Nie net was adj.pres. Cyril Ramaphosa se oorwinning naelskraaps nie - hy is ook opgesaal met drie lede in die Zuma-kamp wat waarskynlik nie daarop uit gaan wees om hom sy sin te gee in alles wat hy wil doen nie.
Die euforie onder Ramaphosa se ondersteuners is Maandagaand effens gedemp deur die feit dat twee lede van die sogenaamde premiersliga, David Mabuza (adjunkpresident) en Ace Magashule (sekretaris-generaal) hulle saam met hom aan die hooftafel bevind.
Die naelskraapse oorwinning wat behaal is, het ook nie juis die vreugdevure laat hoog brand nie, want dit kan daarop dui dat die 80 bykomende lede van die nasionale uitvoerende komitee (NUK) wat Sondag en Maandag verkies sou word, waarskynlik ook taamlik eweredig verdeel sal wees tussen die twee kampe.

Sou dit die geval wees, gaan Ramaphosa waarskynlik baie sukkel om sy verklaarde veldtog teen staatskaping en korrupsie gestalte te gee omdat die NUK se toestemming nodig is in besluite soos byvoorbeeld die herroeping van pres. Jacob Zuma voor die einde van sy termyn, sou hy dit wou doen.
Theo Venter, politieke ontleder van die Noordwes-Universiteit se sakeskool, sê ook die insluiting in die topses van Magashule en Jessie Duarte wat met die Gupta-familie verbind word, voorspel niks goed vir die party of die land nie.

Die politieke ontleder dr. Piet Croucamp van die Noordwes-Universiteit sê enigiemand wat gehoop het die ANC sal voor die volgende algemene verkiesing in 2019 van Zuma ontslae raak, sal nou twee keer moet dink.
Hoewel die nuus van Ramaphosa se verkiesing op ekonomiese front onmiddellik 'n positiewe uitwerking gehad het, was daar dadelik waarskuwings dat nie te veel verwag moet word op dié front nie.
Die rand het net ná die aankondiging met byna 4% teenoor die dollar verstewig tot R12,56. Dit was Vrydag nog op R13,54.
Maarten Ackermann, beleggingstrateeg van Citadel, waarsku dat dit te vroeg is vir akkurate voorspellings oor die uitwerking van Ramaphosa se verkiesing op die ekonomie.
"Ons gaan moet sien presies hoeveel steun Ramaphosa vanuit die NUK gaan hê," sê Ackermann. "Hy mag wel 'n goeie plan hê oor hoe om die ekonomie weer op dreef te kry, maar daar is vrae oor hoeveel beweegruimte hy gaan hê om planne uit te voer."
Mike Schüssler, hoofekonoom van Economists.co.za, sê mense moenie te optimisties raak nie en dat Ramaphosa nie skielik 'n towerstaffie gaan swaai en alles sal reg wees nie.
Mmusi Maimane, DA-leier, het Ramaphosa se verkiesing beskryf as "te min te laat" vir die ANC en dat dit "bitter min beteken vir die mense van Suid-Afrika" wat in armoede en werkloosheid agterweë gelaat is, ongeag van wie aan die stuur van die party is.

Zwelinzima Vavi, voormalige hoofsekretaris van Cosatu en nou aan die stuur van die South African Federation of Trade Unions (Saftu), sê die ANC gaan dalk saggies wegkwyn eerder as wat hy met 'n knal verdwyn.
Na Vavi se mening kan "geen redelike werker vir Cyril stem nie" weens sy betrokkenheid by die gebeure wat aanleiding gegee het tot die Marikana-slagting en die feit dat hy " 'n agent is vir die groot kapitaal".
Zelda la Grange, jare lange persoonlike assistent van oudpres. Nelson Mandela, sê sy is seker wyle Madiba sou baie trots gewees het op Ramaphosa.
"Madiba sou sy volle vertroue in Cyril gestel het om die organisasie se integriteit te alle tye voorop te stel en 'n klimaat vir gesonde verandering teweeg te bring wat die hele land sal bevoordeel.
"Ek het Madiba altyd gevra hoekom Cyril nie vroeër 'n leiersrol gespeel het nie. Dan het hy grappenderwys gesê Cyril is nog jonk en het baie tyd," sê La Grange.
- Sarel van der Walt, Gert van der Westhuizen, Elvira Wood


















