is blykbaar in Gaborone, en Tendai het namens hom my P100 ingevorder vir die aand se kamp.

Dis 'n unieke plasie hierdie, want dit lê aangrensend aan die terrein van Ou Palapye - die oorspronklike ligging van die dorp Palapye.

Moderne Palapye lê vandag sowat 24 km noordwes van hier op 'n kruispad waar die besige A1-hoofroete tussen Gaborone en Francistown die paaie ontmoet wat van die Groblersbrug-grenspos af kom van die een kant, en dan weer uitlei na Serowe na die ander kant.

My eerste besoek aan Palapye was in 2000 toe ek en 'n paar varsity-vriende hier deurgetoer het (my vriendin Leanne se familie is van Serowe). Destyds het dit na die platteland gevoel - 'n paar vulstasies, ysterwarewinkels, klein supermarkte - maar dit het intussen ontpop as 'n toonbeeld van die welvarendheid van Botswana.

Hier is 'n universiteit, 'n paar groot hotelle teen die hoofpad, twee steenkoolkragstasies - en die Mokoro-fabriek (wat plastiekwatertenks, asook bakstene, maak). Dit woel, en die strate is vol karre.

Gistermiddag het ek by drie van Palapye se malls gaan draai. Een van my gunsteling-drankies wanneer ek hier toer, is Supermalt, 'n nie-alkoholiese drankie wat in 'n bruin botteltjie (dit lyk soos daai dumpies waarin bier in die 1980's gebottel is) verkoop word.

Supermalt word in Denemarke gemaak, maar is om een of ander rede gewild genoeg om in Botswana-supermarkte soos Spar of Choppies verkoop te word.

Ek wou 'n paar takeaways koop sodat ek terug by my huis 'n Supermalt kon geniet wanneer ek na Botswana verlang.

Die eerste twee winkels (Pick n Pay en Spar) se Supermalt was uitverkoop. Gelukkig kon ek by Choppies ses botteltjies opspoor. Die malls het my verstom. Dis dalk omdat 'n mens Botswana toe kom vir olifante en kremetartbome dat die teenwoordigheid van malls jou onkant vang.

Dis dieselfde argitektuur van 'n mall enige plek in die wêreld: Imposante ingang, wye wandelgange, helder advertensies en uitstallings van alles van modieuse tekkies tot selfone tot duur whiskey - als ontwerp om jou binne te lok, en te laat koop.

Van waar ek vanoggend hier by Ou Palapye sit, lyk dié moderne goed oorbodig tot my geestelike welstand. Ou Palapye was eens op 'n tyd genoeg vir die Bangwato-mense van hierdie omgewing.

Hier, teen die lae voet van die beboste Tswapong-heuwels, het die eerste Europese sendelinge hulle aangetref en kort voor lank het die Londense sendinggenootskap in die 1890's 'n kerk gebou.

Dis die verbrokkelende rooibaksteenruïne wat jy vandag hier kan besigtig.

Klipiruïnes in Ou Palapye, Botswana. Foto: Gettyimages.com
Klipiruïnes in Ou Palapye, Botswana. Foto: Gettyimages.com

Uiteindelik was dit 'n tekort aan water vir die groeiende bevolking wat hulle hier weggedwing het - by die nuwe Palapye was daar meer water.

Dit is eintlik goed dat almal so skielik hier weg is, want dit beteken dat daar iets van die atmosfeer van Ou Palapye behoue gebly het.

Ja, hier is wel deesdae 'n teerpad tot na aan die geskiedkundige terrein. Maar die gevoel van landelike vreedsaamheid het agtergebly, saam met die veraf geklingel van 'n bees- of bokklok, 'n haan wat kraai, die getjir van 'n kuifkophoutkapper iewers in die bos.

Soms het ons veel minder nodig as wat ons dink. Vanoggend is hierdie genoeg én alles.