Die vakbondgroep Cosatu waarsku teen 'n streng besnoeiende begroting wanneer die tesourie Woensdag 'n hersiende begroting in die parlement voorlê.
Om pyn toe te dien aan armes en die werkersklas is nie 'n pad na ekonomiese groei en welvaart nie, het Matthew Parks, woordvoerder van Cosatu, die naweek in 'n verklaring gesê.
Cosatu het agt dinge op sy wenslysie vir die derde poging van die begroting:
1. Verhoog steun aan Eskom om te verseker beurtkrag en ladingverligting is iets van die verlede en sodat verbruikers en nywerhede betroubare en bekostigbare elektrisiteit kan kry;
2. Verskerp ingrypings by Transnet en Metrorail sodat die mynbou-, vervaardiging- en landbousektor inkomste en werk kan skep, en sodat pendelaars veilige en goedkoop vervoer na hul werk het;
3. Stel dringende maatreëls in plek om die groeiende getal wanfunksionele munisipaliteite te stabiliseer en te herstel, met 'n skuif na 'n nuwe finansieringsmodel;
4. Gee die nodige hulpbronne aan dienslewerende staatsdienste soos onderwys, gesondheid, wetstoepassing en binnelandse sake, insluitend die vul van kritieke vakatures;
5. Versnel die program vir openbare infrastruktuur, en pak die versperrings soos misdaad;
6. Ontwikkel 'n nuwe finansieringsprogram van sowel die openbare as private sektor om klein, middelslag- en mikro-ondernemings te steun, asook nywerheidsontwikkeling en uitvoerbedrywe;
7. Brei die openbare indiensnemingsprogramme drasties uit om vaardighede, opleiding en ervaring aan deelnemers te bied sodat hulle permanente werk kan vind; en
8. Verskaf verligting aan werkloses deur die armoedetoelae en ander welsynstoelaes teen inflasie te beskerm. Die ontvangers van dié toelaes moet toegang gegee word tot vaardigheidsontwikkeling en indiensnemingsgeleenthede.
Cosatu wil ook hê die tesourie moet die brandstofheffing onveranderd hou.
Volgens Parks is Cosatu steeds gekant teen enige verhoging van belastings op die werkersklas, veral BTW of persoonlike inkomstebelasting vir lae-inkomsteverdieners.
‘Gee meer vir SAID'
Cosatu meen staatsinkomste kan eerder verbeter word deur die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) van behoorlike hulpbronne - sowat R20 miljard - te voorsien om belastingontduiking en doeanebedrog te takel. Deur belastingvoldoening sodoende van 64% tot 70% oor die drie jaar van die mediumtermynbegrotingsraamwerk te verhoog, kan R120 miljard jaarliks bykomend ingevorder word, meen Cosatu. "Dit maak nie sin om dié wat hul belastings betaal te laat doodbloei, maar dié te ignoreer wat nie hul belastings betaal nie.
"Die land kan nie nog 'n pap begroting bekostig nie. 'n Aggressiewe pro-groei-fokus is nou meer kritiek as ooit."
‘Begin nasionale gesprek'
Nadat die begroting aanvaar is, moet 'n nasionale gesprek begin word oor wat die land se bestedingsprioriteite moet wees en wat uitgelaat kan word, asook die aanvaarbare inkomstestrome om dit te finansier. Dit sal volgens Cosatu 'n meer sinvolle debat moontlik maak in aanloop tot die mediumtermynbegrotingsraamwerk in Oktober, en dan 'n meer progressiewe, beslissende en pro-groei-begroting in 2026.
- francois.williams@24.com




















