Begroting

‘Apartheidsbelasting’ kan R20 mjd. oplewer, sê EFF

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Omphile MaotweFoto: Gallo Images
Omphile MaotweFoto: Gallo Images

Parlementslede van die EFF en die MKP het Vrydag eers gestry oor prosedure, met meer as 'n halfuur wat vermors is voordat Enoch Godongwana, minister van finansies, die finansiële komitees van die parlement oor die begroting kon toespreek.

Omphile Maotwe van die EFF en Des van Rooyen en Brian Molefe van die MKP het gekla dat Godongwana die vergadering aanlyn bywoon pleks van om fisiek in die lokaal te wees.

Die twee adjunkministers van finansies, dr. David Masondo en Ashor Sarupen, dr. Duncan Pieterse, direkteur-generaal van finansies, asook Edward Kieswetter, kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, was wel almal self teenwoordig in die Goeie Hoop-sentrum op die parlementsterrein in Kaapstad waar die vergadering gehou is.

Van Rooyen wou hê die vergadering moet uitgestel word totdat Godongwana in persoon die vergadering kan bywoon.

Mmusi Maimane, leier van Bosa en voorsitter van die staande komitee oor toedelings, het by die parlementslede gesmeek dat 'n uitstel van die vergadering die parlement se werk net moeiliker maak en die druk oplaai, want die Nasionale Raad van Provinsies kan eers einde Julie oor die begroting besluit.

Hibridiese vergaderings is die werklikheid waarmee gewerk moet word, het Maimane gesê.

Molefe het gekla Godongwana was Donderdag wel in persoon op 'n ontbytgeleentheid van sakelui, so hy wou weet om watter rede hy die parlementskomitees nie in persoon kan toespreek nie.

Godongwana het gesê hy het eers gedog die vergadering sou Donderdag wees - die dag ná die begrotingsrede, soos gewoonlik, en was gereed daarvoor.

Omphile Maotwe, EFF-LP, sê 'n "apartheidsbelasting" moet ingestel word. Foto: Gallo Images
Omphile Maotwe, EFF-LP, sê 'n "apartheidsbelasting" moet ingestel word. Foto: Gallo Images

Risiko's

Pieterse het uitgestippel hoe die internasionale ekonomiese omgewing in die laaste paar maande vir Suid-Afrika verswak het sedert die eerste begroting in Februarie.

Plaaslik is logistieke probleme en bestedingsdruk waarvoor daar nie geld is nie 'n risiko.

As inflasie langer laag bly en mense steeds van hul aftreegeld uit die tweepotstelsel onttrek, kan dit 'n positiewe inspuiting vir verbruikersbesteding wees. Volgehoue investering in alternatiewe kragopwekking kan ook groei aanhelp, sê Pieterse.

Nie besuiniging nie

Maotwe het aangevoer die jongste begroting is 'n besuinigingsbegroting. "Enige verhoging in besteding wat nie in pas met inflasie is nie, is effektiewelik 'n besnoeiing."

Pieterse sê inflasie gaan in die volgende drie jaar na verwagting 4,2% per jaar wees, terwyl die gemiddelde groei in besteding in die begroting hoër as inflasie is, wat impliseer dat dit nie 'n besuinigingsbegroting is nie. Items soos infrastruktuur gaan byvoorbeeld teen 11,1% groei.

Godongwana sê besteding word nie besnoei nie. Dit groei bloot minder as wat aanvanklik beplan is.

Brandstofheffing

Maotwe sê die EFF verwerp die verhoging in die brandstofheffing. Dit gaan net R3,5 miljard meer invorder, maar dit raak almal.

Nonhlanhla Mkhonto van die EFF wou weet watter politieke party voorgestel het dat die brandstofheffing verhoog word.

Volgens Godongwana word die begroting onder sy toesig deur die tesourie saamgestel en dan deur die kabinet as beleidstandpunt goedgekeur.

Alan Beesley van ActionSA is ook erg gekant teen die verhoging in die brandstofheffing, wat volgens hom geen sin maak nie.

Chris Axelson, belastinghoof van die tesourie, sê die brandstofheffing is laas op 7 April 2021 verhoog. Die verhoging van 4% in die heffing is nie bedoel om die verhoging in belasting op toegevoegde waarde (BTW) te vervang nie. Dit sal in die volgende drie jaar R12 miljard ekstra invorder, teenoor die R75 miljard in drie jaar wat die BTW-verhoging sou inbring.

Enoch Godongwana, minister van finansies, Woensdag op die mediakonferensie voor sy begrotingsrede. Foto: Jaco Marais
Enoch Godongwana, minister van finansies, Woensdag op die mediakonferensie voor sy begrotingsrede. Foto: Jaco Marais

Blokkruiping

Maotwe het ook die "stille belasting van blokkruiping" gekritiseer.

Sy vra 'n eenmalige "apartheidsbelasting" op geld wat uit die apartheidsjare spruit, wat volgens haar meer as R20 miljard kan invorder.

Sy wou by Pieterse weet aan wie die tesourie verslag doen, want sy hoor hy het met leners in Washington in Amerika gepraat en hulle is "tevrede", maar die 64 miljoen mense in Suid-Afrika is ontevrede.

Sinawo Thambo, EFF-lid, sê dit blyk niks is geleer uit die laaste paar maande nie. Hy noem dit "misleidende konsultasie" dat geen alternatiewe voorstelle van politieke partye in ag geneem is in die begroting om die BTW-verhoging te vervang nie.

Volgens Godongwana het die EFF wel voorstelle ingestuur, maar toe hy die party nader om te vergader, het niemand opgedaag nie.

‘Skep eers werk, dan sal die ekonomie groei'

Sanele Mwali van die MKP wou weet hoe ekonomiese groei tot werkskepping gaan lei. Volgens hom moet mense eers werk gegee word, dan kan die ekonomie groei.

"Dit moet andersom wees, ons moet eers werk skep en dit sal tot ekonomiese groei lei. Dit sal inval by die Nasionale Ontwikkelingsplan om 11 miljoen poste teen 2030 te skep en werkloosheid tot 0,6% te verlaag, maar in 2025 is (uitgebreide) werkloosheid op meer as 40%."

- francois.williams@24.com

CTA