Begroting

3de begroting sál groen lig kry, belowe Masondo

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Dr. David Masondo, adjunkminister van finansies. Foto: City Press
Dr. David Masondo, adjunkminister van finansies. Foto: City Press

Hy gaan geen vrae oor Begroting 3.0 beantwoord nie, maar hy is vol vertroue dat daar nie 'n Begroting 4.0 sal wees nie en dat die derde poging vanjaar wel goedgekeur sal word.

So het dr. David Masondo, adjunkminister van finansies, Donderdag geskerts gedurende 'n paneelbespreking op RMB se Think Summit in Kaapstad.

Amerika is belangrike mark vir SA

Oor pres. Cyril Ramaphosa se besoek volgende week aan die Withuis het Masondo bevestig dat Amerika 'n baie belangrike mark vir Suid-Afrika is.

"Die regering sal aanhou om met die Amerikaanse regering te skakel. Daar is baie Amerikaanse maatskappye wat in Suid-Afrika sake doen, en Amerikaanse invoertariewe raak hulle ook."

Dit is in die belang van internasionale ekonomiese groei dat dié probleme opgelos word.

Hervormings vorder

Die regering is ook gedurig in gesprek met kredietgraderingsagentskappe om te wys dat hervormings aan die gang is om ekonomiese groei aan te wakker, sê Masondo.

Dis "in die belang van ekonomiese groei" dat staatskuld op 'n volhoubare vlak gehou word. Om belegging te lok, moet kapitaal bekostigbaar wees, en moet die premie op staatskuld nie buitensporig raak nie.

Dit is deel van die poging om mededingend te wees.

Operasie Vulindlela is 'n ander manier wat die regering wil gebruik om die ekonomie mededingender te maak.

Fase 1 van die inisiatief het grootliks op die netwerkbedrywe - energie, vervoer en telekommunikasie - gefokus.

Baie van die nodige hervormings het nie geld nodig van die staatskas nie. Dit is bloot reëls wat moet verander.

Sekere regulasies spruit uit jare gelede en is nie meer van toepassing nie, sê hy.

Logistiek en water

Wat logistiek betref, is die volgende stap om private deelname in spoorlyne en hawens te realiseer.

Daar is 97 aansoeke vir private deelname aan spoorvervoer, wat belowend is.

LEES OOK | Goeie nuus vir pendelaars: Private passasierstreine op pad

'n Onafhanklike reguleerder moet nog gevestig word om te bepaal wat die tariewe moet wees vir operateurs op die spoornetwerk, want Transnet sal nou saam met private operateurs op die spoorlyne meeding.

Soos die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap, sal 'n nasionale waterinfrastruktuuragentskap geskep word om waterinfrastruktuur te bou en te bestuur.

Nog 'n hervorming is om 'n skeiding te skep tussen 'n waterdienste-owerheid en 'n waterdiensverskaffer. Tans is dit in een entiteit geïntegreer. Maar die skeiding is nodig sodat die waterdienste-owerheid 'n ander entiteit van buite as waterdiensverskaffer kan aanstel.

Daar is nog net twee munisipaliteite wat dié skeiding het waar private maatskappye waterdienste verskaf.

Daar is planne by nog 'n paar munisipaliteite wat met dié skeidingsproses begin het. Dit is nog 'n groot geleentheid vir private investering, volgens Masondo.

LEES OOK | Só kan SA se waterkrisis opgelos word

Van die nuwe hervormings as deel van Fase 2 van Operasie Vulindlela is dat die munisipale handelsfunksies van nutsdienste soos elektrisiteit en water as afsonderlike, onafhanklike entiteite geskep word wat hul eie finansiering kan reël, en om hul inkomste te omhein sodat dit teruggeploeg kan word om infrastruktuur in stand te hou.

Die ander nuwe hervorming fokus op behuising en om stadsverdigting te versnel.

Lesse uit Fase 1

Die les uit Fase 1 was volgens Masondo dat dit die beste is om net op 'n paar spesifieke, kritieke sake toegespits te wees.

Nog 'n les is om groter samewerking binne die regering te skep. Omdat die inisiatief in die presidensie gesetel is, kon beter daarin geslaag word om silo's tussen verskillende staatsdepartemente en entiteite af te breek en nouer samewerking te behaal.

Om met die private sektor saam te werk, het ook baie gehelp om van die rompslomp en vertragings uit die weg te ruim.

Vertragings weens regstappe

Vertragings weens regstappe is wel van die aspekte wat volgens Masondo nie behoorlik in ag geneem is nie.

Enige hervorming ontlok weerstand binne en buite die regering.

Daar is mense met diepgewortelde, gevestigde belange wat versteur word deur die hervormings, en dan doen hulle stappe om hul belange te beskerm, wat tot vertragings lei.

Dit is dus een van die belangrike lesse om uit te klaar wat gedoen kan word om dié hofsaak-verwante vertragings te oorkom.

- francois.williams@24.com

CTA