Begroting

Geen styging in suikerbelasting

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Foto ter illustrasie, iStock.
Foto ter illustrasie, iStock.

Rolspelers in die suikerbedryf sal 'n sug van verligting slaak aangesien die inflasionêre verhoging in die sogenaamde suikerbelasting nie in April in werking gaan tree nie.

Die regering stel voor dat die verhoging in die gesondheidsbevorderingsheffing gekanselleer word om die suikerbedryf meer tyd te gee om te herstruktureer in reaksie op mededinging in die streek.

Dié verwysing in die nasionale begroting stem ooreen met die verwerpte begroting van drie weke gelede.

Dit gaan teen 'n veldtog van die organisasie Heala, wat Enoch Godongwana, minister van finansies, probeer oortuig het om die suikerbelasting tot 20% te verhoog en om 100%-vrugtesappe ook in te sluit.

‘Vernietigende belasting'

In teenstelling daarmee het die Suid-Afrikaanse Suikerrietkwekersvereniging egter sowat ses weke gelede 'n beroep op Godongwana gedoen om die "vernietigende" belasting te skrap.

Die vereniging, wat 24 000 kleinskaalse en 1 200 grootskaalse suikerrietboere in KwaZulu-Natal en Mpumalanga verteenwoordig, het die veldtog deur gesondheidsaktiviste as "onverstandig" bestempel en gesê dit sal die verdere verlies van lewensbestaan in landelike gebiede tot gevolg hê indien dit toegestaan word.

Volgens die vereniging het die suikerbelasting, toe dit aanvanklik in 2018 ingestel is, tot meer as 16 000 werksverliese gelei asook R2 miljard in die verlies aan inkomste net in die eerste jaar alleen.

Hulle het gewaarsku dat enige uitbreiding of styging in die belasting soortgelyke ekonomiese vernietiging op Suid-Afrika se suikerbedryf sal loslaat en duisende mense hul werk sal kos.

• Die DA het aangedui dat hy enige belastingverhoging gaan teenstaan. Die parlement moet nog die begroting goedkeur. Dit is dus in dié stadium alles voorstelle.

- philda.essop@24.com

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM