Vrydagaand is daar by Avianto in Muldersdrift tot middernag gekuier op Beeld se 36ste Bruid van die Jaar-spogdinee.
Selfs die gaskunstenaar, Monique Steyn, mikrofoon en al, en Therese Bam, seremoniemeester, het hulle mettertyd midde-in die aksie op die dansvloer bevind.
Chrisne Niebuhr (middel) is Vrydagaand as Beeld en World Leisure Holidays se Bruid van die Jaar vir 2022 gekroon. Sy is 'n arbeidsterapeut van Murrayfield in Pretoria en was die April-wenner. Sonja Wehrmann (regs), ook van Pretoria, was die naaswenner. Sy was die Julie-wenner. In die derde plek was Llelanie van Heerden (links) van Centurion. Sy was die Januarie-wenner.
Benewens die finaliste en gades het familielede en vriende, glanspersoonlikhede, onder andere Hannon, en borgverteenwoordigers die geselligheid bygewoon. World Leisure Holidays was die hoofborg.
"Dit is 'n hoogtepunt om in moeilike tye te sien hoe jongmense energiek en positief op hul toekoms gerig is met wat hulle alles aanpak," het Barnard Beukman, Beeld-redakteur, by die geleentheid gesê.
'n Insetsel oor die geleentheid word binnekort in die kykNET-program Bravo uitgesaai.
Dieter Niebuhr (links) saam met sy vrou, Chrisne, kort nadat sy as Bruid van die Jaar gekroon is. Foto: Gerrie Janse van Vuuren Therese Bam, aktrise, was vir die sesde agtereenvolgende jaar die seremoniemeester. Foto: Gerrie Janse van Vuuren Selfs die versnaperings vooraf is keurig aangebied. Foto: Gerrie Janse van Vuuren Monique Steyn was die ganskunstenaar. Foto: Gerrie Janse van Vuuren