RUBRIEK: Om ’n pa op te pak

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

My pa het 34 vriende op Facebook.

Wel, eintlik 15, die ander 19 is familie. Daar is nie 'n enkele foto óf selfie in sy albums nie, en die enigste bekende wat hy volg, is Corné Krige. Waarskynlik ook nie eens omdat Corné 'n oud-Springbokkaptein is nie, maar omdat hy in 1987 in my pa se wetenskapklas was.

My pa was maar selde op Facebook en sedert 'n bietjie meer as 'n jaar gelede nooit weer nie. En nou is die huis verkoop en ek en my ma moet - met 'n vrag kartonbokse en 'n baal borrelplastiek - deur 45 jaar van hulle lewe saam probeer sif. Wat hou ons, wat moet maar gaan?

Hoe meer ons 'n weg deur alles probeer beur, hoe meer steek ons vas: "Kom kyk hier!" "Haai, onthou jy nog dít?" "Ek het gedink ons het hierdie goed al lánkal weggegooi!" En gereeld: "Nou hoekom sou Pa dít wou hou?"

Soos die koeksel van nie minder nie as 14 selfoonlaaiers en die klomp ou fone waarop ek in sy studeerkamer afkom.

Ek sit kruisbeen op die mat die hoekkas se inhoud en uitpak. Dié kas wat van kleins af vir my vol geheime en toorgoed was. My pa se goedjies. Mansgoed, omgeef deur die reuk van geweerolie.

Ek rangskik die fone van stokoud na oud in 'n rytjie op die mat - trappies op die evolusieleer. 'n Siemens S1, gevolg deur die Nokia 3100 en nóg 'n Nokia - die X2. Dan 'n BlackBerry Torch 9800. Hy't gekla die knoppies is te klein vir sy duime en daarna toe maar 'n Samsung-man geword.

Toegewoel in 'n lap heel onder in die kas lê die teleskoop waarmee ons soms na die kraters op die maan gekyk het.

En, onthou ek goed, in 1986 na Halley se komeet. Hier's Pa se ou Kodak No 2. Sal 'n mens nog film vir dit kry? En sy Pentax Spotmatic met die bellows unit vooraan wat soos 'n konsertina uitrek - vir makrofotografie. Nóg 'n kameratjie: 'n Polaroid Colorpack 80. Ek verbaas my oor dié man wat dan altyd so pragmaties was en nie 'n sentimentele haar op sy kop gehad het nie. Dat hy dié ou goed al die jare sou hou.

Nog goed kom uit: 'n Houtspaarbussie, loodswaar. Ek wil dit nie oopbreek nie, en karring liewer 'n munt deur die gleufie uit. Dis 'n halfpennie uit 1939. My pa was toe nog nie eens gebore nie!

'n Plat boks Ritmeester-sigare lê ágter in die kas. Ek het hom nooit in my lewe iets anders as Benson & Hedges Ultra Mild sien rook nie, maar daar's nog net drie sigare in die boksie oor. Hier's ook 'n pyp en 'n pakkie Douwe Egberts Amphora Mild Aromatic-tabak en 'n boksie Rum and Maple Original Blend No. 53!

Marie Kondo, die Japannese organiseringskonsultant wat deesdae die hele wêreld help om hulle sokkielaaie mooi te orden, sit hier op my een skouer en fluister telkens haar slagspreuk wat glo bepaal of jy 'n item moet hou of weggooi: "Does it spark joy?"

Néé, Marie, dit laat eerder my derms van heimwee op 'n knol trek. Maar juis daarom snuif ek nog 'n keer diep aan die tabak. Want joy is ook nie alles nie.

Ek vat my pa se verkyker raak, die leernekband sag gebrei deur dekades se gebruik. 'n Sakkie albasters. 'n Pistoolholster. Die kaart waarop my inentings van geboorte tot op ouderdom vyf aangedui is. 'n Stuk rooskwarts en 'n knoets sandroos uit die Namib. Sy kanniedood Eveready-staanflits - vierkantig en geel soos 'n groot blok gouda.

'n Stapeltjie langspeelplate lewer 'n paar verrassings op: The Shadows at the Colosseum in 1961. Die manne wat nostalgiese nommers soos "Apache," "Man of Mystery" en "F.B.I." gekomponeer het. Daar is 'n paar van die Beatles, Liberace se Golden Favourites, Mario Lanza se liedjies van The Student Prince van 1954.

Wat's dié? Aandlied van die Voëls. En hier's Springbok-plaat nommer 9 en 22, met onder meer "Crocodile Rock", "Jambalaya", "You're So Vain" en "Jou Hart is Weer Myne". Jennifer Rush, en Boney M se 20 Golden Hits.

