Wanneer mense hoor ek werk vir Weg, is die reaksie dikwels: "Jy het seker die lekkerste job in die wêreld… julle is mos heeltyd op vakansie!"
Die waarheid is ja én nee. Ja, die werk is deksels lekker, maar dis steeds werk en nie 'n betaalde vakansie nie.
Byna elke Weg-kollega het 'n staaltjie hoe hy of sy buite seisoen in 'n misreën in 'n dolleë kampterrein 'n vuurtjie probeer stook sodat die broodnodige "gesellige kampvuur-selfie" geneem kan word.
Ander kere is dit 'n dolle gejaag om 'n week se doendinge in een dag afgehandel te kry, want die storie oor die buurdorp moet ook nog geskryf word.
En nee, ek kla nie met die spreekwoordelike witbrood onder die arm nie. Ek weet ons besit die sleutel tot die bakkery.
Maar partykeer is dit nodig om, soos Dara Kell skryf, tyd te neem to smell the roses. Ek bevind my eendag laatmiddag op Hogsback in die Oos-Kaap. Ek oornag net, want môre moet ek vroegoggend aanstoot kus toe.
My laaste besoek was 30 jaar gelede op my wittebroodsreis.
My werkpersoonlikheid wil by my oornagplek en Wi-Fi uitkom sodat ek ná 'n lang dag se grondpadry e-posse kan lees. My reisgeaardheid sê "hokaai".
Ek draai af by 'n bordjie wat sê "The Edge", want 'n stowwerige klokkie oor 'n mooi uitsig lui iewers in my geheue. By The Edge Mountain Retreat word ek met 'n enorme glimlag begroet toe ek vra of ek deur die tuin na die uitsigpunt mag stap.
Tien minute later, net anderkant 'n groot labirint, sit ek op die rand van die wêreld (of ten minste die Oos-Kaap) net toe die goue uur die wolke begin verkleur.
Onder my strek afromontane woude so ver as wat ek kan sien. Woudpapegaaie en samangoape probeer mekaar in die subtropiese reënwoud troef met wie die meeste lawaai kan maak.
Ek adem die vogtige lug diep in en is stilweg sielsgelukkig.
Die e-posse kan maar wag. Ek bak eers nog brood.
















