Die DA eis onder meer ’n dringende hulpbronplan vir die Wes-Kaap van die ministers van polisie en justisie weens ’n dringende veiligheidskrisis in die provinsie weens voortdurende misdaad en geweld.
Die memorandum is Vrydag ingedien, minder as 48 uur voordat nog drie mense Sondag in drie skietvoorvalle in Wallacedene, Kraaifontein, doodgeskiet is (sien kassie).
Die DA het Vrydag op ’n mediakonferensie laat blyk daar is onder meer 13 polisiekantore met hoë misdaadsyfers, van Mitchells Plain en Delft tot Manenberg en Atlantis, en het oorsake van geweld uitgelig, soos die vrylating van oortreders op borgtog en parool sonder effektiewe monitering of rehabilitasie; toenemende oorlogvoering tussen bendes wat aangeblaas word deur wedywering in dwelmhandel, geskille oor leierskap en vergelding; die uitskakeling van getuies wat ondersoeke ondermyn; en konflik tussen taxiverenigings (met voortdurende gewelddadige konfrontasies in Mfuleni, Khayelitsha, Somerset-Wes en Hermanus).
Die memorandum is deur die DA-burgemeesters in die provinsie onderteken.
Benedicta van Minnen, LPP en die DA se woordvoerder oor polisietoesig en gemeenskapsveiligheid, het Vrydag gesê hierdie sistemiese druk word vererger deur ’n chroniese tekort aan polisiebeamptes.
Volgens haar het die Wes-Kaap slegs 12 908 aktiewe polisiebeamptes met sommige polisiekantore wat ’n koers van meer as 40% vir ongevulde vakatures het. Sy sê speurders “word oorweldig met tot 142 saakdossiere elk” (wat die oplossing van moorde in die provinsie op net 7% te staan bring) en dat die polisie, sonder meer voete op die grond, nie kan tred hou met die toename in geweld nie. Daar is ook net een polisiebeampte vir elke 962 mense.
Die DA eis onder meer ’n hulpbronplan vir die Wes-Kaap en om munisipaliteite met effektiewe oplossings vir veiligheidskwessies te bemagtig om hul rol in wetstoepassing uit te brei.
Lisa Schickerling, DA-LP en die party se woordvoerder oor polisie, het Sondag in ’n verklaring gesê die voorlegging van die memorandum word verwelkom. Schickerling het ook verwys na meer as 37 mense wat die afgelope tyd hul lewe verloor het in die provinsie, en wat op “ ’n skokkende toename in dodelike misdaad oral in die provinsie dui”.
Volgens haar neem die DA kennis van Firoz Cachalia, waarnemende minister van polisie, se bereidwilligheid “om die krisis op ’n baie meer oop en konstruktiewe wyse as sy voorganger aan te pak” en herhaal die party sy langdurige oproep vir die afwenteling van polisiemagte.
Schickerling sê die Wes-Kaap benodig groter bestuursbeheer, behoorlike strategieë vir ontplooiing, asook versterkte kapasiteit vir speur- en ondersoekwerk en het vir ’n duidelike spertyd van Cachalia gevra om op die memorandum te reageer.
Kraaifontein-voorvalle
Volgens die polisie word drie klagte van moord, een van poging tot moord, asook verkragting, ondersoek nadat drie afsonderlike skietvoorvalle Sondagoggend in Wallacedene plaasgevind het.
Die polisie sê ’n 35-jarige man is omstreeks 01:00 in die Mhongqo- informele nedersetting doodgeskiet en die motief vir die misdaad moet nog bepaal word.
In ’n ander voorval tussen 02:00 en 03:00 is ’n man gewond en sy vrouemetgesel (sowat 30 m van die eerste misdaadtoneel af) verkrag.
Om 03:14 is twee mans, na raming tussen die ouderdom van 25 en 30, nie ver van die twee vorige tonele af nie doodgeskiet. Die motief vir die skietvoorvalle maak deel uit van die polisieondersoeke.
Volgens die polisie is ’n man ook dood met sy aankoms by die Kraaifontein-hospitaal nadat hy vroeg Saterdagaand in die bors gesteek is in die Covid- informele nedersetting in Bloekombos (Kraaifontein).
Die polisie sê die dodetal van Sondagoggend se skietvoorvalle bly op drie, met ’n poging tot moord (die slagoffer is steeds in die hospitaal) en ’n verkragting wat geregistreer is. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.
Ondersoeke duur voort met bykomende ontplooiings na die gebied.
Dit volg op nog voorvalle verlede week, ook in Wallacedene, waar sewe mense in verskillende skietvoorvalle dood is.


















