Letsatsi-lodge: Luukse kampplek tussen Kaapstad en Springbok op die N7

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Van die Kaap af is dit 'n goeie 650 km tot by Vioolsdrif, maar kampeerders kan ook bene rek by Letsatsi-lodge se kampplek.

Letsatsi is deel van die NC Famous Lodges-groep en lê reg langs die N7 by Vanrhynsdorp, omtrent halfpad tussen die Moederstad en Springbok. Die lodge is reeds nege jaar aan die gang.

Gasvryheid is die wagwoord hier: By jou aankoms kry jy 'n varsgebakte brood (of braaibroodjie, indien jy dit verkies), en die volgende oggend kan jy nader staan vir koffie en beskuit. Alles gratis.

Boonop is Letsatsi die toonbeeld van hoe ingerig en modern 'n kampplek kan wees. Dit moet sekerlik een van die bes toegeruste staanplekke in die land wees.

Jy trek bloot jou wa op jou staanplek en al jou geriewe is 'n paar treë verder. Jy hoef nie eens 'n koppie uit te pak nie, want alles staan reg vir jou.

Aan die kant het jy 'n onderdakstoep met 'n tafelstel en gemesselde braaiplek, en van die stoep af het jy direkte toegang tot 'n aparte badkamer en kombuis.

Die badkamer is heerlik ruim en die stort word met 'n glaspaneel afgeskort. Uit die badkamer is daar 'n deur wat uitloop in 'n buitestort as jy onder die blou hemel wil skoonkom.

Die kombuis is soos dié van 'n vakansiewoonstel by die see. Daar's enigiets van 'n staan yskas (340 liter), mikrogolfoond, elektriese ketel en eetgerei tot 'n induksieplaat en selfs 'n potjie.

Hier is altesame 12 staanplekke, albei soorte kragpunte (gewone huissok en blou woonwasok) en jy het gratis toegang tot wifi.

Letsatsi maak boonop spesiaal voor­siening vir kampeerders met troeteldiere. Een van die 12 staanplekke het 'n heining om en jou beste vriend word bederf met 'n gratis ete. Hier is ook spesiale slaapplek vir troeteldiere.

Die waskamer het tuimeldroërs en wasmasjiene en die gebruik hiervan is gratis. Ook die twee 500 liter-kisvrieskaste.

Prys R800 p.n. vir die eerste 4 mense; daarna R250 p.p. (maksimum 6 mense per staanplek). Die troeteldierstaanplek is R150 p.n.ekstra.

Kontak 027 219 2828 of 060 588 1573 (na-ure); info@letsatsilodge.co.za; ncfamouslodges.com/letsatsi-lodge

SPELETJIES VANDAG

CTA