Die volgende een in die hopie laat ook nie 'n vonkie vreugde in my opskiet nie, maar 'n ander emosie - iets meer bittersoet: Hot August Night. Op dié Neil Diamond-dubbelalbum het my pa my in st. 6 leer dans, met die hond wat om ons rondtol en blaf omdat hy nie weet wat nou aangaan nie.

Die kas is byna leeg, maar ek wil nie hê dit moet ophou nie. Agter, in die donkerte, glim iets van glas en ek moet strek om dit by te kom. Dis 'n proefbuisie formalien en binne-in dobber 'n vet, wit rysmierkoningin rond - so dik soos my duim. Ek wonder of Corné Krige op sy dae in my pa se wetenskapklas ook hierna gestaar het.

Die kas is byna leeg, maar ek wil nie hê dit moet ophou nie. Agter, in die donkerte, glim iets van glas en ek moet strek om dit by te kom...

Ek stap daarmee na my ma toe waar sy in die kombuis sit en teekoppies in borrels toedraai. "Kyk hierdie grillerige ding," sê ek en hou die proefbuisie omhoog. En wat antwoord sy, sonder 'n oomblik se huiwering? "Is dit die cholesterol wat hulle destyds uit Oupa se nek gehaal het?"

"Die wát!?"

Ons albei bars uit van die lag. Die eerste keer in maande. 'n Voos skoenboks skeur toe ek dit optel; foto's tuimel uit. Kiekies van ons drie sibbe onder die wilgerboom in die agterplaas. Ek kyk nie eens vir die kamera nie, my nek is agteroor geknak. Daar het seker 'n Boeing oorgekom.

My ma teen skemeraand - Karoo-koppies in die agtergrond, sy hou 'n bos wit blommetjies voor haar rooi trui vas. Agterop staan Plaas, aandblomtyd, 1971.

'n Foto van my oupa as 'n jong man, 'n groot basterwindhond spring teen hom op. Die skriffie lees eenvoudig: Oupa is jonk en hy het 'n hond. 'n Braai saam met vriende een aand op Bettysbaai, die sweetpakbaadjies 80's-bont, hare windverwaai. En een van my ouma in 'n blomrok, buite 'n kerk met 'n strokie filmnegatief voor haar oë: Sonsverduistering, Calvinia.

Uit 'n vergeelde koevertjie skud ek nog 'n paar van my ma: In 'n pienk kamerjas met 'n Elna-naaimasjien aan't gordyne stik. Sy wat 'n sneeubal reguit na die kamera toe gooi (Montagu, 1972). En 'n effens uitfokusfoto van hulle twee wat dans iewers in iemand se sitkamer - dalk die woonstel in Kampsbaai waarin my oom lank gelede gewoon het.

Daar's ook 'n pakkie kiekies van Pa se army-dae: Hy en sy pêlle op Worcester se perron - hande in die broeksakke, een voet op die koffer. 'n Klomp van hulle in 'n tent met slaapsak tot teen die kuiltjie opgetrek, balaklawa oor die kop.

En een foto wat ek nog nóóit vantevore gesien het nie: Pa en nog 'n troep wat sáám 'n dik ou se army browns aangetrek het! Elkeen staan in een broekspyp en hulle bolywe is saam in die hemp ingewriemel. Pa se kop loer oor sy vriend se linkerskouer. Dié een sou beslis 'n string likes en LOL's op Instagram ontlok het. Maar nie 'n enkele een van hierdie foto's is geneem met die bedoeling om dit iewers uit te stal vir 'n reaksie nie. Dit het nooit eens 'n raampie op sy lessenaar gehaal nie.

Ek kan my nou indink hoe hy voor dié kassie sou kniel, laataand wanneer ons almal al slaap en hy nog hier in die studeerkamer sit en vraestelle merk.

Ek sien hom sy versamelde kleinode stuk-stuk in sy hande vat, liefderik bekyk, en sy gedagtes laat terugstap na die pad na wat wás.

My pa se lewe was nie op skou nie. Hy't op niemand se goedkeuring staatgemaak of applous verwag nie. Maar sy teenwoordigheid was groot en geloofwaardig.

Marie Kondo kan met die res van ons huis maak soos sy lus kry, maar dié kas se inhoud - dit trek alles saam na my ma se nuwe huis. Net soos al die jare vir hom, sal dit vorentoe bakens vir my en Ma wees wanneer die mistigheid van tyd Pa se buitelyn kom verdof.

‘My pa se lewe was nie op skou nie. Hy't op niemand se goedkeuring staatgemaak of applous verwag nie. Maar sy teenwoordigheid was groot en geloofwaardig.'

SPELETJIES VANDAG

CTA