Begroting

BTW: Ja óf nee, ‘armes gaan ly’

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Enoch Godongwana, minister van finansies. Foto: Jaco Marais
Enoch Godongwana, minister van finansies. Foto: Jaco Marais

Of die verhoging in belasting op toegevoegde waarde (BTW) op 1 Mei in werking tree of nie, die armste Suid-Afrikaners gaan die ergste daardeur geraak word.

Dít blyk uit die argumente van die voorstanders vir 'n styging, asook die kritici wat daarteen gekant is.

Fel kritiek het oor 'n wye spektrum deur politieke partye, organisasies en vakbonde opgeklink sedert Enoch Godongwana, minister van finansies, se aankondiging van 'n BTW-verhoging van 'n halwe persentasiepunt vir die huidige en volgende boekjaar in sy begrotingstoespraak op 12 Maart.

Minstens twee politieke partye - die DA en die EFF - het hulle tot die hooggeregshof in Kaapstad gewend.

‘Onwettig en ongeldig'

Die DA voer in hofstukke aan dat die proses vir die aanvaarding van die begroting in parlementêre komitees, waartydens die fiskale raamwerk en inkomstevoorstelle op 1 April aanvaar is, ongeldig en onwettig was.

Dié proses het 'n niebindende aanbeveling ingesluit dat die nasionale tesourie 30 dae vanaf 1 April het om die BTW-styging te heroorweeg en alternatiewe inkomstebronne daarvoor te vind. Die DA, sowel as die EFF, voer aan dat wetgewing geen voorsiening maak vir so 'n "aanbeveling" nie.

Die DA voer aan die parlementêre finanskomitees het nooit oor die bewoording van die finale verslag oor die fiskale raamwerk en inkomstevoorstelle gestem nie. Die komitee het bloot die raamwerk klousule vir klousule oorweeg sonder 'n finale weergawe wat 'n duidelike standpunt uiteensit. Verder voer die DA aan dat 'n duidelike verklaring wat die fiskale raamwerk en inkomstevoorstelle aanvaar of wysig, nooit aan die komitees vir finale aanvaarding voorgelê is nie en nooit verskyn het in die weergawe van die verslag wat die komitees oorweeg het nie.

Die verklaring dat die raamwerk aanvaar is, is eers ná die vergadering ingevoeg.

Die party vra die hof om die besluit om BTW te verhoog as ongrondwetlik en onwettig te verklaar en eis dat dit hersien en tersyde gestel word.

Die BTW-styging is veronderstel om op 1 Mei in werking te tree.

‘Ernstige skade vir fiskus'

Godongwana - wat aanvoer dat hy nie die besluit ligtelik geneem het nie en dat dit 'n "laaste uitweg" was - hou egter vol dat as die BTW nie op 1 Mei in werking tree nie, dit "ernstige skade" vir die fiskus inhou.

Hy het Woensdag in sy beantwoordende hofstukke gesê "beduidende en onmiddellike skade" sal volg indien sy aankondiging opgeskort word.

Die tesourie het beraam dat die 2025-'26-begroting op die aanname gegrond is dat die BTW-styging gemiddeld R13,5 miljard in bykomende inkomste in die huidige boekjaar sal genereer.

"As die verhoging nou gestop word, sal daardie inkomste verlore wees en sal die staat sonder die finansiering gelaat word om te voldoen aan besteding waarvoor daar reeds begroot is."

‘Armes en kwesbares disproporsioneel geraak'

Die regering en publiek sal volgens hom ly as die regering die vermoë geweier word om bykomende inkomste deur die BTW-aanpassing in te vorder.

"Die gevolge sal ernstig en verreikend wees. Die regering sal dadelik gedwing word om óf besteding te besnoei óf om meer geld te leen. Albei opsies hou risiko's in," lui sy hofstukke.

Besteding sal waarskynlik noodsaaklike onderwys, gesondheidsorg, behuising en maatskaplike beskermingsprogramme raak.

"Dit raak die armes en kwesbares disproporsioneel. Verhoogde lenings sal verdere druk op die fiskus plaas, beleggersvertroue ondermyn en die koste van openbare skuld verhoog.

"Die uitkomste sal inmeng by die versigtige fiskale balansering wat die nasionale begroting ondersteun en kan 'n opstapeling van skade tot gevolg hê, insluitend afwaartse aanpassings van kredietgraderings, ontwrigting met dienslewering en breër ekonomiese onstabiliteit. Dit sal waarskynlik ook lei tot meer beduidende belastingverhogings in die toekoms."

‘Nie ongeldig'

Godongwana wys voorts daarop dat enige beweerde onreëlmatigheid in die aanvaarding van die fiskale raamwerk nie sy aankondiging ongeldig maak nie. "Slegs 'n wet van die parlement kan 'n koersverandering bevestig of oorheers."

Kragtens art. 7(4) van die BTW-wet kan slegs 'n wet van die parlement sy besluit oor die BTW-styging bevestig of wysig deur die relevante Wetsontwerp oor Belastingkoerse en Wysigings van Inkomstewette te aanvaar of om dit te wysig.

Hy wys ook in sy hofstukke daarop dat die DA gedurende besprekings met politieke partye vir die vorming van die regering van nasionale eenheid bereid was om 'n BTW-verhoging van 'n halwe persentasiepunt te ondersteun.

- philda.essop@24.com

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM