Bendes: Dís die oplossings, sê kenners aan Alan Winde

20250619 NETWERK24 Misdaad
20250619 NETWERK24 Misdaad

Die nasionale polisiekommissaris het gister drie vermoedelik bendeverwante moordtonele in Kraaifontein besoek waarin ses mense doodgeskiet en nog een gewond is.

Dit volg ’n dag nadat prof. Firoz Cachalia, waarnemende minister van polisie, die skokuitlating gemaak het dat die polisie in die Wes-Kaap geen plan het om bendes en die voortslepende bendegeweld in die Wes-Kaap aan te vat nie.

Cachalia het dit tydens ’n ontmoeting met gemeenskapsleiers en ander rolspelers in Mitchells Plain gesê.

Hy het bygevoeg hoewel daar ’n plan aan hom voorgelê is, moet dié nog in werking gestel en die hulpbronne daarvoor nog gesoek word.

“Die waarheid sal my vrymaak,” het hy gesê.

Ten tyde van dié vergadering is nog drie mense doodgeskiet – een in die Vrygrond-gebied, een in Uitsig en nog een in Browns Farm by Philippi.

Probleem is polisiëring, sê kriminoloog

Prof. Irvin Kinnes, bekende Kaapse kriminoloog, het gister in reaksie gesê hy gaan hom nie oor Cachalia se uitlating uitlaat nie omdat hy (Kinnes) nie op die vergadering was nie.

Kinnes meen egter die probleem is een van polisiëring.

“Die grootste probleem is die publiek se wantroue in die polisie”, en dis hoekom die publiek nie genoeg saam met die polisie werk nie.

Een van Kinnes se voorstelle is dat alle stasiebevelvoerders van gebiede wat as ’n bendegebied beskou word, ’n kursus ondergaan waarin hulle geskool kan word oor bendes.

Die kursus kan volgens hom deur iemand soos Jeremy Vearey, voormalige generaal-majoor in die polisie, aangebied word.

Hy sê voorts stasiebevelvoerders moet aan die voorpunt wees in die soeke na vuurwapens wat deur bendes gebruik word. Dit sal volgens hom vertrouensverhoudings tussen polisiebeamptes aanhelp en kan dan ook daartoe lei dat diegene wat hulle aan korrupte verhoudings met bendes skuldig maak, aan die pen ry.

Mark Shaw, uitvoerende direkteur van die Global Initiative Against Transnational Organized Crime
Mark Shaw, uitvoerende direkteur van die Global Initiative Against Transnational Organized Crime

Stasiebevelvoerders moet volgens hom ook opgelei word om met die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforums (GPF’s) en buurtwagte saam te werk.

“Sommige stasiebevelvoerders weet hoe om dit te doen sonder om te besluit wie die mense is wat die gemeenskapsleiers is.”

Maar gemeenskappe moet ook weet dis onwettig om saam met bendes te werk en mense te skiet. Volgens Kinnes moet openbare veldtogte gevoer word wat dié boodskappe uitstuur. Groot belonings moet ook uitgeloof word wat mense sal aanpor om inligting te verskaf oor waar vuurwapens versteek word, maar om dit reg te kry moet die polisie se leiers bekwaam wees.

“Die polisie en die regering moet hulle toespits op jong mense en die boodskap uitkry dat om vuurwapens te hanteer of iemand te skiet ernstige gevolge vir hulle inhou. Maar om dit reg te kry moet daar bekwame leierskap in die polisie wees.”

Misdaadintelligensie, onafhanklike ondersoekers

Intussen het Alan Winde, Wes-Kaapse premier, gister ’n aanlyn mediavergadering gehou oor die belangrikheid van vennootskappe om bendebedrywighede te bestry.

Mark Shaw, uitvoerende direkteur van die Global Initiative Against Transnational Organized Crime (Gi-Toc), het op dié vergadering gesê politici en ander belanghebbendes moet hul verskille opsysit en saamwerk met ’n duidelike strategie om georganiseerde misdaad te bekamp.

