Reis

Ruimte, natuurskoon en vryheid: SA is ons eie stukkie hemel

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

In die maer jare van Covid-19 sou jy skaars kon dink dat daar iets soos "te veel toeriste" kan wees, maar dis presies wat in plekke soos Barcelona, Amsterdam, Athene, Parys en Venesië aan die gebeur is.

Nie net verdring derduisende besoekers mekaar nie, maar ook plaaslike inwoners.

In Amsterdam het die stadsvaders 'n advertensieveldtog geloods waarin veral jong Britse mans aangemoedig word om elders te gaan fuif.

In Barcelona word toeriste deur stadsbewoners met waterpistole gespuit terwyl graffiti op geboue se mure hulle aanmoedig om "huis toe!" te skoert.

In Griekeland moet jy lank vooruit 'n tydgleuf bespreek as jy iets soos die Akropolis wil sien, en dagbesoekers aan Venesië moet 'n ekstra klomp euro betaal net om in die stad toegelaat te word.

Ek weet nie van jou nie, maar só 'n samedromming van mense in 'n plek wat jou nie laat welkom voel nie en waarvoor jy 'n fortuin vir die twyfelagtige voorreg moet betaal, klink nie vir my na vakansie nie.

Dit laat my weer eens diep dankbaar vir die natuurskoon, die ruimte en die geleentheid om diep te kan asem skep wat ons hier op eie bodem het. As daar een of twee motors te veel by die watergat is, wag jy net 'n rukkie of ry jy verder na die volgende een. As die ry vir die kabelkarretjie effe te lank lyk, stap jy eerder die berg uit.

Staan daar reeds 'n tentjie by die Wolfbergskeur? Toemaar, die Sederberg strek wyd!

Of jy nou deur hierdie wildernisgebied stap soos Sophia van Taak (lees hier), Zambiese wildheid vir die eerste keer ontdek soos Lucille Botha (lees hier) of met jou motorfiets noordwaarts mik deur Wes-Afrika soos Jean Cooper en De Witt Oosthuizen (lees hier), hoef jy nie verdring te word om 'n stukkie hemel hier op aarde te vind nie.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM