Reis

Oud maar nog nie koud: Leser se 1982 Datsun 1400

Willie van Zyl van Paarl skryf Ná aanleiding van Lou Toerien se 17-jarige Toyota Corolla in die Augustus-September-uitgawe vertel ek graag van my "ou" ryding.

Ek het my Datsun 1400 De Luxe-bakkie in 1982 nuut gekoop as 'n tweede voertuig - my eintlike wiele was 'n BMW 525.

Ek het nogal my studentekarretjie, 'n 1973-model Mini, op die bakkie ingeruil.

Die Datsun se koopprys was R5 630, en hy het vandag nog sy oorspronklike nommerplaat.

Al het ek die bakkie nooit gebruik om byvoorbeeld te kamp nie, het ek al hope tuinvullis weggery - om van ander vragte nie te praat nie. Vandag staan sy odometer op 64 000 km, maar die meter het al een keer oorgeslaan.

Jy kan dus 100 000 km bytel, wat jou 'n gemiddelde afstand van net meer as 340 km per maand gee oor die afgelope 40 jaar. Die verste afstand wat ek op een reis aangepak het, was van die Paarl na Graaff-Reinet en terug: rondom 1 200 km.

Maar ek was ook al teen die kus af soos tot by Plettenbergbaai en Nature's Valley. Die bakkie het nie 'n enkele diens gemis nie - onthou, hy het nog 'n vergasser en punte, wat jy nie sommer meer sien nie.

Tussen sy 10 000 km-dienste sak die olievlak geensins nie, en daar skort ook niks met die enjin nie.

'n Mens sien ook nie meer aldag wieldromme reg rondom nie. Ek het hoeka die remskoene en dromme onlangs vervang.

Andersins was die grootste herstelwerk 'n gaatjie in die verkoeler. En dan was die bakkie nog nooit in 'n ongeluk nie.

Natuurlik slaap hy in die motorhuis, en oor die jare heen het ek hom self gepolitoer en gestofsuig. Hopelik loop die bakkie nog vir baie jare.

Die Datsun-bakkies - wat later Nissan geword het - is van 1971 tot 2008 in Rosslyn, Pretoria, gebou. Van 1985 af het hulle skyfremme voor gekry - en teen daardie tyd was die bakkie 'n 100% plaaslike produk. - Red.

Ons hoor graag wat jy op die hart het!

Skryf vir ons by rysleep@weg.co.za en onthou asseblief om jou volledige adres en kontakbesonderhede te gee.

Ry & Sleep behou hom die reg voor om briewe te redigeer en verkort – en na goeddunke in die tydskrif, op die webwerf en elders te gebruik.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM