Reis

Kyk so ’n sleepkombinasie: Woonwa en bakkie deel ’n kleur!

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Enige helderblou voertuig staan uit bo die res. Voeg nou 'n eenderse blou woonwa hierby en die spulletjie saam staan uit soos 'n vuurtoring op die rotse.

Dit is presies wat die eienaar van Tojem, Etienne van Zyl, gedoen het.

In woonwakringe is Etienne en sy seun, Jean-Pierre, bekend vir die unieke Tonga-woonwa, en dis einste een van hulle wat Pa en Seun onder hande gehad het. Die Tonga se standaardkleur is roomwit, maar die blou wa het 'n ander boodskap: Jy kan 'n Tonga in enige kleur bestel.

Natuurlik sal voornemende kopers 'n soortgelyke kleur as hulle sleepvoertuig oorweeg.

Aanpassings is niks vreemds vir Etienne nie. Hy het 30 jaar gelede sy eie paneelklopperonderneming op die been gebring, maar dit was nie lank voor veselglas deel van sy wêreld geword het nie (die Tonga word ook van veselglas gebou).

Tot vandag toe voorsien Etienne-hulle veselglasonderdele vir vragmotors, en dis waar die veselglasding begin het. Op 'n kol moes die kajuit van vragmotors groter gemaak word om meer slaapplek vir die bestuurders in te ruim.

Een oplossing was om die vragmotordak met 'n veselglasweergawe te vervang. Net soos jy 'n spesifieke kleurafwerking aan metaal kan gee, is dit ook met veselglas moontlik.

Maar met veselglas is daar in dié geval twee benaderings afhangende van jou kleurkeuse. As jy 'n soliede kleur kies - dus sonder blinkertjies - word die spesifieke kleur deel van die veselglas se buitenste laag in die bouproses.

As jy 'n metaalafwerking kies, is spuitverf die antwoord.

As jy dus gedink het jy sit sonder 'n pasmaat vir jou rooi Volkswagen Tiguan, oranje Renault Duster of geel Subaru XV, dink weer!

Het jy iewers dalk 'n seldsame sleepsel of ryding raakgeloop? Vertel ons daarvan en stuur vir ons 'n foto na rysleep@weg.co.za.

CTA