Hoekom het jy ingeskryf vir SARIE Voorbladgesig/Nuwe Gesig?
Ek is mal oor mode en wil deel wees van ’n platform wat fokus op nuwe trends en kreatiwiteit.
My ouma Johanna Campbell is ’n groot SARIE-leser en sal huil van blydskap as ek as wenner gekies word. Ons doen saam SARIE-blokraaisels en Ouma geniet dit om inspirasie uit die resepte te kry.
Wat het die wedstryd jou geleer?
Vat ’n kans! Daar’s nooit die perfekte tyd om iets aan te gryp nie. Die wêreld is vol geleenthede. Ek het besef as ek wil deelneem, moet ek op God se plan vertrou. En as ek nie wen nie, moet ek my daarin berus.
Wat maak iemand mooi?
As jy iemand anders mooi laat voel.

Hoekom kliek modes met jou?
Dis mos lekker om mooi aan te trek en op te glam – ek’t in 2023 modelwerk by V-Models in Bloemfontein geniet. Ek hou nie van straatmodes nie, eerder klassieke, vroulike klere.
Jy’s 17 en in graad 11 vanjaar, wat is jou planne ná matriek?
Daar’s so baie rigtings in die modebedryf. Of dalk word ek lugwaardin, ek wil die wêreld verken! Ek stel ook in somatologie belang en lees baie op oor velgesondheid.
Skoonheidsbehandelings fassineer my.
Wat behels jou skoonheidsroetine?
Ek gebruik daagliks ’n sonskerm. Toe ek jonger was, het ek met my vel gesukkel. Ek het baie navorsing oor produkte gedoen. Nou gebruik ek produkte vir ’n sensitiewe vel, probeer min suiker eet en baie water drink.
Soggens en saans gebruik ek ’n ysroller op my gesig om pofferigheid teen te werk. Die resultate is ongelooflik.

So, jy eet gesond?
Ek floreer op vrugte, veral aarbeie, is nie mal oor rooivleis nie, en hou baie van slaai. Maar ai, ek het ’n suikertand. Ouma se tertjies, malvapoeding en roomys is groot bederwe.
Kwel Suid-Afrika se toekoms jou?
Die toekoms hang altyd af van ons huidige besluite, vandag, en van hoe ons dinge hanteer wanneer dit oor ons pad kom. Ek wil nie oordeel nie, maar ons moet leer om die aarde te respekteer.
Kyk na al die plastiek in die oseaan en die seelewe wat uitsterf. Soveel mense is nog morsjorse. En sal dit nie wonderlik wees as die geweld in ons land beter beheer kan word nie?
Tog glo ek elke sonsopkoms bring nuwe hoop, saam met ons mense se onblusbare gees. En elke mens het ’n unieke storie om te vertel.
Beste raad van jou ouers, Lee-Ann, ’n tuisteskepper, en Alex, monteur by die myn?
Wees trots op jouself, jy is uniek, moet nooit iemand anders probeer namaak om spesiaal te probeer voel nie. Ek’t ook geleer om mooi na te dink oor my keuses, want alles het gevolge.

Is jy lief vir Afrikaans?
Ek is mál oor Afrikaans. Ek was ook al in Engelse skole. Afrikaans is so ’n mooi taal, een waarin ek my emosies goed kan verwoord.
Soms praat ek en my vriende Mengels en meng ons tale, maar Afrikaans bly die taal wat diep ingekruip het in my hart.
Hoekom is jou gunsteling- Afrikaanse woord slaap?
Dit los baie probleme gratis op. Probleme soos? Ek was altyd baie skaam, maar het geleer om uit my dop te kruip. Modelwerk het gehelp. Soms stres ek oor toetse. Ons wil almal ons bes doen. Wanneer jy slaap, vergeet jy van jou probleme en skakel af.
Was boelies al op jou spoor?
Ek’t oor die 16 000 volgelinge op TikTok en kry soms haatkommentaar. Ek neem dit nie kop toe nie, want dis nie goed vir my gesondheid nie.
Op dié platform gee ek modewenke, maak blogs van wat by die skool gebeur, deel aspekte van my lewenstyl.
Daar’s mense wat reken ek is vol van myself. Of hulle skryf: “Hoekom staan jy so met die kamera voor jou?”
Ek het selfvertroue, maar probeer altyd nederig bly. Soms dink ek: “Regtig, doen ek iets verkeerds?” Maar ek dink dis mense wat niks beters het om met hul tyd te doen nie. Hulle kritiseer eerder. Hulle moet hul doel nog vind en is bloot jaloers.

Hoe hanteer jy “af” dae?
Ek raak stil en praat met die Here. Om in die natuur te wees is ook goed vir my siel. En my ma is ’n groot bron van wysheid.
My beste vriendin, Nikki Ferris, het ’n baie positiewe uitwerking op my lewe. Sy bied altyd ’n oor om te luister en ’n skouer om op te leun. Wanneer ek iets belangriks aanpak of deur ’n moeilike tyd gaan, verseker sy my dat ek enigiets kan regkry as ek bid.
Jy is lid van Gen Z (gebore tussen 1997 en 2012), wat is jul kwellinge?
Ons generasie vergelyk onsself gedurig met mekaar of met die celebs, veral omdat ons gereeld doenig is op sosialemediaplatforms soos Instagram. Die lewe sal nie uitwerk as almal eenders lyk nie.
Ek’t lankal besef jy kan nie als glo wat aanlyn gewys word nie. Die lewe is nie so perfek nie. Ek volg Natasha Joubert, Mej. Suid-Afrika van 2023, se aanlyn reis. Sy is real, oor die moeilike en die goeie dae. Dís die tipe vroue wat my inspireer.

Sou jy ooit self aan Mej. SA wou deelneem?
Vir seker. Iemand soos Natasha het soveel vroue bemagtig met haar outentieke beeld. Mia le Roux, die huidige Mej. SA, wat doof is, is baie dapper en het gewys enigiets is moontlik as jy in jouself glo.
Die Mej. SA-wedstryd gaan oor veel meer as ’n mooi uiterlike. Jy moet jou stem gebruik om ’n verskil in die land te maak.
Jou grootste uitdaging tot nou?
Weens my pa se werk het ons al in Rustenburg, Bloemfontein en Welkom gewoon. Ek was al in vyf skole. Ek maak maklik maats, maar soms duur dit ’n ruk lank voor ’n mens aanpas en jy raak ’n bietjie verward met al die rondtrekkery. Ek is nou al drie jaar in die Goudveld-Hoërskool en geniet dit.
Lekkerste oomblikke?
Kuier met familie en viende. Gesonde verhoudings gee sin aan my lewe.
Gunsteling-dinge
Roomys of sjokolade Albei
Oefen Pilates (YouTube)
Parfuum Ariana Grande Cloud
WhatsApp of bel Bel
Trou/saamwoon Trou

Erkenning
Konsep en stilering Fanie Cronjé
Grimering Algria
Hare Jeanette Genis
Meubels Block & Chisel
Foto-agtergronde ArtLab





















