Begroting: Dís waar partye staan

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Enoch Godongwana, minister van finansies. Foto: Jaco Marais
Enoch Godongwana, minister van finansies. Foto: Jaco Marais

Lede van die Nasionale Vergadering stem Woensdag oor die fiskale raamwerk en die inkomstevoorstelle - die kern van Enoch Godongwana, minister van finansies, se begroting.

Dit was Dinsdag reeds duidelik waar die vernaamste partye staan nadat ActionSA se voorstel aan die parlementêre staande komitee oor finansies deur die ANC en IVP gesteun is.

Die grootste geskilpunt is die voorgestelde styging van 'n halwe persentasiepunt in die huidige en volgende boekjaar in belasting op toegevoegde waarde (BTW) wat Godongwana op 12 Maart in sy begrotingsrede aangekondig het.

Maar wat is die onderskeie partye se standpunte?

ActionSA

Dié party steun die fiskale raamwerk en inkomstevoorstelle onderhewig aan streng voorwaardes vir die nasionale tesourie om alternatiewe inkomstevoorstelle van die komitee te ontvang in plaas van die styging van 'n halwe persentasiepunt in BTW vir die 2025-'26-boekjaar.

Die party beveel aan dat die komitee alternatiewe inkomstevoorstelle en besparings op uitgawes aanbeveel om die begrotingstekort van R28 miljard te balanseer en dit binne 30 dae te finaliseer en by die komitee in te handig.

ANC

Dié party steun ActionSA se voorstel.

DA

Die party steun die wysiging van die fiskale raamwerk om die gekonsolideerde uitgawes vir die 2025-'26-boekjaar met R13,5 miljard te verminder, met R29,8 miljard vir 2026-'27 en R31,6 miljard vir 2027-'28.

Die party verwerp die styging van 'n halwe persentasiepunt in BTW vanaf 1 Mei, sowel as die voorgestelde styging in die 2026-'27-boekjaar.

EFF

Verwerp die voorgestelde BTW-styging. Die party is ten gunste van 'n wysiging aan die fiskale raamwerk om persoonlike inkomstebelasting aan te pas in pas met inflasie. Die party stel 'n 1,5%-verhoging in maatskappye se belasting in die 2025-'26-boekjaar voor, asook die bekendstelling van 'n welvaartbelasting op onderverbruikte grond en luukse grond (landgoedere). Die party is ook ten gunste van 'n welvaartbelasting op alle trusts wat voor 1994 tot stand gekom het.

MKP

Die MK-party ondersteun nie 'n styging in BTW nie en vra vir die aanpassing van persoonlike inkomstebelasting om voorsiening te maak vir inflasie.

Verskeie opsies vir finansiering word deur die party voorgestel, waaronder die versterking van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) om R800 miljard van belastingontduikers in te vorder; die beëindiging van onwettige finansiële uitvloei en oordrag-prysmanipulasie; 'n welvaartbelasting; 'n styging in maatskappybelasting met een persentasiepunt; die beëindiging van korrupsie en verkwiste uitgawes en om die kabinet tot 20 ministers te verminder en alle adjunkministers af te skaf.

IVP

Steun ActionSA se voorstel.

Rise Mzansi

Dié party stem ten gunste van ActionSA se benadering. Suid-Afrikaners kan nie nog belasting bekostig in die lig van die hoë werkloosheidsyfer en swak ekonomiese groei nie, daarom verwelkom die party die geleentheid om vir alternatiewe voorstelle vir BTW en persoonlike inkomstebelasting te soek.

Daar moet volgens die party besluit word of 'n 1%-styging in maatskappybelasting en 'n geteikende welvaartbelasting vir superrykes oorweeg moet word; of staatsamptenare 'n salarisverhoging van bo inflasie moet ontvang terwyl dit reeds R832 miljard beloop; of die SRD-toelae van R35 miljard omgeskakel kan word in 'n belegging vir jeug- ekonomiese ontwikkeling en of enige ekwiteitsbeleggings verkoop kan word, soos die regering in 2015 gedoen het toe hy sy aandeel in Vodacom verkoop het wat deur die Openbare Beleggingskorporasie opgeneem is.

- philda.essop@24.com

SPELETJIES VANDAG

CTA