Munisipale bestuurders in die Vrystaat is gewaarsku om te verseker munisipale hulpbronne word nie misbruik op stemdag nie.
Dr. Roy Jankielsohn, DA-leier in die Vrystaat, het Donderdag aan die bestuurders van al 24 munisipaliteite in die provinsie - waaronder vier distriksmunisipaliteite en een metro - waarskuwingsbriewe hieroor gerig.

"Ons het orals fluitjieblasers en gaan nie huiwer om strafregtelike klagte in te dien teen munisipale bestuurders wat hulle daaraan skuldig maak dat hul werknemers kiesers op stemdag met munisipale voertuie en brandstof na stempunte aanry nie."
Dit kom nadat werknemers van die Dihlabeng-munisipaliteit (Bethlehem) ook by Netwerk24 gekla het dat van hulle verwag word om op stemdag te werk sodat hulle kan help om kiesers na die stembusse aan te ry.
"En as ons gewetensbesware daarteen het, moet ons voertuie waarvoor ons 'n munisipale toelae kry, vir iemand anders gee om te bestuur," kla een amptenaar.
Seipati Mabula, direkteur: koöperatiewe dienste van die Dihlabeng-munisipaliteit, ontken dat hulle van werknemers verwag om Maandag te werk.
"Die munisipaliteit sal gesluit wees.
"Wat ons wel sê, is dat elke party sy eie hulpbronne moet gebruik en dat werknemers self moet besluit of hulle hul party op die dag wil gaan ondersteun en met werksaamhede wil help, maar dat hulpbronne van die politieke party hiervoor gebruik moet word."
Sy sê werknemers word ook aangemoedig om te gaan stem.
"Werkers sal egter nie munisipale voertuie en brandstof vir verkiesingsaktiwiteite mag gebruik nie."

Jankielsohn sê hy rig ook briewe aan Sisi Ntombela, die Vrystaatse premier, en Mxolisi Dukwana, die sameroeper van die Vrystaatse tussentydse komitee van die ANC en ook die Vrystaatse LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake.
Hy sê daar kan nie toegelaat word dat die ANC "munisipaliteite verder plunder" vir verkiesingsbedrywighede nie.
Jankielsohn sê dieselfde geld ook die misbruik van telefone, munisipale kantore waarin daar op stemdag drankies en verversings bedien word wat met staats- of munisipale geld aangekoop is, en die misbruik van werkers van die Uitgebreide Openbare Werke Program (EPWP) op stemdag om kiesers rond te ry.
"Ons het reeds van 'n fluitjieblaser gehoor van bewerings van miljoene rande se kontant wat aan die ANC oorbetaal is vir die verkiesing in die Vrystaat, in die ruil vir tenders wat ná die tyd toegeken moet word," sê Jankielsohn.
"Ons party gaan die omstandighede haarfyn dophou in al die munisipaliteite en by provinsiale en ander regeringskantore."
Ntombela, wat Donderdag 'n kliniek in Heidedal geopen het, sê sy het reeds opdrag aan munisipale en staatsamptenare gegee dat niemand, maar niemand, munisipale en ander regeringsgeld vir die verkiesing mag misbruik nie. Ook nie die munisipale voertuie en brandstof nie.
"Diegene wat dit misbruik, sal die gevolge hiervan moet dra."
Ten opsigte van die tenderbewerings sê sy munisipaliteite het verkrygingsafdelings wat die riglyne soos uitgestippel in wetgewing oor die toeken van tenders moet volg.
Ntombela sê sy stem Maandag op Tweeling en moedig alle kiesers aan om ook te gaan stem.

Mxolisi Siyonzana, uitvoerende burgemeester van die Mangaung-metro, sê hy sal sy burgemeestersmotor gebruik om te gaan stem, maar hy ry alleen.
"Ek gaan nie ander werknemers of mense daarmee laat aanry na stempunte nie.
"Werknemers van die metro sal nié toegelaat word om munisipale voertuie en brandstof te gebruik om mense na die stembus te neem nie."
Hy sê EPWP-werknemers sal ook nie misbruik word om op stemdag vir die ANC dienste in Bloemfontein te verrig nie.
"Dit is verkeerd. Hulle het wel hul eie grondwetlike reg om vir die party van hul keuse te stem."
Dukwana is vir kommentaar gebel, maar hy was nie beskikbaar nie.

















