Reis

Redakteursbrief: Hoe meer siele, hoe meer vreugde? Nie vir Schalk Jonker nie!

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

My foon pieng sopas langs my en ek sien dis 'n boodskap van my goeie vriend Gareth. Hy stuur vir my 'n foto van hulle koepeltent wat neffens 'n klipkoppie staangemaak is op wat lyk na 'n pragtige lappie aarde.

Sekondes later pieng my foon weer… "Watter foto's wil jy nou weer hê?" vra hy.

Ek en Gareth het 'n goeie 15 jaar gelede saam by 'n gewilde sporttydskrif gewerk en vinnig bevriend geraak.

Hy is heelwat jonger as ek, maar danksy 'n klomp gedeelde belangstellings, soortgelyke sienings oor verskeie aspekte van ons alledaagse bestaan en sy sin vir humor het ons selfs nadat ons nie meer saamgewerk het nie, saam bly kuier.

Hy sal die eerste wees om te erken die kampgogga het hom laat gebyt. Trouens, hy moes eers die regte vrou ontmoet en dié het hom aan kamp voorgestel. Dankie, Tamsyn! Nou kamp hulle twee dat die biesies bewe en ek kry gereeld 'n soortgelyke foto as vanoggend s'n van Gareth af.

Uit die aard van my werk vra ek altyd vir hom om meer foto's te neem en 'n bietjie meer inligting te versamel sodat ons dalk oor daardie kampplek in hierdie tydskrif kan skryf.

Maar Gareth se verskoning is gewoonlik dat hy "te laat onthou het". Om doodeerlik te wees klink dit vir my maar net soos 'n mooier manier om te sê hy het vergeet.

Ek glimlag dus vanoggend toe ek die boodskap ontvang, want dié slag het hy betyds onthou. Ek vra dat hy enigiets moet afneem wat die kampplek goed illustreer. Moenie nou bekommerd wees oor die teks nie, ons kan dit later afhandel.

"Hierdie plek is wonderlik," vertel hy in sy opvolgboodskap. "Hier is selfs ses tente wat voltyds hier staan waarin ses mense elk kan slaap. Dit beteken 36 mense kan vir relatief min geld hier saam kom kamp!"

Ek aarsel voor ek my antwoord vir hom stuur, want ek wil nie hê hy moet dink ek verwys na hom nie. "Ek is nie seker daar is 36 mense saam met wie ek sal wil kamp nie, my vriend."

Wanneer ek gaan kamp, wil ek wegkom van alles en almal af met net die mense die naaste aan my om my. Ek geniet dit om soms (maar beslis nie altyd nie) saam met familie en vriende weg te gaan, maar dan moet daardie groep ook nie te groot wees nie.

As die aangelaptes en dié se aangelaptes eers saamkom, raak ek vinnig onrustig. Maar dis natuurlik my eie voorkeur en ek weet van baie mense wat voel hoe meer siele, hoe meer vreugde. Ek het hoegenaamd geen probleem daarmee nie; dis net nie vir my nie.

As die aangelaptes en dié se aangelaptes eers saamkom, raak ek vinnig onrustig.