“Een helse haelstorm” het Sondag verwoesting gesaai in die Club Amigo-woonwapark by Ventersdorp in Noordwes.
Tentpale het gebuig en tente het inmekaar gestort, wys ’n video wat een van die kampeerders kort ná die storm geneem het.
Pieter van Wyk, mede-eienaar van dié driester-oord, het die toneel beskryf soos “iets wat soos die eindtye lyk”, maar sê hulle is dankbaar niemand is in die storm beseer nie.
“Hier is heelwat skade. Vensters en dakke is stukkend en ons besoekers se woonwaens en tente het ook in die slag gebly,” het Van Wyk Maandag aan Netwerk24 gesê.
Dit is egter nie die enigste plek wat die naweek onder erge storms deurgeloop het nie. Inwoners van Hekpoort naby die Magaliesberg moes haelkorrels so groot soos druiwekorrels trotseer, terwyl water soos riviere deur die strate van Waterval-Boven in Mpumalanga geloop het.
André van Schalkwyk van Magaliesburg het foto’s van sy erf waar die hael enkeldiepte lê op sosiale media geplaas.
Volgens Van Schalkwyk het die storm ongeveer 25 minute gewoed voordat dit bedaar het. Die hael het sy reënmeter stukkend geslaan, dus hy weet nie wat die neerslag was nie, maar hy sê hulle het gelukkig geen noemenswaardige skade gely nie.
Verskeie reën- en haelfoto’s is op sosiale media geplaas van storms in Ventersdorp, Magaliesburg, Middelbult, Lichtenburg, Coligny, Wesselsbron, Sannieshof en Springs.
Verder het verspreide buie oor die hele noordelike deel van die land uitgesak.
Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het intussen gewaarsku dat swaar reën nog vir die res van die week kan voorkom.

Tokelo Chiloane van die weerdiens sê die ergste hael het in Noordwes en die weste van Gauteng geval. Hul modelle voorspel geen haelstorms vir die komende week nie.
“Hoewel die onweer nie verby is nie, lyk dit of daar vanweë die oorheersende weerstelsels wat die land verlaat (boonste trog), geen hael verwag word nie,” sê Chiloane.
“Benewens die haelstorms het die meeste reën in Mpumalanga uitgesak met 25 mm wat tussen Sondag en Maandag geval het. Die Oos-Vrystaat en Noordwes het albei ongeveer 13 mm reën gehad.”
Gerhard Niewoudt, streeksbevelvoerder van die Mogale City-munisipaliteit in Gauteng se brand- en reddingsdienste, maan inwoners om waaksaam en weerbaar te wees.
“Ons was baie gelukkig dat geen ernstige ongevalle aangemeld is nie, tog sal ons moet bontstaan oor die volgende paar maande, veral as gevolg van die wisselvallige weersomstandighede,” sê Niewoudt.

























