Dis 'n geruime tyd al so, maar dit voel vir my 'n paar jaar gelede was dit nie so aanhoudend en verreikend soos nou die geval is nie.
Ek probeer baie hard om nie een van daardie "In mý dae"-mense te wees nie, maar ek betrap myself anderdag waar ek vir my kind verduidelik hoe ons 'n kassetband wat uitgerafel het met 'n potlood moes regmaak.
Ek wou nog verder uitbrei oor hoe jy 'n stukkie kleeflint oor die blokkie aan die bokant moes plak as jy jou pêl se tape wou af-tape op 'n radio met 'n tape to tape deck, maar sy het my in die rede geval en gevra om eers mooi vir haar te verduidelik presies wat 'n kasset is.
Die tienerkind kon nie verstaan dat jy tóé nie elke denkbare liedjie onder die son binne 'n oogwink kon opspoor en luister nie.
Toe ek later vir haar vertel hoe ons destyds vir 'n week moes wag om te sien wat volgende in ons gunstelingtelevisieprogam gebeur, kon ek sien sy kry my opreg en innig jammer.
"Dit moet baie moeilik gewees het, Pappa. Dis só hartseer."
Ons lewe in 'n era waar daar elke dag 'n nuwe iets is waarvan ons moet weet of aanleer. Of bang voor moet wees, afhangend van met wie jy praat.
En kunsmatige intelligensie blyk die skerp punt van die tegnologiese spies te wees. Vir 'n hele ruk nou al is die ChatGPT-kletsbot op almal se lippe omdat dit danksy miljoene algoritmes binne 'n oogwink die ganse internet kan fynkam vir 'n antwoord op jou vraag.
Dan gee hy die antwoord boonop só samehangend dat dit moeilik is om te onderskei tussen mens en masjien.
Die wêreld was dadelik in rep en roer oor die implikasies hiervan. Baie het dit met ope arms verwelkom, terwyl nét so baie daarteen uitgevaar het.
Dit was volgens laasgenoemdes die begin van die einde, met verskeie beroepe (onder meer hierdie een van my) wat kort voor lank oorbodig gaan wees.
Ek het die nuus noukeurig gevolg en al die kommentaar gelees, en vir my het dit gelyk of die demografie wat die meeste ontsteld was, 'n kombinasie van ouers en onderwysers was. Want nie een enkele kind sou meer hulle eie huiswerk doen as ChatGPT dit vir hulle kan doen nie.
Leon Botha het ook die blikbrein sy huiswerk laat doen, want in Kampboffin het hy die einste ChatGPT met 'n reeks kampverwante vrae gepols.
Let wel, die idee was nie om te sien hoe vaag die skeidslyn tussen kunsmatige intelligensie en 'n regte mens is nie, maar eerder 'n lighartige aanslag.
Ons wou byvoorbeeld sien met watter antwoord hy vorendag kom as ons hom vra wat die beste braaihout is.
Dit is vir my 'n heerlike artikel om te lees, maar ook insiggewend toe ek skielik besef met hoeveel van die antwoorde ek saamstem en met hoe min my mening verskil.
Ek is seker jy gaan die artikel ewe veel geniet en jou binnekort tot die internet wend om antwoorde te kry op daai vrae waaraan ons nie gedink het nie.
Laat weet ons asseblief wat ChatGPT sê... en sê asseblief groete van ons kant af.
Veilig reis!