Gi-Toc word as een van die grootste dinkskrums ter wêreld teen georganiseerde misdaad beskryf, met waarnemers in brandpunte oor die wêreld heen en onder meer in Suid-Afrika.

Shaw het bygevoeg goeie misdaadintelligensie, onafhanklike ondersoekers en die inperking van bendes se vermoë om geld in te win is daarby noodsaaklik in die stryd teen dié plaag.

Hy meen ’n kopskuif is ook nodig om proaktief eerder as reaktief teen georganiseerde misdaad op te tree, wat net met goeie misdaadintelligensie moontlik sal wees.

Volgens Shaw is georganiseerde misdaad ’n groeiende probleem wêreldwyd en blyk dit dat die omvang en erns daarvan tot onlangs nie in Suid-Afrika erken is nie.

Hy sê die voorkoms van georganiseerde misdaad in die land is vergelykbaar met wat in Suid-Amerika gebeur en vereis ’n gesamentlike, strategiese benadering teen misdaad.

Om doeltreffend teen dié misdaad te reageer moet daar die politieke wil wees waar verskillende regeringsvlakke, politici, wetstoepassers en ander belanghebbendes byeen moet kom met die oog op ’n duidelike en eenvoudige strategie. Nog ’n vereiste is die oorheersing deur wetstoepassers van gebiede soos die Kaapse Vlakte, waar bendes hoogty vier, om geweld te verminder en vuurwapens van strate te verwyder.

Alan Winde en Anroux Marais
Alan Winde en Anroux Marais (Foto: Facebook)

Shaw sê veerkragtigheid moet ook onder gemeenskappe en die burgerlike samelewing uitgebou word waar die invloed van bendes teengewerk en hul legitimiteit afgetakel word.

Een van die faktore wat die vervolging van bendeverwante moorde en klagte van poging tot moord kniehalter, is gebrekkige dossiere wat opgestel word in die polisiekantore wat die meeste onder dié geweld gebuk gaan.

In ’n poging om oplossings te bied het Gi-Toc ’n aanvoorprojek begin om ’n ervare regspraktisyn in die Grassy Park-polisiekantoor aan te wys om bystand te lewer, doeltreffendheid te verbeter en mentorskap en opleiding aan polisiebeamptes te bied. Dié projek wil hy graag uitbrei na ander polisiekantore en Winde het glo reeds vergaderings belê om finansiering daarvoor te vind.

Verder sê Shaw daar heers groot debat oor die gebruik van die weermag of ramptoestande teen bendegeweld, maar dit is ’n “laaste uitweg” wat nie ’n oplossing op die lange duur verskaf nie.

Winde het benadruk dat georganiseerde misdaad ’n ernstige kwessie is wat inwoners raak, veral op die Kaapse Vlakte, en dat nuwe maniere gevind moet word om ’n veiliger provinsie te skep.

23-jarige in hof oor Athlone-skietery

Intussen het genl. Fannie Ma-semola, nasionale polisiekommissaris, gister met sy besoek aan Kraaifontein bekend gemaak ’n 23-jarige man sal binnekort op ’n aanklag van moord in die landdroshof in Athlone verskyn nadat hy glo Vrydag ’n man by die ingang van die einste hof doodgeskiet het.

Hy het gesê die 23-jarige man is by ’n hospitaal opgespoor waar hy vir ’n skietwond behandel is. Hy het die skietwond glo ten tyde van ’n skietvoorval met ’n ander bende opgedoen.

Masemola het gesê kringtelevisiebeeldmateriaal van die vermeende skieter het speurders van die teenbende-eenheid na die man gelei.

Masemola het gister by die Kraaifontein-polisiekantoor ook die deurbraak in een van drie dubbele moorde Dinsdagaand in onder meer Wallacedene en Eikendal, albei in Kraaifontein, bekend gemaak.

’n Man (49) is weens een van die twee skietvoorvalle in Wallacedene in hegtenis geneem. Die man sal volgens Masemola binnekort in die hof verskyn.

5506

SPELETJIES VANDAG

CTA