Iets soos dít wat by die Woonwaskou in Midrand met my gebeur het.
Ek het my die Saterdagmiddag vir 'n rukkie van Ry & Sleep se stalletjie verskoon om 'n draai deur al die uitstallers te stap om te kyk of daar dalk 'n ou bekende is om te groet, ons vindingryke vervaardigers se nuwe produkte onder oë te kry en sommer net my vinger op die pols van ons bedryf te hou.
Ek was nie spesifiek op soek na iets of iemand nie, maar so in die rondslenter het ek met Lea Erasmus van Ultimate Routes by hulle stalletjie aan die gesels geraak nadat sy my nader geroep het.
Sy het my meer vertel van wat hulle doen, en die ooreenkomste tussen dít waarna ons tydskrif streef en die diens wat hulle lewer, was te groot om mis te kyk.
'n Gedeelde liefde vir oop ruimtes, grondpaaie, grensposte en die vryheid van selfryreise.Lea het my aan haar man, Francois, voorgestel, en saam het hulle opgewonde vertel hoe hulle onderneming ontstaan het en hoe hulle op die punt gekom het waar hulle spesialiseer in die beplanning en bespreking van selfry-avonture reg oor Suid-Afrika en ons buurlande.
Hier is egter nie begeleide toere ter sprake nie en geen standaardpakkette nie. Niemand wat vir jou sê hoe laat jy die oggend moet ry of waar jy moet stilhou vir middagete nie.
Die resep is eenvoudig... nommerpas reise vir mense wat verkies om teen hulle eie tempo te ry, saam met hulle eie familie of vriende, maar nie die tyd, oortuiging of kontakte het om só 'n toer vooraf aanmekaar te slaan nie.
Ek is seker dit klink vir baie van ons bekend, want ek het 'n ruk gelede besef dat, hoewel baie mense in hierdie gemeenskap avontuurlustig van gees is en die wêreld vol wil reis en nuwe dinge sien en beleef, is dit gewoonlik die reël van só 'n reis wat die grootste struikelblok is om dit 'n werklikheid te maak.
Die idéé van 'n roete saam met geliefdes en vriende deur Botswana, Namibië, Zambië of Zimbabwe klink wonderlik, maar die beplanning? Dis iets waarvoor baie nie kans sien nie, omdat jy nie weet waar om te begin om jou roetes uit te werk, kampplekke te bel, die parktariewe te verstaan en jou dokumente vir die grenspos in orde te kry nie.
En dan is die opgewondenheid maklik daarmee heen.
Francois en Lea floreer in hierdie wêreld. Hulle ondervinding met die beplanning van roetes, kennis van ons buurlande, betroubare netwerk en deurlopende terugvoer van kliënte beteken hulle is nét die mense wat jy nodig het om van die droom 'n werklikheid te maak.
Nadat ons 'n rukkie gesels het, het ek gou besef dié twee móét deel wees van ons tydskriffamilie.Ek is dus baie opgewonde om 'n nuwe rubriek bekend te stel wat met hierdie uitgawe begin.
"Oorgrensgesprek" sal voortaan in elke uitgawe verskyn, en hierin sal Francois en Lea praktiese raad, grenswenke en algemene inligting deel. In hierdie uitgawe spring ons weg met Zimbabwe.
Vir my herinner hierdie toevallige ontmoeting by die Woonwaskou my opnuut aan dít wat ek die meeste waardeer van hierdie gemeenskap: Ons kom dalk van verskillende dele van die land en van verskillende agtergronde en kulture, maar ons deel dieselfde kaart: een met grondpaaie, oop hemelruimtes, stil kampplekke en stories wat wag om vertel te word.
Veilig reis!















