Begroting

‘Era van eensydige besluitneming deur ANC is verby,’ sê Solidariteit

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Dr. Dirk Hermann, uitvoerende hoof van die Solidariteit-beweging.  Foto: Rapport
Dr. Dirk Hermann, uitvoerende hoof van die Solidariteit-beweging. Foto: Rapport

Die era van eensydige besluitneming deur die ANC is verby.

Solidariteit het Woensdag só gereageer nadat Enoch Godongwana, minister van finansies, in 'n skokwending nie sy geskeduleerde begrotingsrede in die Nasionale Vergadering gelewer het nie. Dit was hoofsaaklik weens onmin onder die partye in die regering van nasionale eenheid (RNE) oor die plan om belasting op toegevoegde waarde (BTW) met twee persentasiepunte tot 17% te verhoog.

Volgens Solidariteit skep die besluit om die begrotingsrede uit te stel die indruk van interne wrywing in die RNE. Dit stuur ook 'n boodskap van onsekerheid uit na die publiek en die internasionale gemeenskap.

Die vakbond glo die besluit deur ander partye in die RNE om voet neer te sit teen die ANC se "skadelike beleidsrigtings" kan as 'n positiewe stap beskou word.

Enoch Godongwana, minister van finansies. Foto: Daily Sun
Enoch Godongwana, minister van finansies. Foto: Daily Sun

"Die gevaar wat dit vir beleidsekerheid inhou, is egter 'n werklikheid en dit moet erken word. Dit is nietemin eerstens 'n duidelike boodskap dat die era van eensydige besluitneming deur die ANC verby is, en dat samewerking en onderhandelinge nou die kern van beleidsrigtings moet wees," lui die verklaring.

Die "vermetelheid" van Godongwana om op die dag van die begrotingsrede eers goedkeuring vir kritieke beleid te probeer kry, dui volgens Solidariteit op 'n groter probleem binne die RNE.

Inligting is deur Solidarteit ontvang dat Godongwana die BTW-verhoging by sy toespraak sou ingesluit het sonder om sy vennote in die RNE vooraf te raadpleeg. "Dié gebrek aan deursigtigheid en konsultasie sou onaanvaarbaar wees en ondermyn die geloofwaardigheid van die regering se veronderstelde samewerkende aard."

Godongwana het egter op 'n mediakonferensie volgehou ministers het geweet van die BTW-voorstel, hoewel nie van die twee persentasiepunte nie.

LEES OOK | Detail oor BTW was geheim, sê Enoch, maar ministers ‘hét geweet'

Suid-Afrika beleef tans 'n diplomatieke krisis en fel ekonomiese druk, sê Solidariteit. "In dié konteks is 'n samehorige en funksionele regering van groot belang. Dit is dus noodsaaklik dat die ANC besef hy regeer nie meer alleen nie.

"Net só moet alle vennote in die RNE hul rol ernstig opneem en waak teen enige neigings tot magsvergryp."

- philda.essop@24.com

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM