Omgewing

KYK | Haelkorrels so groot soos gholfballe tref O-Kaapse dorp

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Wat begin het as een van die eerste mooi somersdae in Khowa (Elliot), het Maandagmiddag 'n skadelike nadraai gehad toe 'n haelstorm dié Oos-Kaapse dorp getref het.

Ongeveer vyf minute lank het dit gelyk asof die hemele gholfballe uitspoeg, terwyl inwoners net kon toekyk hoe die hael onder meer gate slaan in huise se dakteëls, sonpanele, vensterruite en geute.

Swembaddens se water het weens die vallende haelkorrels kompleet gelyk soos dié van 'n borrelbad.

Hael het Maandagmiddag sowat vyf minute lank in Khowa geval.  Foto: Elaine Vorster
Hael het Maandagmiddag sowat vyf minute lank in Khowa geval. Foto: Elaine Vorster

"Gewoonlik hoor ons nie eintlik die sagte reën of klein haelkorrels op die teëldak nie, maar Maandag het ons net twee keer doef, doef gehoor, en toe val dit (die hael) en dis te laat om iets te red," sê Elaine Vorster, eienaar van die Topiary-gastehuis in die dorp. Sy het Dinsdagoggend oor die vorige middag se skielike haelstorm gepraat terwyl sy by die paneelklopper was met haar bakkie. Minstens 269 duike is op die bakkie se paneelwerk getel.

Hoewel die skade aan hul huis, gastehuis en hul voertuie na verwagting sowat 'n halfmiljoenrand beloop, sê Vorster Maandagmiddag se haelstorm was wel nie so erg soos die een wat die dorp in 2005 getref het nie.

Ook Magdaleen Schutte, 'n inwoner van die dorp, beaam Maandag se hael was nie so erg soos die groot storm van 2005 nie.

Haelkorrels wat selfs groter as gholfballe is, het Maandagmiddag in dele van Khowa in die Oos-Kaap geval.   Foto: Elaine Vorster
Haelkorrels wat selfs groter as gholfballe is, het Maandagmiddag in dele van Khowa in die Oos-Kaap geval. Foto: Elaine Vorster

Sy onthou toe sy destyds op die dorp aangekom het, het sy opgelet inwoners se diefwering is aan die buitekant van hul vensters, wat sy toe later hoor juis só gedoen is om te help om die hael af te weer. In 2005 het sy besef waarom inwoners hulself in die streek teen hael probeer beskerm.

"In 2005 was die skade geweldig. Gister (Maandag) kon ons darem die groen van die gras nog sien ná die tyd, dit was nie heeltemal spierwit nie."

Haar geute en tuin het meestal deurgeloop onder die haelkorrels. Daar was ook plek-plek gate in die gras wat deur die groot korrels veroorsaak is, met 'n paar afgebreekte takke wat rondlê.

Gate in die geute van 'n huis in Khowa weens die hael. Foto: Verskaf, Elaine Vorster
Gate in die geute van 'n huis in Khowa weens die hael. Foto: Verskaf, Elaine Vorster

Teen Dinsdagoggend was daar geen teken van 'n storm in die lug nie.

Vorster vertel dat Maandag eintlik soos die eerste lekker somersdag van die seisoen gevoel het. "Dit was so 29 °C, of 30 °C. Toe bekruip die hael ons soos 'n dief in die nag. Dit was skielik donker, en toe val die hael."

Volgens haar is Khowa in 'n somerreënvalstreek, wat soms hael ervaar, maar sy sê dit kom meestal op die plase, nader aan die berge, voor en ook nie gewoonlik in die grootte van gholfballe nie.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM